Deur Maretha Botes.
Foto’s, hare en grimering: Willem Botha, Willem Botha Beauty
Klere: Diaan Daniels Couture
Tenile Müller en Lucet de Beer Müller se ma-en-dogter-reis was nie altyd maanskyn en rose nie. Maar dié wenners van ons ma-en-dogter-kompetisie, kan getuig dis juis die swaarkrytye wat hul band vandag sterker as ooit gemaak het.

Geen droom is te groot om gedroom te word nie, glo dié ma-en-dogter-span wat vandag hard werk om soveel as moontlik van hul drome – saam én op hul eie – waar te maak. “Want wat sal die lewe dan nou wees as ons nie met verwagting na môre kan uitsien nie?” sê hulle.
Lucet (50) en Tenile (21) gesels ’n hond uit ’n bos vanuit hul huis in Pretoria-Oos oor hoe hulle tot hiér gekom het. Hier waar hulle kan terugkyk en hul reis met al sy hoogte- en laagtepunte kan waardeer. Maar bowenal kyk hulle vorentoe om die toekoms met oop arms tegemoet te gaan.
“Dit gaan regtig goed met ons!” sê Lucet opgewonde. Dié oud-lugwaardin se blou oë straal van geluk. Sy en Tenile is besig om hul droom te verwesenlik om ’n geleentheidsbeplannings onderneming, Schepper, op die been te bring. “Dis nou nie meer net ’n droom nie, dis nou ’ n werklikheid,” sê sy.
Vir Tenile val dinge ook netjies in plek. Sy het dié jaar vir die Mej Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf – iets waarvan sy al as kleuter gedroom het. Sy sou dié platform graag wil gebruik om die stigma wat ná al die jare steeds aan depressie kleef, te verbreek. Vir háár is daar ook ’n verlowing in die dagboek. Sy en haar kêrel van twee jaar, Jacques de Jager, is dolverlief en ernstig om saam ’n toekoms te bou.
Maar voor Tenile en Lucet op dié punt kon kom waar môre hulle opgewonde maak, moes hulle hul weg deur die donker vind om weer saam gesond te wees.
Hul verhaal is een van deernis, respek en vernuwing. Van seerkry en opstaan. Van saamstaan en groei. Depressie is ’n gemene deler in hul verhouding en ook een wat maak dat hulle mekaar se uitdagings verstaan en respekteer. As gesin is hulle deur diep waters en sou hulle verskeie kere deur lewe en dood navigeer. Hulle praat ook openhartig oor hul selfdoodpogings – Lucet as jong ma, en Tenile as tiener. “Deur die genade was ons nie suksesvol (in ons pogings) nie, en kan ons vandag gesels oor depressie en die stigma wat daaraan kleef,” sê Lucet. “Soveel mense verstaan steeds nie wat depressie is en wat die impak daarvan op ’n mens en jou verhoudings is nie.”
In haar brief oor haar en haar ma se verhouding, skryf Tenile: “Ek en my ma is soos twee sterre in dieselfde naghemel: uniek, maar onafskeidbaar verbind deur ’n diep, onbreekbare band. Ons verhouding is nie altyd eenvoudig of perfek nie, maar dit is eg en deurleef. Ons het albei deur groot depressietye gegaan – donker dae wat ons wêreld kleiner en swakker gemaak het – en ironies genoeg was dit hierdie swaarkry wat ons nader aan mekaar gebring het.”
Tenile is die middelkind van drie. Sy het ’n ouer broer, Gerardt (23) en jonger sussie, Danique. Lucet se depressie het kort ná Tenile se geboorte in 2004 kop uitgesteek. Dit was ook in dié tyd dat haar ma, Suzette, met baarmoeder-, maagwand- en dikdermkanker gediagnoseer is. Dié nuus het die mat onder Lucet uitgeruk.
“Ek is die oudste van twee kinders en moes altyd die sterk een wees. Ek het aan ná Tenile se geboorte aan nageboortelike depressie gely en het gesukkel om die nuus van my ma se kanker te verwerk,” sê Lucet.
Suzette (59) is in 2007, drie jaar ná haar diagnose, oorlede. Intussen is Lucet se tweede dogter, Danique (18), gebore. Sy sê: “Ek het gevoel my wêreld tuimel in mekaar. Ek kon nie meer cope nie. Ek moes ná my ma se dood sterk wees vir my pa, my broer en my kinders. Ekself het geen uitlaatklep gehad nie. Op ’n dag het ek my eie lewe probeer neem deur ’n oordosis pille en alkohol te sluk.”
Lucet het op ’n manier daarin geslaag om by ’n vriendin uit te kom en dié het met haar hospitaal toe gejaag. “Ek het vir haar gesê ek is besig om dood te gaan, sy moet my help,” sê Lucet. “Vandag wil ek regtig vir mense sê depressie is werklik. Dis ’n siekte, maar daar is hulp. Moet dit nie alleen probeer dra nie.”

Tenile se depressie het gedurende Covid ’n punt bereik waar sy gevoel het haar wêreld tuimel inmekaar. Die wortels daarvan lê egter in haar kinderjare. Sy verduidelik: “Met alles wat met my ouma gebeur het toe ek baie klein was, en Mamma wat depressief was, het ons boonop byna my sussie verloor toe sy van ’n stoel afgeval en ’n noodbreinoperasie moes ondergaan. Ek het ’n groot deel van my lewe gevoel ek was verantwoordelik, ek kon gekeer het dat sy val. Vandag nog is ek byna oorbeskermend teenoor haar. Ek het, net soos my ma, baie keer gevoel ek moet ander se sterkte en krag wees, maar self het ek nooit met mense oor my eie gevoelens en angs gepraat nie.”
Daar was ook ánder dinge wat met Tenile as kind gebeur het, wat haar onskuld gesteel het. Sy is op agt, en weer op 16, gemolesteer. Sy vertel dat die impak daarvan op haar lewe byna vernietigend was. Sy is ook in die tydperk tussen dié twee voorvalle verkrag. Sy glo dat enigeen wat deur sulke trauma gaan, hulp moet kry.
Dinge het in Covid vir dié blondekop net te veel geword. Daar was in dié tyd geen sport, ’n reuse-uitlaatklep vir Tenile wat ’n kranige atleet en netbalspeler was, toegelaat nie. Haar kêrel van toe het hul verhouding beëindig en haar vriendinne het hul rug op haar gedraai. Een aand, terwyl haar ouers nie tuis was nie, het sy ’n hand vol pille gesluk in die hoop om nie weer wakker te word nie. Danique het op haar afgekom , haar wakker geruk en hul ouers gebel. Hulle is dadelik met haar na die hospitaal waar sy in die hoësorgeenheid opgeneem is. Hierna het intensiewe terapie en berading gevolg, en Tenile sien steeds elke paar maande ’n terapeut.
“Ek is dankbaar ek leef. Vandag kan ek my storie deel en ek hoop werklik dit kan ’ n verskil in iemand anders se lewe maak. Ek en my ma is ook soveel nader aan mekaar. Ons het mettertyd geleer hoe om mekaar te ondersteun sonder om mekaar te probeer fix. Ons verstaan dat dit soms net tyd en geduld neem om deur ’n moeilike tyd te kom. Dit het ons verhouding sterker gemaak – omdat ons mekaar in ons mees weerlose oomblikke gesien het,” sê sy.

Geniet die soet en die sout
As deel van hul prys in die ma-en-dogter-kompetisie is Lucet en Tenile met ’n mooimaakdag deur Willem Botha bederf. Hieroor kan die twee nie uitgepraat raak nie. Lucet sê: “Dit was lieflik verby! Ons het soos koninklikes gevoel. Ek dink ons vergeet soms van onsself. Ons kyk nie meer in die spieël nie, en fokus op ander. Maar hy het my weer gewys ek ís mooi.”
Vir Tenile was dit net so spesiaal. “Die rok, die parfuum, die grimering en glamour. Alles in ’ n pakkie. Ons vergeet hoe belangrik dit is om te hoor jy is spesiaal. Jy is mooi. Sulke woorde dra gewig en is belangrik om te weet. So, sit aan daai lipstiffie, trek aan jou mooi rok en spuit die parfuum. Doen moeite, daag op en bo alles, geniet dit – die soet, die sout, die alles.”

Hul raad aan ander ma’s en dogters wat hul verhouding wil versterk, is eenvoudig: wees daar vir mekaar. “Nie om mekaar te verander of reg te maak nie, maar net om daar te wees – sonder oordeel, sonder verwagtinge. Skep ruimte vir eerlike gesprekke en wees geduldig met mekaar se seer. Onthou dat niemand perfek is nie, maar dat liefde in klein, eenvoudige gebare lê.“My ma is nie net my ma nie; sy is my veilige hawe, my vennoot in lag en huil, my bewys dat swaarkry ’n mens net dieper aan mekaar kan bind. As jy jouself in ’n donker plek bevind, weet net dat jy nooit alleen hoef te wees nie – daar is altyd iemand wat verstaan. Vir my, is daardie iemand my ma,” sê Tenile.

Is julle ‘n ma & dogter duisend? Wen pryse van meer R85 000!
rooi rose is weer op soek na ’n ma en dogter wat ’n baie hegte band het.
Vertel ons wat dit is wat jul verhouding so spesiaal maak en julle het ’n kans om ’n oormaak- en fotosessie deur Willem Botha en Willem Botha Beauty, ’n uitrusting vir elkeen deur Anel Botha Couture, ’n goue ring vir elk van Scherman’s en ’n geskenkpak vol skoonheidsprodukte van NUXE te wen. Jul fotosessie sal ook in ’n uitgawe van rooi rose verskyn.
Wat moet julle doen?
Stuur ’n foto van julle twee saam, beantwoord ’n paar vrae en betaal ’n inskrywingsbedrag van R100. Betaalopsie op die webwerf beskikbaar.
Klik hier om in te skryf!
Sluitingsdatum: 29 Januarie 2026
Lees ook: Kokkedoor: Son & see: Leer naaswenners Andrew en Leoné buite die kombuis ken




