Mila Guy is terug in ’n sepie en het onlangs haar verskyning in Suidooster op kykNET gemaak.
Dié aktrise speel Liné Ferreira, ’n enkelma van ’n 12-jarige dogter, Jenna (Judi Hattingh). Sy het sommer gou die oog van Aiden (Theodore Jantjies) gevang. En ja, daar is ’n nuwe romanse op Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, se horison.
Soos dit egter ’n liefdestorielyn in ’n sepie betaam, kom daar ’n kinkel of twee.

Mila vertel meer oor haar Suidooster-ervaring:
Hoe sal jy jou karakter Liné beskryf?
Ek sou haar beskryf as baie saggeaard. Sy’s ’n sterk mamma, ’n mamma-beer op ’n mooi manier. Dit is sy en haar dogtertjie teen die wêreld. Liné is rêrig ’n sterk vrou, dog saggies. Sy wys net nie maklik haar kwesbare kant nie. Sy’s net ’n mooi, lieflike mens.

Hoe was dit vir jou om weer jou sepie-skoene aan te trek?
Dit was vir my ongelooflik lekker! Ek is mal oor sepie [as vermaakplatform]. Dis so lekker. Jy gaan elke dag werk toe, jy doen waarvoor jy lief is, jy het ’n passie daarvoor. En jy vertel ’n lekker storie. Ek dink by Suidooster was dit net nog lekkerder, want die mense daar is ongelooflik. By die werk aangekom, het ek sommer dadelik soos familie gevoel. Almal is vriendelik, dis mooi. Dit was vir my net ’n baie geseënde ding wat hierdie jaar met my gebeur het. – die feit dat ek weer my sepie-skoene kon aantrek en weer ’n bietjie saam met hierdie lekker mense te speel.
Hulle laat my so goed voel op die stel. Ek het regtig gevoel ek is deel van die span. Hulle laat jou veilig voel en ek het lekker saam met hulle gelag. Dit voel of ek hulle al jare ken. Judi Hattingh (Jenna) wat ook my dogter gespeel het . . . dit was net so lekker om saam met haar te speel. En ook saam met Theodore Jantjies (Aiden). Ag, die lekker span. En ook om net weer ’n bietjie iets anders te kon doen.

Wat het jy geniet daarvan om by Suidooster te skiet
Dis lekker om met so ’n talentvolle meisie soos Judi te werk. Sy is so jonk, maar tog so inspirerend. Ek dink wanneer mens weer saam met jongmense werk, besef jy net weer jou liefde vir dit wat jy doen, en ook hoekom jy dit doen. Dis nie net ’n werk nie, dis rêrig ’n mens se droom wat jy lewe.
Dit was lekker om weer ’n bietjie te kon droom, te kon speel en te kon wees . . .

Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Hittegolf op hittegolf propvol drama dans rond in Suidooster-kykers dié feestyd
