Verskaf deur kykNET
Die soektog na kykNET se Stylikoon-veldtog van 2026 het afgeskop – en vanjaar skyn die kollig op mans ook.
Revlon en kykNET se glans- en tydskrifprogram Bravo! het verlede jaar vir groot opwinding gesorg toe hulle dié titel die eerste keer toegeken het. Die model en TV-aanbieder Katryn Kruger, wat reeds as tiener ’n internasionale modelloopbaan begin het, is as die Revlon Bravo!-stylikoon aangewys.
Vanjaar word die loopplank langer gemaak met ’n nuwe kategorie vir mans.
Die rede is dat persoonlike styl nie tot vrouemode beperk is nie: Suid-Afrikaanse mans maak toenemend hul merk op rooi tapyte, by premières en ander glansgeleenthede.
’n Paneel van mode-, media- en handelsmerkkenners het drie finaliste in elke kategorie aangewys.
“Daar word na iemand gesoek wat styl op alle gebiede versinnebeeld,” som Bravo!-aanbieder Ewan Strydom die veldtog op.
Die paneel
- Heather Goate – bemarkingsdirekteur van Revlon
- Desireé Tan – kykNET se opdraggewende vervaardiger van Bravo!
- Paul Venter – vervaardiger van Bravo!
- Jackie Burger – mode-ikoon en voormalige Elle-redakteur
- Franie Cronjé – SARIE-stylredakteur en modekenner
- Abraham van Zyl – bemarkingsbestuurder van kykNET
- Elana Afrika-Bredenkamp – TV- en radio-aanbieder, aktrise en ‘momtrepreneur’
- Katryn Kruger – SA Styl-ikoon 2025, model en TV-aanbieder
Ontmoet die finaliste
Vroue
- Rolanda Marais – film- en TV-aktrise
Rolanda is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise wat oor twee dekades groot lof vir haar werk in teater, film en TV ingeoes het.
Sy is veral bekend is vir haar rolle in televisiereekse soos Binnelanders, Fynskrif en Die nuusmakers, sowel as talle teaterproduksies.
- Mari Biderman-Pam (Conradie) – grimeerkunstenaar en stilis
Marí is ’n bekende stilis, grimeerkunstenaar en modekenner wat reeds diep spore agter die skerms van die plaaslike vermaak- en filmbedryf getrap het.
Mooistemooi is haar inisiatief en daarmee saam het talle bekendes, waaronder Minki van der Westhuizen en sangeres Leah van Niekerk al onder haar vaardige hande en kennis deurgeloop.
- Gloria Arendz-Theiler – besigheidsvrou en skrywer
Gloria is ’n wêreldbekende Suid-Afrikaanse sakepersoon, voormalige model en skoonheidspesialis. Danksy haar tydlose styl is sy in die tagtigs al as bes geklede vrou in die land aangewys.
Sy is ook die suster van die befaamde modeontwerper Errol Arendz, wat steeds baie van haar uitrustings ontwerp.

SA Styl-ikoon 2025, Katryn Kruger en Ewan Strydom. Foto: Gys Loubser
Mans
- Gert van de Merwe – modeontwerper en inhoudskepper
Gert van de Merwe is ’n gerekende Suid-Afrikaanse modeontwerper wie se loopbaan gekenmerk word deur gesofistikeerde, vroulike en tydlose mode. Hy het verskeie ateljees gehad, plaaslik in Kaapstad en Pretoria, en ook in Londen, Engeland.
Hy is onder meer vir die gesogte Catherine-toekenning by die Fairlady South African Fashion Awards genomineer en was ook al die wenner van die J&B Rare-ontwerperstoekenning.
Die afgelope paar jaar bevind Gert hom in Barrydale waar hy Die Langhuis Gastehuis en fynproewerskafee bestuur.
- Willus Bosch – binnenshuisversierder en opknapper
Willus Bosch, ’n interieur-ontwerper en opknappingspesialis wat in die Wes-Kaap woon, kombineer argitektuur, interieur, restourasie en kontemporêre leefruimtes.
Kykers sal hom veral onthou vir sy fyn sin vir humor en vernuftige opknapwerk in die In die Sop: Gastehuisrevolusie-reeks wat onlangs op kykNET verskyn het. Sy gunsteling-spreekwoord is “Where there’s a Willus, there’s a way-us”.
- Roberto Kyle – akteur
Roberto, ’n Suid-Afrikaanse akteur en opkomende regisseur asook filmmaker, het sy graad aan die Universiteit van Kaapstad se Theatre and Performance-program verwerf.
Sy loopbaan sluit teaterproduksies, internasionale film- en televisieprojekte en gewilde Suid-Afrikaanse produksies in. Roberto het veral bekend geword onder Suid-Afrikaanse televisiegehore as Lee-Roy Foster in Arendsvlei, terwyl internasionale skermkrediete onder meer Homeland en Gavin Hood se Eye in the Sky insluit.
- Oor die volgende paar weke, vanaf Donderdag 20 Augustus om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), sal die finaliste elk op Bravo! voorgestel word en oor hul styl en leefstyl gesels.
- Die twee wenners sal in Oktober aangewys word.
Lees ook: Sue Diepeveen – meer as net ’n aktrise en teater-eienaar
