Deur Margaret Gardiner
Hoe beskryf jy dit om in die teenwoordigheid van die smeulende rolprentster, akteur, regisseur, vervaardiger, skrywer en Oscar-wenner George Clooney te wees? Jy ken daardie perfekte somersmiddae wanneer die lug soel is, die lig goudpienk en alles in harmonie is? Dit voel amper só.

Ek ondervra mnr. Clooney al dekades lank, en het die voorreg gehad om verskeie geleenthede saam met hom by te woon in die aanloop tot sy nuwe fliek, Jay Kelly, wat hierdie week op Netflix vrygestel is, en deur die Oscar-benoemde Noah Baumbach geregisseer is. Daarin beeld George, wat oor die jare in ses verskillende kategorieë vir ’n Oscar-toekenning benoem is, ’n clueless rolprentster uit. Hy speel iemand wat meer oor sy verhouding met aanhangers en sy openbare persona gepla is, as wat hy die gemors van sy eie lewe wil hanteer.
Ons, die kykers, sien hom waar hy van sy dogters vervreemd is, hy ’n oppervlakkige bestaan voer en sy beste vriend sy bestuurder, Adam Sandler, is. Vir dié rol het Adam die lawwigheid van baie van sy komedies weggepak en ’n genuanseerde, subtiele vertolking gelewer van iemand wat in sy kliënt glo en die beste vir hom wil hê, en baie persoonlike opofferings maak sodat sy “ster” homself kan verwesenlik. Dat die ster enigiets wat oor sy pad kom as sy “reg” aanvaar sonder enige begrip van die gevolge vir die persoon wat vir hom intree, demp nie die bestuurder se ondersteuning en moeite nie.
George is wonderlik as die effens verwaande akteur, Jay Kelly, wat ’n eksistensiële krisis beleef, en wat pynlik besef dat hy meer sal moet doen as om net te glimlag as hy in sy mense se lewe teenwoordig wil wees. Dis ’n meesterlike vertolking waar George sy talent vir komiese tydsberekening tentoonstel. Baie mense neem aan dat die akteur bloot homself uitbeeld, maar dis nie die geval nie.

Foto: Verskaf/Netflix
Hoewel George Clooney ongetwyfeld ’n rolprentster is, is hy ver verwyderd van die selfgesentreerde ster wat hy in Jay Kelly uitbeeld. Hy is uitgesproke oor moeilike onderwerpe, vrygewig met die pers, en bewus op ’n spesifieke vlak van wat diegene wat minderbevoorreg is, verduur. Hy sal in ’n vertrek bly en sorg dat elke persoon ’n foto saam met hom kry – en almal kry dit. Hy deel foto’s van sy kinders, Alexander en Ella (8), en verwys gereeld na sy vrou, Amal, met respek en ’n mate van ontsag.
Hy is bekend daarvoor dat hy dieselfde Armani-pak na opeenvolgende rooitapytgeleenthede dra en hou by die lense van die modeverslaafdes verby. Hy het my aan Amal voorgestel toe hy haar die eerste keer na die Golden Globes gebring het, en sy was so aangenaam en lieflik soos jy sou verwag. Hy is ’n bekende poetsbakker en vertel dat sy seun dié eienskap geërf het. Hy het eenkeer, terwyl Matt Damon by hom aan die Amalfikus in Italië gekuier het, sy klere na ’n kleiner nommer verander. Matt het gedink hy tel gewig op! Dié twee het al telkens poetse vir mekaar gebak.
“Daar is niks soos twee agtjarige kinders wat gelyktydig op jou opgooi om jou voete op die grond te hou nie,” merk George op toe hy gevra word oor hoe hy die strik vermy om sy eie publisiteit na sy kop te laat gaan soos wat sy karakter in Jay Kelly doen. “Ek het op ’n tabakplaas in Kentucky grootgeword en later in my lewe beroemd geword, so dis ’n bietjie makliker om nie die krediet te neem vir dinge wanneer dit goed gaan nie, of die skuld wanneer dit sleg gaan. Dit help my om as mens standvastig te bly. Maar as akteur is dit lekker om nie gegrond te wees nie. Ek kan vry wees en die rol verstaan. Daar is baie waarmee ek van Jay Kelly kan vereenselwig, maar daar is ook baie wat ek nie verstaan nie.”

Op die vraag of rolprentsterre nie meer so groot soos altyd is nie, verwys George na Robert Redford en Paul Newman as “die laaste rolprentsterre van daardie generasie wat ’n rolprent se sukses weens hul name gedryf het”.
Hy noem dat hul misterie eg, maar tog verwyderd was. “Sterre bestaan egter steeds. Die publiek raak steeds verlief. Kyk maar na Zendaya of Timothée Chalamet en hulle doen ook baie interessante projekte. Sterre ontstaan steeds, maar nie op dieselfde vlak nie. Ons kyk nou na mekaar op klein skerms. Rolprentsterre is op skerms van 60 voet hoog geskep. Daar is die aanhaling uit die klassieke rolprent, Sunset Boulevard: ‘Dis die prente wat klein geword het.’ So miskien is dit dit.”
Jy sal nie George hoor kla oor hoe moeilik dit is om beroemd te wees nie. “Ek het ’n buitengewone lewe. Miskien sal ek soms jaloers raak omdat roem so beperkend kan wees, maar ek kla nie daaroor nie. Ek het agt of nege jaar lank dramaklasse geneem, wat ek nie kon bekostig nie. Ek moes gewerk het. Ek het hierdie wonderlike akteurs gesien, en dit was dikwels nie die beste akteur wat dit gemaak het nie. Sommige werk steeds en ander nie. Ná 43 jaar in die bedryf is daar steeds die kameraadskap, want ons almal het hierdie hoop en drome gehad. Ek het in my vriende se woonstel geslaap en na oudisies fietsgery. My vriende het werk gekry en ek was opgewonde vir hulle. Wanneer iemand werk gekry het, het ons uitgegaan omdat hulle daardie aand drankies kon bekostig. Daardie gedeelde ervaring en die herinnering aan TV-programme wat jou terugbel was so opwindend.”
“Ek het met roem grootgeword. My pa was ’n TV-aanbieder en my tante, Rosemary, ’n bekende sangeres. Maar teen die tyd dat ek op hoërskool was, was sy lankal nie meer beroemd nie. Die rede het niks met haar talent te doen gehad nie. Sy was ’n popsangeres in die jare vyftig en rock en roll het gekom en haar soort sang was verby. Deels was dit ook omdat sy in slegte gewoontes, soos drank, verval het en dit het haar loopbaan redelik erg benadeel. Ek het dus ’n groot voordeel gehad om te verstaan hoe erg jy dinge kan opmors en hoeveel jy dinge as vanselfsprekend kon aanvaar. Jy jaag nie roem na nie, maar jy wil regtig werk. Die kenmerke van werk is roem.”
“Wanneer jy dit die eerste keer kry, is dit pret. Dis soos ’n mot wat deur kerslig aangetrek word. Jy gaan soontoe en skielik word jy gebrand. Al hierdie ander dinge kom met roem. Dit gesê, ek het dameskoene verkoop. Ek het versekering van deur tot deur verkoop en ek het tabak vir $3 per uur gesny. Ek sou geïrriteerd raak as ek iemand beroemd sien praat oor hoe moeilik hul lewe was.” Hy trek sy skouers op oor die negatiewe aspekte van roem. “Ek het ’n ware belangstelling in mense. As jy by ’n geleentheid gaan wees, kan jy net sowel betrokke wees. Jay Kelly omring homself met al hierdie dinge wat hom beskerm om met mense te praat. Wat doen ons as ons nie kan praat en by mekaar kan leer nie?”

George en Amal Clooney (Foto: Gareth Cattermole/Getty Images vir BFI)
“Ek hou daarvan om myself uit te daag. Ek het so pas ’n toneelstuk op Broadway gedoen wat ek geskryf het. Ek het al die woorde gehad. Wanneer jy 64 jaar oud is, is dit regtig moeilik om goed te onthou. Ons het loketrekords gebreek en ek was bang om almal teleur te stel. Die lekker deel is die uitdaging; dis opwindend. Ek is op die ouderdom waar mense aftree. My pa is 90 jaar oud en skryf steeds vir die koerant. Ek het gefokus op regie en storievertelling, want die toneelspelrolle was nie interessant nie. Jay Kelly was uitdagend. Dit het my gehelp om weer op toneelspel verlief te raak. Noah is ’n wonderlike regisseur. Ek kon weerloosheid verken, wat lekker is. Om betrokke te wees, is belangrik (want soos ons ouer word) verloor ons ons plek in die samelewing.”
KYK | George Clooney oor watter George hy wou wees toe hy Amal ontmoet het.

Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Margaret uit Hollywood: Reba McEntire, die Koningin van Country, maak opslae op 70
