Tydens die nuweling uit kykNET se Kokkedoor-stal se eerste seisoen waar familielede in spanverband teen ander moes kompeteer, was dit behoorlik ’n perd, oftewel generasie, van ’n ander kleur. Benewens die familieverband tussen spanlede, moes daar ’n ouderdomsverskil van minstens 20 jaar tussen die twee wees.
Verwysings na Gen X en Baby Boomers het hier en daar begin opduik en net so gou weer verdwyn want een ding was duidelik: Hierdie spanne was beslis “Gen Onverskrokke” . . .
Alhoewel die Goue (pienk) Haan nie vir Andrew Anderson en sy dogter, Leoné Smit, beskore was nie, het hierdie twee weliswaar hul eerste plek diep in die harte van kykers se harte in-gekook.
Hul onvoorwaardelike liefde vir Andrew se oorlede ma, Marie, het in elke dis na vore gekom. En die twee het duidelik ook nie gehuiwer om hul emosies te laat seëvier nie. Kook kan die twee beslis, en dit was goed om te sien hoe pa en dogter nie net mekaar se roetine nie, maar ook meer van mekaar, in die vuurwarm Kokkedoor-kombuis leer ken het.
Wie’t gesê tweede prys kan nie ook ’n wenner wees nie? Andrew en Leoné het R180 000, geborg deur Spekko, ontvang.

Maar wie is Andrew en Leoné as hulle nie saam sake in die kombuis uitspook nie?
ANDREW

Jy’s ’n man van vele talente – wat onder andere die restourasie van voertuie insluit. Vertel ons gerus meer van jou gunsteling restorasieprojek?
Om mee te begin: Een van my eerste projekte was ’n rooi Hilux 4×4-bakkie en sy naam is Moeilikheid. Die manne sal verstaan hoekom as ek sê dit is die Y-reeks met die soliede voor-diff. Moeilikheid en my 1963 Chevy staan saam in my toegeboude motorhuis en wag vir die dag om die sleutel te draai. Om dit met my eie hande te kon doen, was baie lonend. Die Chevy is my volgende projek.
Jy en Leoné het aan die begin so half gesukkel om mekaar se roetine te vind. Hoe moeilik was dit vir jou om na haar te luister (veral met die sout)?
Ek dink vir enige ouer om na jou kind te luister, sal vir enigiemand uitdagend en moeilik wees want ons dink mos ons weet alles. Maar ons twee het gou mekaar se roetine gevind; en sy het leiding geneem in haar veld (wat byvoorbeeld bak is) en ek het leiding in my veld geneem met die vleis- en vis-uitdagings. Ons het die goue middeweg gevind, om te luister wanneer jy moet luister – en te doen wat jy moet doen.
Benewens jou familie – vir wie sal jy die graagste een van jou spesiale disse wil voorsit? En hoekom?
Ek sal baie graag vir Errieda [du Toit] ’n spesiale dis wil maak. Vanaf die eerste dag toe ek haar ontmoet het, was dit haar “moederhart” wat my vasgevang het. Haar hart spreek van die Vrug van die Gees: Liefde, sagmoedigheid, lankmoedigheid, omgee en empatie. Sy hoef nie baie te sê nie, of te doen nie. Maar aan die ander kant – om vir haar ‘n dis voor te sit sal ’n voorreg wees, maar ook uiters uitdagend!
As jy enigiets tydens Kokkedoor: Son & see sou kon oordoen, wat sou dit wees?
Beter vla maak met Maizena . . . En dan weergalm Herman [Lensing] se stem ook in my gedagtes: “Andrew, waar’s die sout?”

Vertel vir ons meer van hoe dit gevoel het toe jy vir die eerste keer die Kokkedoor– stoor binnegestap het en besef het van omdraai is daar nou geen sprake nie?
Ons was uit die veld uitgeslaan met die stel – die verskillende helder kleure en daardie spens! Ek was ook maar baie op my senuwees gewees want hier is ons nou en al die oë is op ons. As jy omdraai, kyk jy in ’n kamera vas. Ek het toe vir myself gesê: “Pastoor, hier moet jy jouself gedra”.
Hoe lank is jy reeds in die bediening – en hoe het jy daar beland?
Ek is al die afgelope 30 jaar in die bediening. My ouma het reeds toe ek nog ’n klein seuntjie was, vir my ouers gesê ek gaan eendag ’n pastoor word. Ek was soos Jona van die Bybel. Ek het in alles my heenkome gesoek en hard gewerk, maar tog was daar nog altyd die roeping vir die bediening wat ek moes volg.
In 1988 was ek in ’n groot motorongeluk betrokke waartydens my rug op twee plekke gebreek het en ek van vooraf moes leer loop. Ek was in daardie tyd in die Weermag en is huis toe gestuur om te herstel. In daardie tydperk van herstel het ek ’n werklike ontmoeting met die Here gehad en bonatuurlike genesing ontvang. Dit was my keerpunt.
Wat is die wildste ding wat jy nog ooit in jou lewe aangepak het? En wat is nog op jou emmerskoplysie?
Dit was beslis om die Comrades, Harrismith Berg-marathon en die Ysterman te kon voltooi ná my motorongeluk alhoewel dokters gesê het dit sal nie vir my moontlik wees om te doen nie.
Nadat ek ook ernstig Covid onder lede gehad het en dit my in die hospitaal laat beland het, het ons ’n motorfietsrit vanaf die Kaap na KwaZulu-Natal gedoen. Dit was ongelooflik – en ek sal dit baie graag weer wil doen, dié keer saam met my vrou, Leonie.
En natuurlik, wanneer my Chevy ten volle uitgesorteer is; sal daar beslis nog ’n road trip volg.
LEONÉ

Dis duidelik dat jou ouma Marie ’n baie groot kos-rol in jou en jou pa se lewe gespeel het, en nog steeds doen. Is daar egter een besondere eienskap van haar wat jou altyd sal bybly?
Sjoe, sy was ’n merkwaardige vrou. Sy het my geleer dat jy as vrou tot so baie in staat is. Ook dat jou hande nooit stil moet wees nie en dat jy jouself altyd moet uitdaag. “Don’t settle for less” want alles is moontlik as jy in jouself glo.
Het jy ooit verwag dat julle dit tot in die finaal sou maak? En hoe het dit gevoel toe Herman en Yolani julle daaroor ingelig het?
Ekhet dit glad nie verwag nie. Toe ek ons destyds ingeskryf het, het ek nog so ewe vir my man gesê ek kom dalk huis toe na Dag 1. En hier sit ek toe in die finaal! Dit wys net weer dat mens rêrig in jouself moet glo. Toe Herman en Yolani gesê het ons is deur na die finaal, het al die skoenlappers in die wêreld my maag kom invlieg. Dit was ’n ongelooflike lekker ervaring.
Wat het jy by die ander spanne geleer en is daar iets wat jy van hulle ‘ingepak’ het vir die onthou?
By elke span het ek geleer om jou familie en die mense wat die naaste aan jou is, te koester. Elkeen het op hulle eie manier mekaar aangevul en so goed saam met mekaar gewerk.

Jy is ’n bobaas-bakster. Wat is jou gunsteling wat jy graag vir mense voorsit?
Dit sal ongetwyfeld ’n sjokoladekoek en ’n lekker suurlemoentert met meringue wees – hierdie twee is my gunstelinge om te bak. Daai meringue wat so punt in die wind hoog in die lug instaan sorg altyd vir ’n lekker groot verassing vir jou gaste.
Hoe het jou gesin dit ervaar om jou op die kassie te sien? En is enigeen van hulle ook op dieselfde kosroete as jy?
My twee seuntjies het vir almal by hulle kleuterskool vertel dat hulle mamma op die TV gaan wees. Ek het baie lekker vir hulle gelag. Hulle was so trots en het dit verskriklik baie geniet. My middelste sussie is net so lief vir kosmaak en bak.

Wat is jou beste kos-herinnering van kleintyd?
My beste kos-herinnering van kleintyd is definitief Desember-vakansies. My tannie en my niggies het elke jaar al die pad van Upington af kom kuier saam met ons ander familie en dan was daar saans behoorlik kos gemaak. Die tafels het elke aand gekreun met kos – en dit sal ek nooit vergeet nie.
Lees ook: PAS BEKEND | Ontmoet die dames wat vir Ruan se hart meeding in Op my eish!
