kategorieë: Gesondheid

Mastektomie se silwer randjie


My reis van hoop

As jy my ses maande gelede, voor my eie diagnose, vir ’n mening gevra het oor borsrekonstruksie al dan nie, sou die vooruitsig van ekstra operasies en vreemde voorwerpe in my lyf my dalk daarteen laat besluit het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Maar word jy self die gevallestudie, lyk dinge heel anders. Toe die chirurg verduidelik dat ek ’n dubbele mastektomie moet kry en dat ’n onmiddellike rekonstruksie ’n goeie idee sou wees, was ek so geskok dat ek beswaarlik reguit kon dink. Ná ek by die plastiese chirurg was en hy my vrese besweer het, het die rekonstruksie die positiewe anker in my stormsee geword.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

’n Mens is aanvanklik so verlam deur ’n kankerdiagnose en die vooruitsig van ’n mastektomie, dat jy amper nie vooruit kan dink nie. Skielik voel die kosmetiese aspek so onbenullig in vergelyking met die swaard wat oor jou kop hang.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Maar jy moet onthou dat dit nie die einde van die pad is nie; bloot die begin van ’n nuwe reis. Hoe gouer jy dus pro-aktief begin optree, hoe gouer gaan jy weer in beheer voel.

Vir my was die rekonstruksie uiteindelik ’n simbool van ongelooflike nuwe hoop. Ek was nooit waffers bedeeld nie en boonop
baie sportief, so borste was nie hoog op my prioriteitslys nie. Tog was die vooruitsig van ’n plat, harde borskas vir my ’n droewige gedagte. Dit was asof ek nooit weer “reg” sou voel nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die vonnis van ’n dubbele mastektomie was aanvanklik vir my ’n wrede uitspraak. Nou is ek bly dat ek nie ’n keuse gehad het nie en van albei borste en ’n ewige geknaag aan my senuwees ontslae geraak het. Boonop het dit die rekonstruksie vergemaklik omdat dit makliker is om die simmetrie reg te kry as albei borste gelyktydig gedoen word.

Die ander voordeel is dat die nuwe borste jou ’n ander fokus gee en die dreigende depressiewolk opsy skuif. Ek het ook ervaar dat mense se reaksie teenoor my gemakliker was omdat my ervaring ’n positiewe wending geneem het.

Boonop is ek baie in my noppies met my nuwe bates. In my geval het dit presies drie maande geduur van mastektomie en onmiddellike weefselrekking tot die tweede fase van finale inplanting van die prosteses. Ek gaan weliswaar nie vir Scarlet Johansson onttroon nie, maar ek voel en lyk niks minder vroulik as voorheen nie.

Tog treur jy steeds oor jou vorige borste, al was hulle te klein, te groot of het dit op jou naeltjie gehang. Dit was immers joune. Maar sodra jy jou ingesteldheid verander het en die besluit geneem het om positief hierna te kyk, is dit beslis ’n reis van hoop.

Rekonstruksie of nie?

“Buiten die uitsonderings op die reël, gee ek vir almal die keuse van ’n rekonstruksie”, sê ’n chirurg dr. Konrad Teichert van die Olivedale-kliniek in Johannesburg. “Ek sê altyd vir pasiënte hulle moenie ’n besluit neem voor hulle nie ’n plastiese chirurg gaan sien het nie. ’n Mastektomie kan wel jou lewe red, maar om ’n bors te verloor is vir ’n vrou soos die amputasie van ’n ledemaat en ek wil hê sy moet weet daar is opsies en dat sy ’n keuse het.”

Daar is ’n paar indikasies dat ’n rekonstruksie nie uitgevoer kan word nie: as die kanker in ’n gevorderde stadium is en na ander organe versprei het, of as die pasiënt verswak is weens ander gesondheidsprobleme. Plastiese chirurge opereer ook nie almal op baie oorgewig mense en rokers nie. Vetsug en rook beïnvloed wondgenesing en daar is vele studiebevindings wat bewys dat nikotien die bloedsomloop na die vel benadeel. “Dié soort operasies sluit baie keer mikrochirurgie in wat net suksesvol kan wees as die risikofaktore so laag moontlik gehou word.” Ná ses rookvrye maande kan chirurgie heroorweeg word.

Sommige pasiënte besluit aanvanklik teen ’n rekonstruksie en kom weer later terug as hulle aan die idee gewoond geraak het. Sommige pasiënte wil net van die aangetaste weefsel ontslae raak en is daarna heeltemal gelukkig sonder ’n rekonstruksie.

Een of albei borste?

As jy borskanker in die een bors het, is die risiko altyd hoër dat jy kanker in die ander bors ook kan kry. Die soort kanker sal bepaal of jou chirurg jou gaan aanraai om terselfdertyd die gesonde bors ook te verwyder. As die risiko nie so groot is nie, sal die plastiese chirurg net die gesonde bors kosmeties aanpas om soos die nuwe bors te lyk.

“Soms bemoeilik chirurgie waardeur die bors gedeeltelik behou word, die kosmetiese uitkoms van ’n rekonstruksie, maar as ’n plastiese chirurg met die operasie by is, is dit soveel makliker om ’n aanvaarbare kosmetiese resultaat te kry”, verduidelik dr. James van der Merwe, ’n plastiese en rekonstruktiewe chirurg by die Wilgeheuwelkliniek in Johannesburg. Hy sê dit kan soms die moeite werd wees om ’n dubbele mastektomie te doen om die simmetrie vir ’n rekonstruksie te verbeter.

“Ons probeer altyd so min moontlik borsweefsel verloor as ’n gewas verwyder word. Soms kan die tepel gered word, maar dan moet dit bestraal word om veilig te wees en dit kompliseer weer rekonstruksie. As ’n gedeeltelike mastektomie gedoen word (lumpectomy), is die kosmetiese uitkoms op ’n kleiner bors ook soms minder bevredigend as wanneer ’n volle mastektomie gedoen word.”

Hoekom so haastig?

Asof dit nie erg genoeg is dat ’n kankerdiagnose soos ’n weerligstraal op jou neerslaan nie, kla vroue dat hulle boonop soos skape in ’n drukgang gejaag word om ’n besluit oor ’n rekonstruksie te neem. Dr. Teichert sê dat daar goeie rede vir ’n tydsbeperking is. “In die meeste gevalle word ’n diagnose ná ’n naald- of diknaaldbiopsie gemaak. Dan weet ons watter soort kanker dit is en of verdere terapie nodig sal wees.

“Ongelukkig het ons met die biopsie reeds die kankerselle versteur en wil jy dus so gou moontlik die aangetaste weefsel verwyder voor die kanker verder groei of dalk versprei. Ons glo dat een week geen verskil gaan maak nie, maar wil verkieslik nie langer as drie weke wag nie. Maar daar is nie iets soos ’n noodmastektomie nie. Jy het altyd ruimte vir besluite.”

Nou of later?

’n Rekonstruksie kan óf saam met die mastektomie uitgevoer word en dan werk die chirurg, rekonstruktiewe chirurg en onkoloog as ’n span saam óf dit kan enige tyd later gedoen word. Volgens dr. Van der Merwe is daar besliste voordele aan ’n onmiddellike rekonstruksie, maar niks keer jou om dit later te doen nie. “Die voordele is dat jy dit in een operasie kan kombineer en dus hersteltyd, pyn en onkoste verminder. Jy behou ook meer vel, asook die velvou onder die bors.”

Al oorweeg jy nie ’n rekonstruksie nie, is dit altyd beter om ’n plastiese chirurg voor die mastektomie te sien. “Die meeste chirurge sal die regte are agterlaat vir ingeval die pasiënt later ’n rekonstruksie oorweeg, maar soms nie. Hierdie are is belangrik as ’n rekonstruksie met jou eie weefsel gedoen word.”

Watter metode kies jy?

Daar is drie verskillende metodes wat vir ’n rekonstruksie gebruik kan word, afhangende van die soort mastektomie, kanker en terapie:

  • jou eie weefsel word gebruik en daarvoor word weefsel, vel en soms spiere uit jou rug, boude of maag geneem.
  • jou eie weefsel word ter wille van meer volheid met ’n prostese gekombineer
  • slegs ’n prostese word gebruik, soos in die geval van weefselrekking.

Die tepel word later chirurgies geskep en ’n tatoe verskaf die kleur vir die areola en tepel.

Die sukses van die prosedure berus op hoe goed jy die korrekte metode vir die regte kandidaat kies. Wêreldwyd is die goue standaard dat ’n rekonstruksie met jou eie weefsel ’n natuurlike resultaat verseker, maar nie alle pasiënte verkies die metode nie – dit is ’n groter operasie en jy het meer littekens.

Weefselrekking

In Suid-Afrika is 95% van alle rekonstruksies op weefselrekking gegrond.

Omdat die tepel buise bevat, moet dit in die meeste gevalle verwyder word. In die proses gaan ’n gedeelte van die vel verlore en die chirurg skep met behulp van ’n weefselrekking genoeg vel vir die rekonstruksie.

Daarvoor word ’n tydelike prostese, gevul met soutwater, onder die vel en borsspier ingeplant ten einde die holte te behou en die vel te rek. Dié lyk soos ’n driehoekige borsprostese maar dit het ’n gedeelte waardeur die chirurg die weefselrekker weekliks met ’n naald verder met soutwater kan opvul sodat die vel geleidelik gerek word.

Sodra die vel tot die regte grootte gerek het (dit duur gewoonlik drie tot ses maande) word die weefselrekker uitgehaal en deur die regte grootte prostese, gevul met silikoon of soutwater, vervang.

’n Weefselrekking hou baie voordele in: jy het nie ander littekens nie, die operasies is eenvoudiger en minder pynlik en daar is geen verlies aan funksionele spiere nie. Die nadele is dat dit twee operasie vereis, dit logisties moeilik is om weekliks vir oppompsessies te gaan as jy elders bly, die borste ongemaklik en soms erg pynlik vir ’n dag ná ’n oppompsessie is en die eindproduk altyd ronder en stywer voel as wanneer van jou eie weefsel gebruik is.



Terapie en rekonstruksie

“Rekonstruksie mag nooit met onkologie inmeng nie”, verseker dr. Van der Merwe. “As die onkoloog enigsins twyfel oor die behandeling, stel ons liewer die rekonstruksie uit.

“Ons sal ook nooit iets doen wat die pasiënt se behandeling of langtermynprognose benadeel nie. Silikoon is heeltemal veilig en daar is geen aangetekende gevalle van kanker agter ’n prostese nie.”

As jy bestraling moet kry, moet dit eers afgehandel word en ná die pasiënt ’n jaar lank “skoon” was, kan ’n rekonstruksie gedoen word. Bestraling verhoog die risiko dat ’n patologiese kapsel om die prostese vorm en verhard; dit verminder die bloedtoevoer en is ook geneig om die vel effens te verhard – wat dit selde geskik maak vir weefselrekking.
Metodes wat jou eie weefsel gebruik, is wel geskik.

Chemoterapie kan met ’n onmiddellike rekonstruksie versoen word. Die operasie sal eerste gedoen word en sodra jy herstel het, kan chemo begin.

As dit weefselrekking is, kan die weefselrekkers ingeplant en die rekking gedoen word. Dit word dan ingelos tot jy ’n breek in jou terapie het waar jou tellings gunstig genoeg is vir die volgende operasie.

Lees ook: Trauma na borskanker; vang dit jou?

Dis jou keuse

– Ek besluit daarteen Elize (skuilnaam) 50

Graad 2-kanker is drie jaar gelede in haar een bors gediagnoseer. “Die kanker was baie naby aan die been en ek moes eers chemo, toe bestraling en nou hormoonterapie kry. Die dokter het my die keuse van ’n rekonstruksie gebied, maar ek was so angsbevange dat ek nie die kans wou waag dat ek dalk nie ’n knop onder ’n prostese sou voel nie. Ek het dadelik besluit om die ander bors ook te laat verwyder. My man en kinders het my baie ondersteun. Ek het eers ’n bra met ’n prostese gedra, maar my lewenstyl is so aktief dat ek nou nie eens meer ’n bra dra nie. Ek dra los klere en swem kaalbolyf, draf en doen staproetes na hartelus. As ek weer moet kies, sou ek dieselfde besluit neem. My seksualiteit en vroulikheid word nie net deur my borste gedefinieer nie.

– Ek doen dit later Louise (68) skuilnaam

Ek het ná my mastektomie gevoel dis nie Christelik om so ydel te wees nie. Ek het ook gewonder of mense my nie sal veroordeel nie. Maar sewe maande later was ek terug vir ’n rekonstruksie aan die een bors. Ek was in ekstase daaroor. Nou voel ek weer “heel”.

– Dit pla my nie Carike Keuzenkamp (63)

Ek het 14 jaar gelede ’n mastektomie aan my een bors gehad. Ek is nie toe ’n keuse voor die tyd gebied nie en het net nooit agterna lus of tyd vir ’n rekonstruksie gehad nie. Vir my was dit genoeg om te weet ek is van die kanker ontslae. As dit vandag moes gebeur, sou ek waarskynlik vir ’n dubbele mastektomie kies en ’n rekonstruksie oorweeg het. Nogtans pla my plat bors my glad nie. Ek is net geweldig dankbaar dat ek lewe.

– Ek doen dit dadelik Cathy Beneke (39)

Ek is bitter bly dat ek ’n rekonstruksie kon kry. Ek is geskei en het gevoel dat ek graag weer iemand wil ontmoet en my selfvertroue sou sonder die rekonstruksie gewankel het. Ek het onmiddellik ’n weefselrekking aan albei borste gekies en die tepels is onlangs aangebring met ’n tatoe vir die areola. Ek is baie tevrede met die resultate, veral omdat die nuwe borste so ’n skootjie groter is!

Lees ook: Hare en kanker-behandeling: Wat jy moet weet

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.