In die derde episode van kykNET se nuwe koswerklikheidsreeks Kokkedoor: Son & see waai daar ’n verfrissende wind van vernuwing deur die Kokkedoor-stoor met oud en jonk in een span. En die generasiegaping van minimun 20 jaar tussen die twee spanlede van elk van die agt spanne wat deelneem, kan die senuwees al te lekker laat uitrafel. Die gas-beoordelaar vir hierdie episode weet maar al te goed hoe warm dit werklik in die Kokkedoor-stoor kán word, al was hy destyds net ’n skrale 13-jaar oue knapie met ’n groot liefde vir die kombuis.
Agt jaar gelede
Sy driegang-spyskaart wat hy vir die Kokkedoortjie-beoordelaars Mari-Louis Guy en Nic van Wyk moes voorberei, was sy eie interpretasie van Avokado Ritz (voorgereg), hoender cordon bleu (hoofgereg) en sjokoladepoeding met kersies (nagereg). En dit het hom die kroon van Suid-Afrika se eerste Kokkedoortjie besorg.
Ja, verklap Edwin Theron (21), hy was lank reeds vóór Kokkedoortjie meer tuis in die kombuis besig om te eksperimenteer en te kook as wat menige ander tieners van sy generasie was. Daar was wel tye wat hy onseker was oor sy pad vorentoe maar vandag is hy dankbaar hy het volhard en hy is diep dankbaar vir die ongelooflike mentors waarmee sy pad sedert daardie dag in 2017 gekruis het.
“As ek nou terugdink na destyds, vermoed ek dat ek nou meer onthou as wat ek daai tyd ervaar het. Ek onthou die glimlagte, die hartseer, die huil – van myself en die ander Kokkedoortjies. Die goed, die sleg, die mense wat agter die skerms vir ons duim vasgehou het. Ook vir ons aangemoedig het om aan te gaan.
“Ek besef nou eers hoeveel my ma, Marietjie, dáár was vir my.”
Agt jaar later het hy nog sporadies kontak met Christi Myburgh (naaswenner) en hy is om te sien hoe goed Christi deesdae vir homself doen. Terloops, Christi is ’n fyngebak-sjef wat vanjaar as die top-presteerder deur die Craft Guild of Chefs (Brittanje) aangewys is en ook ’n Royal Academy of Culinary Arts-fyngebak-finalis.

Generasiegaping en vergifnis
Kokkedoor: Son & see was vir Edwin ’n interessante ervaring, juis omdat hy nou soveel meer kos-kennis opgedoen het. Hy kon fokus op die interaksie tussen die verskillende spanlede terwyl hulle onder groot druk hul beste disse (en voetjie) moes voorsit.
Steeds self nog ’n jong man, het die samewerking tussen die familielede se jonger en ouer garde hom beslis beïndruk.
“Ja, soms was daar wrywing tussen oud en jonk, maar aan die einde deel hulle dieselfde emosies. Dan word die wrywing opsy geskuif en daai dis wat hulle saam berei het, word voorgesit. Dit was die spanne se kreatiwiteit, eerder as die disse self, wat my werklik beïndruk het.”

Die ewige student
Edwin is die toonbeeld van die ewige student.
“Ek glo, net soos wat ander sjefs dit mag ervaar, is die toekoms ’n bietjie van ’n mystery . . . Daar’s idees oor wat aangaan in hierdie absolute mal chaotiese, liefdevolle en passievolle bedryf wat heeltyd deur evolusie gaan.
“Vir my persoonlik sou ek graag oor vyf jaar onder merkwaardige mentors by wonderlike restaurante, hopelik een met ’n Michelin-ster, wil wees. En natuurlik om steeds te bly leer, my tegnieke te verfyn en my eie identiteit in my kos te kry.
“Ek is gek oor die idee van self-uitdrukking en evolusie, selfverbetering soos wat tyd aangaan. So ja, oor vyf jaar sal ek graag by ’n restaurant wil wees waar ek kreatief kan wees, waar ek nou al gegroei het tot op ’n plek waar ek dalk ’n leier vir ander jong sjefs kan wees.”
Maar het hy enige voorkeure van waarin hy dalk eendag sou wil spesialiseer? Hy erken dat daar nie ’n oorhoofse gedeelte is wat hom baie sterk aantrek nie, maar dit sal beslis iets “aan die vleiskant” wees.
“Ek hou ook van die kreatiwiteit, die losbreek daarvan, as jy fine dining doen mits jy die vryheid gegun word om te floreer. Vir my is die kans om te groei die belangrikste in ’n kombuis. Daarmee saam die motivering (onder mekaar), die lang ure en die saamtrek om daai disse te bedien . . . disse wat mense net wow! En hulle wil laat terugkom vir daai nostalgie van ma se kos wat hulle onthou.
Dis juis waarom die ikoniese koskenner en kookboekskrywer Errieda du Toit een van sy koshelde en -mentors is. Behalwe dat hy haar nog altyd as sy “kos-ma” beskou het, is sy een van die mense wat vergete generasies se disse lewendig hou.

Kragtoer . . .
Wat doen Edwin wanneer hy nie in die kombuis is nie? Laggend erken Edwin hy het ook kragoptel begin beoefen. Vir hom ver dit net soveel dissipline soos kosmaak. Dit gaan oor tegniek, roetine en konsekwentheid – alles eienskappe waarvan hy hou. Natuurlik speel die resultate daarvan ook vir hom ’n groot rol. So gedrewe as wat Edwin nou reeds is, kan daar net een antwoord op sy toekoms wees: Sukses.
Kokkedoor: Son & see word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Appels en tee se temalied word vrygestel
