kategorieë: Ouerskap

Modelle en hul dogters

Cindy Crawford, Jerry Hall en verskeie internasionale topmodelle se dogters het al in hul modelvoetspore gevolg. Met goeie gene kan dit seker nie anders nie. Drie Suid-Afrikaanse oud-modelle, Anri van der Linde, Candice-Lee Kannemeyer en Sonia Cabano (De Waal), sê hulle sal ook nie omgee as hul dogters eendag modelle wil word nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ondanks al die rilstories oor die bedryf het hulle goeie herinneringe en waardevolle lesse daaruit geleer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Anri & Annabella

Anri van der Linde was nie net op haar dag gesogte model nie, maar ook een van David Dodds se bekende South Africa’s Most Beautiful Women. Haar driejarige Annabella het beslis ma se gene geërf en hoewel sy ’n bietjie skamerig is, hou sy soms soos ’n regte modelletjie baie van aandag en ’n fotonemery. Ondanks negatiewe stories oor die modelbedryf het Anri ’n goeie ervaring gehad en sal sy haar dogter eendag steun as sy ook model wil word. Dit hang af van hoe sterk haar selfbeeld in daardie stadium is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Dis ’n beroep waarin mense baie reguit en eerlik is oor hoe jy lyk, en as jy nie sterk genoeg is om die kritiek nie te ernstig op te neem nie, gaan dit dalk net meer skade as goed doen.”

Haar enigste regte negatiewe ervaring as model was toe sy gevra is om in onderklere te poseer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek was nog op skool en het van die begin af besluit dat ek nie in onderklere sal verskyn, of naakfoto’s sal laat neem nie. Dit was moeilik om voor al daardie professionele mense op te staan en te sê ek gaan nie die foto laat neem nie. Hulle was nie baie gelukkig nie, maar daardie aand toe ek gaan slaap, was ek baie bly dat ek by my besluit gestaan het.”

Sy het al op menige Suid-Afrikaanse en oorsese tydskrif-voorblaaie gepryk.

“Ek was op dertien op rooi rose se voorblad. ’n Hoogtepunt was toe ek in Parys as die Bounty Girl aangewys is. Ek het met ’n hele klomp Europese modelle om die gesogte advertensie van die gewilde sjokolade meegeding.”

Soos Annabella was sy ’n skaam meisietjie. Haar ma, die sangeres Rina Hugo, vertel dat sy nie daarvan gehou het om saam met haar “Dubi Dubi Dum” op haar konserte te sing nie. Boet Riaan het dit geniet!

“Ek het as 13-jarige ’n kursus by my tannie se afrondingskool, JAFFAE, gedoen en dit het vir die skaamheid gehelp. Vandag is ek die eienaar en hoof van die skool en dit is lekker om te sien hoe dit jong meisies selfvertroue gee. Op my 14de verjaarsdag het my ma vir my ’n fotosessie by Merwelene van der Merwe as geskenk gegee. Dit was vir my so lekker en van daar af het dinge maar so vanself in plek begin val.”

Modelwerk het haar oorsee geneem en ja, daar was moeilike dae en sy het huis toe verlang ook.

“Ek moes gereeld hoor ek is te vet en te groot. Ek dank vandag die Here dat Hy my sterk genoeg gehou het en dat ek nie ’n dieetsiekte ontwikkel het nie. Ek het geweet ek is van nature groter as die vreeslike maer meisies gebou, en al hoe ek só sal kan lyk, is as ek ophou eet! Ek het maar op ’n gesonde manier probeer doen wat ek kon om so maer te wees as wat ek kon. Ek het ook baie werk verloor omdat ek te ‘groot’ was, maar gelukkig ook baie keer juis die werk gekry omdat hulle nie ’n brandmaer model wou gebruik nie.”

As Annabella eendag model wil word, sal sy haar vir seker op die pynlike eerlikheid van die mense in die bedryf voorberei.
“Sy moenie seergemaak of ’n mislukking voel as sy nie ’n oudisie slaag nie en nie die werk kry wat sy graag wil hê nie.”

Sy sal haar kind ook teen dwelms en slegte invloede waarsku.

“Ek het gereeld uitnodigings na partytjies en naweke weg saam met vreemde mense gekry, maar was bang vir situasies waar daar dalk dwelms kan wees en het liefs met ’n boek by die huis gebly.

“Ek is baie gesteld daarop om nou al Annabella en my seun, Enzo (5), se selfbeelde met komplimente op te bou om hulle gereed te maak vir eise wat die samelewing stel. Ek leer hulle van balans tussen wen en verloor. Enzo het een keer vreeslik gehuil toe hy nie ’n resies by die skool gewen het nie. Dit was ’n ideale geleentheid om met hom te praat oor hoe ’n mens teleurstellings verwerk.”

Dis nou te vroeg om regtig te bepaal, maar sy glo Annabella sal eendag ’n sterk meisiekind wees. “Sy weet wat sy wil hê en sy kry dit! En hoewel dit soms ’n ‘moeilike’ eienskap is, glo ek dit sal haar help in die lewe vorentoe.”

Candice-Lee & Miyo

Die gesig van Candice-Lee was in die jare negentig in menige glanstydskrif te sien. Sy het al saam met Kate Moss aan ’n Calvin Klein-modevertoning deelgeneem en was onder andere die gesig van E45-room. Hoewel sy agt jaar voor haar dogter Miyo (9) se geboorte in 2004 opgehou het met modelwerk, is sy ná die geboorte genader vir ’n Gilroy Beer-veldtog. Dit was die ideale tyd vir haar, want hulle het na ’n model met ’n effense magie gesoek.

“Dit was baie omstrede omdat ek naak moes poseer, maar een van my gunstelingfotograwe, Michael Doran, het dit baie smaakvol gedoen. Ek is genoeg betaal om my huis in Kaapstad so te sê af te betaal.

“Ek sal Miyo steun as sy eendag model wil word. Met die regte agent en leiding kan sy baie geld maak en die wêreld sien.”
Candice-Lee was twaalf toe ’n Amerikaanse fotograaf haar in The Hard Rock Café in Illovo, Johannesburg, raakgesien het.
“Hy het die regte gesig vir ’n veldtog gesoek, sy inligting vir my gegee en gevra my ma moet hom kontak. Ek het toe vir hulle ’n swemdragsessie vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens se tydskrif gedoen.”

Sy onthou net lekker oomblikke van haar loopbaan, maar ook hoe senuweeagtig sy met haar tweede fotosessie was.

“Dit was ’n veldtog vir Stuttafords en ek was so bang dat my lip die hele sessie deur gebewe het. Gelukkig het ’n ouer model my bygestaan.

“My derde fotosessie was saam met rooi rose se destydse skoonheidsredakteur, Elaine Nixon-Campbell. Toe het ek besef watter ongelooflike harde werk dit is. Ek het heelpad huis toe in die motor geslaap.”

Sy het die bedryf oorleef, want sy het ’n dik vel en gee nie om wat ander dink nie.

“Ek het besef as ek nie ’n werk kry nie, het ek dalk nie die voorkoms wat die maatskappy soek nie.” Sy is baie uitgesproke oor te maer modelle.

“Gelukkig is daar nooit druk op my geplaas nie, want ek was reeds baie maer. Ek het gesien hoe ander meisies gedurig moes dieet en sukkel om maer te bly. Ek het nooit met dwelms in die bedryf te doen gekry nie. My ma het my deeglik voorberei op die gevare van dwelms en ek was gefokus en standvastig.”

Mense merk baie op dat Miyo eendag modelwerk moet gaan doen omdat sy besonder mooi is, maar Candice-Lee sal die keuse aan haar kind oorlaat.

“Mense het my ma van kleins af aangeraai om my modelwerk te laat doen, maar sy was versigtig. Ek sal Miyo kans gee om dit te doen as dit haar keuse is en sy selfstandig genoeg is. Ek sal haar ook leer om haar geld reg te bestuur.

“Ek leer haar om met grasie dankie te sê wanneer iemand haar oor haar skoonheid komplimenteer. Ek onthou hoe my ma my dieselfde les geleer het. Ek herinner haar ook altyd daaraan dat skoonheid meer gaan oor of jy ’n goeie mens is.”

Candice-Lee was die afgelope jare by talle vrouetydskrifte betrokke en is redakteur en skepper van die mode-en skoonheidsblog In My Bag – www.inmyabg.co.za

Sy sê sy maak tyd vir Miyo en geniet haar pragtige, humoristiese geaardheid.

“Ons het net so ’n goeie band soos ek en my ma gehad het. Ons doen lekker ma-en-dogtertjie goed saam.”
Sy hoop haar opvoeding maak Miyo bestand teen die eise van die lewe. “Ek sal bly wees as sy net positief en gelukkig is.”

Sonia & Sabah

Bobaaskok van Kaapstad, Sonia Cabano, het in die jare tagtig as Sonia de Waal in talle internasionale glanstydskrifte en TV-advertensies as model naam gemaak. Sy het fotosessies vir gesogte skoonheidsmaatskappye gedoen en die wêreld gesien.

“Dit sal my nie pla as Sabah (12) eendag modelwerk wil gaan doen nie. Dis ’n goeie manier om vir ’n jaar of twee ná skool geld te maak, te reis en die wêreld te sien, solank sy dit nie te lank doen nie. Ek sal my seun, Guillaume (13), ook aanmoedig om dit te doen. Albei van hulle is hiperintelligent en ek glo hulle sal die druk kan hanteer.”

As Sabah in haar voetspore wil volg, sal sy haar beslis goeie finansiële raad gee.

“Suksesvolle en gemotiveerde modelle is deesdae bedrewe sakevroue met beleggings-portefeuljes wat menige sakeman sal laat skrik. Die tyd is lankal verby dat ons ons kinders aanraai om dominees, onderwysers, prokureurs en dokters te word. Die nuwe generasie is baie goed daarmee om hulself as handelsname uit eie reg te bemark.”

Dit was vir haar moeilik toe sy as 19-jarige al vir lang tye oorsee was.

“Ek was soms bitter ver van die huis af! Daardie dae was daar nie baie Suid-Afrikaners in die bedryf oorsee nie. Dit was moeilik om heeltyd in ander kulture aan te pas, veral omdat jy as model so baie reis.”

Maar sy het dit geniet om baie geld te maak, ’n “sigeuner” te wees en nuwe dinge te ervaar. Maar daar is negatiewe goed, sê sy.

“Meisies kan gruwelik bitsig en neuroties wees. Ek was destyds maar altyd een van die ‘manne’, want hulle was gawer.”

Nog onaangenaamhede was “simpel en vatterige mans wat dink omdat jy jonk en ’n model is, is jy ’n uitnodiging vir plesier”.

Daar is in die modelbedryf, net soos ander bedrywe, dwelms en sy sal haar kind daarteen waarsku.

“Ek dink mense wat dwelms neem, is dom, leeg en op soek na iets wat hulle nie gaan kry nie.”

Sy is ook hewig gekant teen te maer modelle. “Ek is nooit gekritiseer oor my gewig nie, want ek is van nature baie maer. Ek dink meer mense was onthuts oor hoe baie ek kan eet! Ek was nie een enkele keer terwyl ek modelwerk gedoen het op ’n dieet nie. Die modelle wat deesdae loopplankwerk doen, is ontstellend maer. ’n Vrou het kurwes, punt, klaar. Ek sal baie gee om Nigella se kurwes te hê.”

Sy glo kinders moet hul eie weg deur die lewe baan wanneer hulle skool verlaat.

“Maak jou eie foute en leer daaruit. Ek is al klaar ’n neulende ma wat tydig en ontydig raad gee. Maar ek sal haar agente en bestuurders persoonlik ondervra as Sabah ooit modelwerk wou doen.”

In enige loopbaan sal daar teleurstellings wees en vir haar kind sal sy dieselfde raad gee as wat haar pa vir haar gegee het:

“Jy is my kind, niemand gaan jou ooit onderkry nie. Vee jou neus af, kyk in die spieël en sê vir jouself: ‘I’m pretty damn fine, thank you!’”

Mense merk gereeld op dat Sabah ’n besondere skoonheid het en eendag model sal kan word. Sonia glo sy sal reg wees vir die bedryf.

“Sy het goed ontwikkelde idees wat sy nie skroom om met almal te deel nie en intense emosies. Maar sy is nog ’n kind. Sy voel in hierdie stadium nog beter oor haarself wanneer sy goed gedoen het in haar wiskunde as wanneer ons vir haar sê sy is mooi.”

Foto’s: Johan Wilke  en Leana Clunies-Ross.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Ivan en Donnalee stel nuwe kykNET-reeks bekend

Die aarde het ’n jaar nodig om een keer om die son te beweeg. In…

15 hours Gelede

Oogsiektes onder die vergrootglas: Wat jy moet weet

Deur Christa Swanepoel Oogsorg begin reeds van geboorte af. Pas ná geboorte moet ’n pediater…

18 hours Gelede

Die beste eierbroodjie

Die beste eierbroodjie Lees ook: Spek-en-eier-pasta

19 hours Gelede

Is jy ’n perfeksionis? Hoe vind jy balans?

Deur Maretha Botes Perfeksionisme is ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant motiveer dit jou…

1 day Gelede

Besoek Stellenzicht se unieke ekowyn-pod vir ’n uitsonderlike wynproe-ervaring

Soos jy aankom, word jy deur welige wingerde en groen heuwels begroet. Die wyn-“pod” self…

2 days Gelede

Geurige roerbraairys

Hierdie geurige roerbraairys kry die lekkerste dadel-en-sjerrie-hoender by.

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.