Episode nege van Op my eish! het met ’n ontspanne, gesellige atmosfeer afgeskop, maar gou gewys dat die kompetisie vir tyd saam met Ruan al hoe ernstiger raak.
Die episode het begin met die dames wat oor ontbyt teruggekyk het op die vorige dag se aktiwiteite. JP het by hulle aangesluit om die plan vir die dag te deel: Ruan sou vir almal braai, en daar sou ook ’n paar speletjies wees om die energie hoog te hou. Saartjie het egter aangekondig dat sy vir ’n paar dae moet weggaan vir werk.
Die groep het later onder ’n indrukwekkende kremetartboom ontmoet waar hulle meer oor die boom se geskiedenis geleer het. Die boom is hol aan die binnekant, en die dames het die kans gekry om in te gaan en die boom van binne te verken.
Daarna het die pret begin met ’n reeks drinkspeletjies. In die eerste speletjie het die dames in groepe van drie gekyk wie vier klein balletjies met Donkey Long Tong se vuurblaaspyp eerste oor ’n lyn op die tafel kan blaas. Hermi, Bejanke en Minette se span het gewen, wat beteken het dat Cindy-Lee, Charlene en Jenine ’n drankie moes wegslaan.
Die volgende speletjie het almal behoorlik laat skaterlag. Elke deelnemer moes water in hul mond probeer hou terwyl een van die ander dames haar liggies op die sitvlak tik. Byna niemand kon hul lag hou nie.
Terwyl Ruan die braai voorberei het, het die vroue saam met JP ’n potjie bierpong gespeel. Kort daarna het almal by die tafel aangesluit, waar Ruan se braaivernuf behoorlik beïndruk het.

Die volgende dag het ’n nuwe uitdaging gewag. Charlene, Minette en Bejanke is genooi om aan ’n aktiwiteit deel te neem waar ’n aand alleen saam met Ruan op die spel was.
Die uitdaging het hul vertroue en luistervermoë getoets. Agt persoonlike items van Ruan – onder meer ’n bottel wyn, ’n appel, seep, ’n botteltjie, skoene, ’n hemp, ’n gimnasiumbal en gewigte – is op die terrein versteek. Die dames is geblinddoek en moes al agt items opspoor deur net na Ruan se instruksies te luister. Die vinnigste soeker sou die prys wen.
Voor die uitdaging het Minette gesê: “Dis rêrig ’n besonderse date, regte one-on-one time saam met Ruan. So, ek gaan my heel beste lewer.”
Charlene was ewe vasberade: “Ek het rêrig hierdie challenge nodig. Ek móét wen. So, maak nie saak wat ek doen nie, ek gaan moet baie mooi luister en fokus.”
Charlene was eerste aan die beurt, gevolg deur Bejanke en daarna Minette. Minette het uiteindelik die vinnigste tyd behaal en die gesogte afspraak met Ruan gewen.
Die aand het begin met ’n romantiese ete, waar Ruan nie doekies omgedraai het nie: “Ek en Minette het ’n lekker konneksie en dis natuurlik. Daar is nooit nie iets om oor te praat nie. Dis net maklik met haar. Dis iets wat ek soek in iemand wat saam met my in my lewe is. Niks is geforseerd nie, en dis vir my baie lekker.”
Intussen het JP by die ander dames gaan inloer om te hoor hoe hulle oor Minette se afspraak voel. Party van hulle was duidelik gefrustreerd en het gewonder hoekom juis daardie drie dames vir die aktiwiteit gekies is. JP het hulle egter gerusgestel dat Ruan almal ’n kans wil gee en dat niemand doelbewus uitgesluit is nie.
Met verloop van die afspraak het die gesprek tussen Ruan en Minette dieper geraak. Ruan het erken dat hy met slegs twee of drie dames ’n sterker konneksie voel en dat hy met die ander bloot goed oor die weg kom.
Toe Minette hom vra of sy een van daardie dames is, het sy antwoord min twyfel gelaat: “Van wie anders het ek gepraat? Niemand anders nie. En jy weet dit.”
Vir Minette was dit ’n bevestiging van haar eie gevoelens: “Om dit te hoor het net weer in my binneste vir my reassurance en confirmation gegee, want ek voel ook só.”
Later het Minette vir Ruan gevra om iets spesiaals saam met haar te doen. Die twee het ’n slot aan ’n ketting vasgemaak en die sleutel simbolies weggegooi.
“Dit was nie ’n liefdesverklaring nie – dit was net ’n baie spesiale oomblik om vir hom te kan wys hoe om memories te maak wat nie noodwendig materialistic is nie, maar wat baie sentiment het. Maar ek dink nie ek kan meer deny dat ek rêrig ’n bietjie verlief is op hierdie man nie,” het sy gesê.

Later die aand is albei tussen die bome met ’n massering deur personeel van die oord se spa bederf. Oor drankies daarna het hul gesprek na die toekoms gedraai en is daar veral oor die kwessie van kinders gepraat.
Minette het gesê sy wil wel kinders hê, maar nie noodwendig gou nie. Ruan het gevra hoe hulle sou voel as dieselfde gesprek oor ses jaar weer opkom.
Minette se antwoord het die volwassenheid van hul gesprek beklemtoon: “Dis belangrik om dinge te hervat dan, want daai is die tipe klein jakkalsies waaroor ’n mens maklik mekaar kan verwyt.”
Ruan het saamgestem, en dit was duidelik dat hulle een van die mees betekenisvolle afsprake van die seisoen tot dusver gedeel het.
Met Minette en Ruan se konneksie wat al hoe sterker lyk en vrae wat by die ander dames begin opduik, is die dinamika in die groep besig om te skuif. Episode nege het gewys dat tyd saam met Ruan al hoe kosbaarder raak – en dat elke afspraak die potensiaal het om die rigting van sy reis te verander.
Op my eish! word elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Wanneer Ma wil skei en Ouma intrek: Skreeusnaakse chaos wag inMevrou Fourie & Kie




