Die Springbok-slot Eben Etzebeth en vroulief, die sangeres en aktrise Anlia Etzebeth, het vanoggend op sosiale media aangekondig dat hulle hul tweede baba verwag — en dis nóg ’n dogtertjie!
Anlia het die opwindende nuus gedeel saam met ’n vrolike gesinsfoto van die paartjie en hul dogtertjie, wat in Januarie vanjaar een jaar oud geword het. Die onderskrif lees: “#BabyEtzebeth2 on the way! Can’t wait to welcome our little wildflower girl!”
Die paartjie, wat tans in KwaZulu-Natal woon, het in Februarie vanjaar hul tweede huweliksherdenking gevier. Eben het dié mylpaal op sosiale media as “die beste twee jaar van my lewe,” beskryf, terwyl Anlia haarself as die “gelukkigste vrou op die planeet” beskryf het.
Hul liefdesverhaal is reg uit ’n sprokie: Die twee se paaie het die eerste keer in Melkbosstrand, ‘n bekoorlike kusdorpie in Kaapstad, gekruis , en net vyf maande later het Eben, tydens ’n romantiese reis in Hyères, Frankryk, Anlia gevra om te trou. Die paartjie het in Februarie 2023 by die skilderagtige La Paris-landgoed in Franschhoek ewige trou aan mekaar beloof.