Kykers het Misi Overturf leer ken as die borrelende planmaker wat sedert 2021 oor drie seisoene van In die sop: Restaurantrevolusie op kykNET saam met die glanssjef Bertus Basson die een eetplek ná die ander op allerhande innoverende manier reggeruk het. Dié keer gaan sy haar dekorkennis en kreatiewe idees inspan om sukkelende gastehuise weer op die wenpad te kry.
Misi is nou betrokke by In die sop: Gastehuisrevolusie, en saam met die aanbieder, Janie du Plessis, gaan sy sorg vir gastehuistransformasies wat menige hart gaan steel.
Haar besonderse slag met dekor het sy van jongs af gewys. As jy Misi is, laat jy ook nie beperkte bronne toe om jou kreatiwiteit te kortwiek nie – jy maak ’n plan. Sy het in ’n tydskrifonderhoud vertel hoe sy soms ’n knyptangbegroting maak werk het deur dinge sommer self te maak wanneer dit nie in die handel beskikbaar was nie.
Maar hoe beplan Misi die revolusies wat moeiteloos op die kassie lyk? En waar begin sy?

(Foto: Gys Loubser)
Misi verklap hier meer oor haar proses, haar inspirasie en oor hoe sy na die struktuur, die lig en die proporsies “luister”.
Hoe verskil jou benadering tot gastehuise teenoor dié van die restaurante tydens die vorige seisoene van In die sop?
By ’n gastehuis beweeg mense deur ’n reeks ruimtes – van ontvangs, na gemeenskaplike areas, na eet-areas tot uiteindelik in ’n kamer waar hulle moet rus. En daardie laaste deel, vir my, is baie intiem.
Dit is ’n enorme konsepskuif vanaf restaurante. ’n Restaurant is een ruimte met een konsep. My persepsie is jy werk binne ’n meer gefokusde raamwerk. Maar met gastehuise raak dit meer kompleks, veral omdat ons nog nie voorheen met badkamers gewerk het nie. Jy kan nie sommer net ’n badkamer skuif of opknap binne ons tyd en begroting nie.
Ons het probeer, maar dit is nie werklik haalbaar nie. En dit bring vir my ’n groot stuk respek vir die proses. Daar is sekere aspekte van ’n interieur wat vinnig en effektief opgeknap kan word, maar ander vra tyd, ambag en die regte ingesteldheid om dit behoorlik te doen.
Jy het ’n absolute can-do-aanslag. Is daar enigiets wat jou ooit onderkry tydens hierdie prosesse?
Wat my onderkry, is dat ek altyd méér wil doen of iets meer waaghalsig wil aanpak. Ek moet myself reguleer om binne die grense van die realiteit te werk – tyd, begroting, kapasiteit – en juis daarbinne my impak te maak. Maar my hoop is altyd dat dit wat ek wel implementeer nie net mooi is nie, maar mense ráák en hulle inspireer om anders na hul ruimte en hul lewe te kyk.
Het elke projek wat jy takel, ’n voorspelbare struikelblok of is dit elke keer iets nuuts? En hoe benader jy dit?
Ek moet sê, die reveals is áltyd vir my senutergend. Maar uit die staanspoor loop mens seker, soos my ma Ria sou sê, op jou knieë dat die projek reg uitwerk. Ons het wyd gereis, en elke keer moes ons verskaffers kry wat bereid is om saam met ons in te spring en iets te help skep binne ’n baie kort tyd. En dan gebeur iets besonders: Mense daag op!
Ek dink byvoorbeeld aan Sanet wat die gordyne vir Harties gemaak het. Daar is ’n bereidwilligheid, ’n menswees wat inkom in daardie drie dae.
As ek eerlik is, is dit dikwels die goed wat jou die meeste bekommer wat jou uiteindelik die mooiste verras. Daar is regtig ’n hart by mense om te help en hul beste te gee, en dit dra die projekte.

(Foto: Gys Loubser)
Jy het ’n uitstekende aanvoeling vir die kombinasie van teksture, kleur en lig. Waarna let jy eerste op wanneer jy met ’n projek begin?
Baie dankie. Ek hoor dit al hoe meer, en daar is werklik soveel mooi dinge om mee te werk in die interieurwêreld. Maar vir my begin dit nie by die mooi goed nie – dit begin by die gebou.
Ek luister na die struktuur, die lig, die proporsies. Ek kyk na wat al klaar werk, en wat nie werk nie. My benadering is selde om alles oor te doen. Ek hou baie van die nostalgie van wat reeds daar is, en om dit net op ’n varser, meer relevante manier te vertaal. Daar vorm altyd ’n storie in my geestesoog. En my werk is om daardie storie visueel tot lewe te bring sodat mense dit kan ervaar. Ervaringsontwerp is iets wat passievol brand in my hart.
Moes jy al van jou idees en oplossings aanpas omdat jou aanvanklike kennismaking met die eienaars nie die volle prentjie geskilder het nie?
Natuurlik. Ek probeer altyd so vroeg as moontlik die konsep vasvat, maar die onvoorsiene lê altyd net anderkant dit wat jy beplan het. Dis deel van die proses. Vir my gaan dit oor vertroue – in my ervaring en in my besluitneming. As ek ’n besluit neem en voel dit is reg vir die ruimte, dan commit ek daartoe en laat dit só uitspeel.
Wanneer weet jy dat jou idees op die regte spoor is? En hoe voel dit vir jou wanneer dit só uitwerk?
Ek weet ek is op die regte spoor wanneer alles begin kalm raak. Die span verstaan. Die kliënt begin sien en voel wat ek gesien het. En baie keer kry ek daardie reaksie: Hoe het jy geweet? Hoe het jy geweet dis my gunstelingkleur? Hoe het jy geweet om hierdie elemente só saam te bring? En dit is omdat dit nie net oor items gaan nie – dit gaan oor die storie wat saamkom.
Dit gee my die meeste vreugde wanneer mense werklik genot ervaar in die ruimte waarin hulle leef.
Wat is van die vernaamste lesse wat jy tydens die reeks geleer het?
Die grootste les vir my is dat jy nie altyd tyd nodig het om goeie besluite te neem nie. As jy regtig kyk en verstaan waarna jy kyk, kan jy baie vinnig by die kern uitkom. En ek het ook besef hoe belangrik ondersteuning is. Die regte mense om jou maak dit moontlik om dinge reg te kry, veral onder druk.

(Foto: Gys Loubser)
Is daar iets besonders wat jy van elke projek ‘inpak’ omdat dit vir jou betekenis het?
Ek pak altyd iets in. Soms is dit ’n detail, soms net ’n gevoel. Maar wat ek regtig saamvat, is wat elke projek my leer – oor mense, oor die lewe en oor my eie proses. En daarvoor is ek ongelooflik dankbaar. Dit laat my groei, elke keer.
Wat was tot dusver die grootste uitdaging vir jou?
Die grootste uitdaging is om balans te hou: tussen wat reg is vir die ruimte, en wat tyd en begroting toelaat. Om gefokus te bly en nie daardie lyn te verloor nie vereis baie dissipline en deursettingsvermoë.
Enige raad vir diegene wat ook ‘in die sop’ is, maar nie weet watter kant toe nie?
“The attempt to be independent of others is the deepest source of our suffering.” So sê Gabor Maté, Kanadese geneesheer en skrywer. En ek dink baie eienaars van klein besighede voel geïsoleerd en alleen.
As jy in die sop is, is dit nie net die besigheid nie – dit is jou lewe wat geraak word.
’n Klein besigheid in survival mode maak dit baie moeilik, en soms onmoontlik, om vorentoe te beweeg. Daar is geen selfsug daarin om ’n besigheid te wil laat groei en presteer nie, maar soms kan jy dit nie op jou eie regkry nie.
My raad is: Moenie alleen probeer uitkom nie. Kry iemand in jou hoek, ’n kundige persoon – mens tot mens – iemand wat jy vertrou, wat jou kan lei en ook accountable kan hou om die regte stappe te neem.
Dis nie iets wat jy kan Google nie. En uiteindelik – dis wat dit beteken om mens te wees. Ons moet mekaar help.

(Foto: Gys Loubser)
Vyf goed wat jy dalk nie van Misi geweet het nie:
- Ten spyte van haar liefde vir ontwerp, het Misi eers tandheelkunde studeer. ’n Drie maand lange stryd teen meningitis het haar egter in die rigting van kreatiewe konsultant gestuur.
- Sy het ook ’n paar boeke die lig laat sien, waaronder Real Easy Décor & DIY en 50 Upcyling-projekte: Ougoed word hougoed .
- Een van die mense wat haar die meeste inspireer, is Tricia Guild van die Londense ontwerpersgilde, veral vir die manier waarop sy kleur en patrone tydloos met panache kombineer.
- Sy koester ’n groot liefde vir ou huise en vertel dat hul huis in die Paarl meer as 200 jaar oud is.
- Misi is ook mal oor blomme en reuke en brand graag wierook. Sy beskryf haar omgewing as baie sensories. “Nie perfek nie, maar huis.”
In die sop: Gastehuisrevolusie begin Donderdag 23 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Beklemtoon die kleur van jou oë

