In die vierde episode het gure weer amper die vakansiegees gedemp. Amper . . . want waar Kokkedoor: Son & see is, word daar altyd planne beraam om die pret te laat voortduur. Die beste teenvoeter was bordspeletjies. Maar beoordelaar en programaanbieder Herman Lensing het met die intrapslag gewaarsku: Min mense wil saam met hom bordspeletjies speel want hy hou nie op voordat hy nie wen nie . . .
Die spanne het natuurlik almal ook hul eie ervaring van bordspeletjies. Soos Frans van Wyk (51), funksiebeplanner en die bestuurder van ’n koffie- en blommewinkel in die Paarl, tereg opgemerk het, is Monopoly die speletjie wat hulle nooit klaarspeel in die huis nie.
“Daai is die baklei-game,” het hy tot groot vermaak van almal verklap. “Woede, kwaad . . . en die volgende oomblik wys hy die tipiese Van Wyk-gees. Die bord word só gemaak,” beduie hy met sy hande wyd uitgestrek en dan word dit toegeklap met ’n “ek is nou klaar!”
Gelukkig het Herman en mede-aanbieder en -beoordelaar Yolani Abrahams besluit om die vreedsame opsie te kies: Pannekoek eerder as onmin oor ’n bordspeletjie. Natuurlik was die kompeterende aspek deel daarvan. Wie kon die meeste pannekoeke in ’n kwartier opdis?
Die prys, geborg deur Penguin Random House Struik, was ’n kookboek-geskenkpak van R5 000 vir elkeen van die twee spanlede! Maar dit was nie al nie. Vir die Goue Middeweg-ronde het die pannekoek-wenspan 10 minute ekstra kooktyd bygekry.
Die ma-en-seun-span Hanna en Dirk van der Westhuizen het sowaar net soveel pannekoeke gebak as pa-en-dogter-span Andrew Anderson en Leoné Smit. Toe kry beide spanne die geskenkpak en ’n 10-minuut voordeel . . .
Die Goue Middeweg-uitdaging was een pot-, een pan- of een skottel-vakansiegereg. Genoeg vir vier honger mense! Elkeen van die spanne moes ’n sak uit die Sixty60-motorfietsjoggie se houer gaan haal het – en dit sou bepaal of die vakansiegereg hoender of maalvleis sou wees.
Hanna en Dirk het die uitdaging gewen met hulle “Spaanse” pot en rooibostee-jellie wat saam met hulle ryspoeding voorgesit is.

Frans en sy dogter, Una-Belle (19), was die twee slagoffers wat hul voorskote moes ophang. Rou hoender vir die pastorie-dis en ongaar rys vir hul pragtige ryspoeding het hulle opmars na die finaal gekniehalter.
FRANS

Daai pannekoeke wat nie wou saamspeel nie? Was dit ’n eerste vir jou en het dit jou ontstig?
Kyk, ek kán pannekoek bak. As ons daardie dag ons eie resep kon gebruik, sou die uitkoms heel anders gelyk het. Omdat ek nie die resep se “binnegoed” geken het nie, veral die hoeveelhede en die ratio eier tot melk/water, was dit moeilik.
Dit het my lekker ontstig. Ek dink families se plaatkoekie- en pannekoekresepte is soos heilige grond en jy hou vas daaraan want dit wérk. As ek daardie resep net so effe kon tweak met ’n ekstra eier en bietjie meel sou ek ook meer kon bak.
Jy het na jouself verwys as ’n “creative spanner”, maar jy klink na ’n voorslag-raakvatter. Watter kreatiewe deel van jou lewe geniet jy die meeste?
Ek is seker ’n raakvatter. As pa moet jy weet hoe om jou kinders so te lei dat hulle by die maak van keuses uitkom. Sonder daardie karaktereienskap is die lewe moeilik want jy kan nie besluite neem nie.
’n Creative spanner is ek beslis. Uit die aard van my werk moet ek mooi en logistiek saam kan laat dans en speel – en die een mag nie ’n persent meer as die ander wees nie want dan loop goed skeef.
Ek geniet nog altyd al die komponente van my werk. Ek is versot op ’n mooi tafel en ’n funksie wat goed beplan is, waar daar sinergie is tussen die wow!-oomblikke – van die mooi gedekte tafel tot die bord kos wat by die geleentheid pas. Daarmee saam ook die musiek, die stage en die waiter.
Waar ek as funksiekoördineerder en regisseur verantwoordelik is vir die inhoud van die geleentheid, hanteer ek dit nougeset en aandagtig – soms soveel so dat dit voel of ek reeds die funksie gehou het. Ek doen dit met passie en kreatiewe energie vir die perfekte ambiance.
Glo my, of ek in Franseman [Frans en Ronel se restaurant] se kombuis staan en ’n neongeel celebration-koek bak, ’n nuwe slaai praktiseer vir die somer of Duitse Kersfees-stollen [tradisionele Duitse vrugtekoek met marsepein] en koekies bak . . . dis alles sodat mense kan deel in my manier van Kersfees.

Vertel vir ons ’n bietjie meer van ouma Gerrie.
Ek dink die Ouma Gerries is die wereld is min. Dis daardie oumas wat nog gebak en brou het van opstaan tot laat in die nag as die suurdeegbroodjie moet rys. Die oumas van vandag hoef nie in te sit wat oumas 40 jaar terug ingesit het ten opsigte van beplanning nie.
Vandag help Ouma Woolworths en Ouma Checkers uit op dae van spanning wanneer die maak van lekker kos moeilik is. Dan haal jy klaar-voorbereide kos van die rak af en pak dit net op ’n mooi bord.
Die lewe het vinnig verander en so het Ouma Kentucky, Ouma Steers en Ouma Roccomamas eintlik die ware komponent van “hartskos” laat verdwyn. Die gesegde wat na die pandemie die lig gesien het, is in die kol: Niks is meer dieselfde nie.
Dis hoe dit vir my voel. Maar Ouma Errieda [du Toit] het weer die goue draad in ons familieresepte kom styf span en as ek my resepte van Ouma Gerrie, Ouma Tiekie en my Ma Ina of Ouma Ina maak, maak ek seker om die erns van die geskrewe te verstaan en die resep slegs te vernuwe sodat dit die toekoms verder kan ingaan.
Ons oumas was kosmakers, tuisteskeppers en huishoudsters. Hulle was oumas met groot boesems waar jy troos gevind het, waar jy drukkies gaan haal het en waar jy koekblikke oop- en toegemaak het vir ietsie lekker om aan te peusel. Hierdie oumas was voorslagsjefs, amper soos Ouma Julia Child. Oumas is die rede waarom familie se verlange na hulle kos vandag weer so belangrik is. Eet, kook en leef . . . familie bo alles!
Wat hou die toekoms vir jou in?
Met die Here se genade sal ek graag op my voete wil bly en dan ook die vertroue dat Franseman in Maart in Durbanville kan oopmaak. Die dag na Kokkedoor: Son & see het ek begin pen aan ’n boek oor familievakansies en kos langs die see. Ek het besef ons Namibiërs hou so ’n bietjie anders vakansie as die mense hier aan die suidpunt van Afrika.
Ek wil my koskennis verbreed en my familie en kos deel met stories en resepte van vakansies aan die Namibiese kuslyn en dit iets so besonders maak dat almal kan voel asof hulle die see by Swakopmund, Hentiesbaai en Langstrand beleef, selfs al is hulle duisende kilometers ver weg.
UNA-BELLE

Jy is ’n matriekleerling aan Hoër Meisieskool Paarl – hoe het jy skoolwerk en Kokkedoor: Son & see tussen alles deur bemeester?
Dit was een van die moeilikste dele van die hele ervaring. Ná Kokkedoor: Son & see moes ek regtig uit daai bubble klim. Dit het gevoel asof jy in ’n ander wêreld was, een vol adrenalien, kameras en kreatiwiteit.
Om dan weer in die gewone ritme van skoolwerk terug te val, was baie uitdagend. Ek het deur die vakansie ekstra klasse bygewoon om op datum te kom, en ek moes vier van my Junie-eksamen se vraestelle uitstel. Ek het dit toe die week voor skool heropen het, geskryf.
Maar ek kan opreg sê: ek sou dit nie kon doen sonder juf. Jackie Scheepers en mev. Mariana van Zyl nie. Hulle het my regtig so ondersteun, aangemoedig en my laat voel ek kan hierdie avontuur aanpak sonder om my matriekjaar op te offer. Ek is ongelooflik dankbaar en lief vir hulle!
Die tyd saam met jou pa tydens Kokkedoor: See & son – het jy iets van hom ontdek wat jou heeltemal verbaas het? En ook, iets omtrent jouself?
Kokkedoor het my op soveel vlakke geleer en dinge laat raaksien. Ek het ontdek hoe Pappa onder druk werk, hoe hy sy emosies wys, hoe hy uitdagings aanvaar, selfs al voel dinge soms oorweldigend, en hoe hy steeds probeer om my te ondersteun ondanks ons verskille.
Ek het gesien hoe ongelooflik lief hy werklik is vir mense, vir kosmaak, en hoe wys hy is. Sy liefdestaal is om vir mense te sorg deur kos te maak, en dit is ook hoe hy met mense kommunikeer, elke gereg en elke oomblik in die kombuis vertel ’n storie van sy hart.
Ek het hom ook op ’n manier gesien wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. My pa is ook net ’n mens en, soos ek genoem het, ’n teddiebeer. Ek het hom nog nooit so emosioneel gesien soos op Kokkedoor nie en dit het my laat besef hoe verkeerd mense dikwels dink oor mans en emosies.
Almal het die persepsie dat mans mag nie huil nie en dat hulle swak is as hulle huil, maar om hom so emosioneel te sien, het vir my net gewys hoe flippin sterk hy fisies én emosioneel is. My respek en liefde vir hom het net dieper gegroei.
Van myself het ek geleer om my eie stem te vind. Ek het geleer om op te praat wanneer dit nodig is, maar ook om stil te wees in die oomblikke wat dit regtig nodig is. Ek het geleer dat ek hou van praat en nuwe mense ontmoet. Ek het besef dat my pa tog meer weet as wat ek soms dink, en dat ek op hom kan vertrou.
Ek weet nog nie alles wat ek uit Kokkedoor geleer het nie of hoe ek presies gegroei het, maar ek weet dat Liewe Jesus ’n groter plan vir my het en Kokkedoor was een van die sleutels tot daardie lewensplan.

Is jy die enigste kind in die huis wat belangstel in kosmaak en gebak? Of help die ander twee graag – veral as jy bak?
Ek is definitief die enigste van die drie wat regtig tuis in die kombuis is. My boetie, Gert, en my sussie, Ane-Beth, eksperimenteer soms saam met my, en Ane-Beth vra ook af en toe vir raad of bak saam. Hulle help egter nie regtig graag nie, maar hulle hou eerder daarvan om hul opinies te lewer, veral Ane-Beth!
Toe ons jonger was, het ek, Ane-Beth, Gert en my twee niggies altyd MasterChef gespeel. Dit was vir ons altyd ’n groot avontuur, ons het probeer, eksperimenteer en sommer net pret gehad. Daardie herinneringe maak die kombuis vir my steeds ’n spesiale plek: ’n plek van leer, lag, en om klein oomblikke saam met die familie te geniet.
Wat beplan jy vir volgende jaar?
Ek het groot drome vir die toekoms, maar ek glo ook daarin om dinge stap vir stap te doen. Ek wil eers fokus op wat vir my betekenisvol is en dit is om te studeer in iets waarvoor ek regtig lief is. Ek gaan ’n brugjaar vat en met my matriekpunte aansoek doen om ’n kliniese sielkundige te word wat in kinderterapie spesialiseer, as dit die Here se plan is. Ook om kreatief te bly en om my eie pad te bou, selfs al lyk dit nie altyd soos almal s’n nie.

Wat het dit vir jou beteken toe Herman (self emosioneel) vir jou gesê het hy weet hoe dit voel om jonk te wees met ’n droom in jou hart, en dat hy kan sien kosmaak is in jou bloed?
Daardie dag was die emosies ongelooflik hoog. Ek was moeg, gespanne, oorweldig en terselfdertyd so vol dankbaarheid. Toe Herman in daardie sagter oomblik vir my sê dat hy weet hoe dit voel om jonk te wees met ’n groot droom in jou hart… dit het my regtig diep getref.
Sy woorde, dat hy kan sien kosmaak is in my bloed, het vir my baie beteken en my laat besef dat ek regtig op die pad is wat vir my bedoel is. Dit was vir my ’n kosbare oomblik wat ek vir altyd saam met my gaan dra.

- Die wenners van Kokkedoor: Son & see sal R500 000 ontvang, geborg deur World Sports Betting. Die tweede span gaan wegstap met R180 000, geborg deur Spekko.
Kokkedoor: Son & see word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: DIE WAG IS VERBY! |Een keer om die son terug vir ’n tweede omwenteling


