kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks Kokkedoor: Son & see, wat nou einde se kant toe staan, het weliswaar kykers én deelnemers op ’n wipwarit van emosies, blydskap en verstommende disse geneem.
Hierdie was beslis ’n uitdaging wat groot eise aan elkeen van die deelnemers gestel het, veral vanweë die generasiegaping van minstens 20 jaar tussen die lede van elke span. Daar was elke denkbare kombinasie van pa en seun, ma en seun, ma en dogter, pa en dogter en natuurlik ook die geliefde tannie Marianne en haar susterskind, Ronelle.
Week na week het kykers saam met die spanne die sweet afgevee na elke fenomenale uitdaging. En natuurlik saam ook ’n traan of twee gestort wanneer daardie gesogte voorskote finaal opgehang moes word.
Van die agt spanne wat aanvanklik in Struisbaai die hitte van die kompetisie moes trotseer, het daar nou net twee spanne oorgebly: Andrew Anderson en sy dogter, Leoné Smit, en Hanna van der Westhuizen en haar seun, Dirk. Die twee spanne het deurentyd vir verrassende disse gesorg en gereeld óf die uitdagingsronde óf die Goue Middeweg-uitdaging gewen.
Hoe het hul pad tot hier geloop?
Andrew (57), die self-erkende “mal kamper” van Mtunzini, het aanvanklik gesukkel om na Leoné (30) te luister – sommer so met die intrapslag het dit begin toe sy hom berispe het oor te veel sout in hul dis. Hy wou nie bes gee nie, maar Leoné was reg. En die twee beoordelaars, Herman Lensing en Yolani Abrahams, het hulle aan Leoné se kant geskaar.
Maar Andrew het gelukkig hierdie boodskap vinnig aan boord geneem en besef dat daar tye is dat hy wel op sy dogter se instink in die kombuis kan vertrou. In die tweede episode het dit vrug afgewerp en het hulle die koekie-proe en -bak gewen.
En in die derde episode was dit hulle gesellige steak-ete wat hulle as die Goue Middeweg-wenners van die dag laat seëvier het.

Aan die ander kant van die spektrum het Hanna (58) en haar seun, Dirk (29), vanuit die staanspoor mekaar beter aangevul. Kalmer op die oppervlak, maar dit het tog soms gevoel of dit soos die eendjie op die dam-situasie is . . . waar alles op die oog af kalm lyk, terwyl daai pootjies teen ’n wilde spoed onder die water rondtrap.
Maar in die vierde aflewering het Hanna en Dirk hul ritme gevind. Hulle het, saam met Andrew en Leoné, die meeste pannekoeke binne ’n sekere tyd gebak. Hul vuurtjie het nog hoër gevlam toe hulle boonop die Goue Middeweg-wendis van die dag voorgesit het: ’n “Spaanse” pot en rooibostee-jellie saam met ryspoeding.
In die vyfde episode het die twee boonop dit reggekry om 18 van die 22 bestanddele in die eerste Kokkedoor-wenner en glanssjef Mynhardt Joubert se Kersvrugtekoek te identifiseer. Loshande bo die res van die ander spanne.
Toe hulle in die sesde episode weer die uitdaging om gourmet-toebroodjie met oorskietkos te maak, gewen het, het Dirk begin erken dat daar nou verwagtinge begin bestaan oor die pad na die wenstreep toe.

Tussendeur het Andrew en Leoné se disse eweneens vir Herman en Yolani beïndruk. Dit was duidelik dat die twee se verstandhouding met rasse skrede gegroei het – op ’n baie mooi manier. In ’n stadium moes Andrew erken sy dogter kan wel goed kook, en daar het die twee soos ’n geoliede masjien elke uitdaging en Goue Middeweg-take seepglad aangedurf.
Dit het vrug afgewerp, want die twee was in die sesde episode kop-aan-kop met Hanna en Dirk wat die top-2 disse in die Goue Middeweg-uitdaging aanbetref het.
Die spanne moes vooraf ’n kleur-tema kies – en die twee het geel getref. Dit was toe einste hul geel aanbiedinge wat gesorg het dat hulle hierdie keer as wenners aangewys is. Andrew kon sy trane nie keer nie en hy was baie ontroerd oor hoe Leoné volgens hom in sy oorlede ma se voetspore volg.

En té gou was daar net drie spanne oor met die aanbreek van die sewende episode. Caroline Linde en haar dogter, Anél van Niekerk, het steeds vasgebyt met harte vol hoop vir ’n plekkie in die finaal.
Maar weer was dit Hanna en Dirk wat met hul seekospizza en ouma Rita se klein viskoekies ’n Ooni-oond losgekook het. Die vreugde was groot . . . tot waar die glanssjef en gas-beoordelaar van die dag, Reuben Riffel, sy Goue Middeweg met die spanne gedeel het: Sy Arniston-wegbreeknaweek-visbord met verskeie addisionele komponente.
Dit was ’n oorstelpte Hanna en Dirk wat moes hoor dat hulle Reuben en die ander beoordelaars die meeste beïndruk het. Hulle was verseker van hul plek in die finaal!
Alhoewel Caroline en Anél hul absolute bes gelewer het, was hul drome van ’n plek in die finaal deur Andrew en Leoné uitgeknikker. Met ’n skewe glimlag het Andrew erken hy gaan dalk hierdie einste groente-besigheid op die vuur tuis probeer.

Nou het die tyd aangebreek om werklik klippe te kou – want enigeen van hierdie twee spanne beskik oor die vaardigheid en die potensiaal om met die titel as Kokkedoor: Son & see se eerste wenners bekroon te word.
Maak ’n nota, stel ’n alarm – want die agtste en laaste episode van hierdie skitterende reeks gaan jou nie teleurstel nie!
Kokkedoor: Son & see word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: 10 maniere om positief te bly


