DeurMaretha Botes. Foto’s: Verskaf

Linza van Aswegen (70) ken die bitter daarvan om ’n ouer te verloor. Sy het albei haar ouers op 21 verloor en om dié rede is dit vir haar noodsaaklik om aan haar dogters oor te dra hóé belangrik emosionele veerkragtigheid is. Daarsonder sal ’n mens moeilik die uitdagings van die lewe kan navigeer. Die lewe is ’n lied, ja, maar as jy nie die vaardighede het om die uitdagings te trotseer nie, kan dié lied vinnig ’n nagmerrie word, sê sy.
Sy en haar twee dogters, Leré Heathcote (37), ’n prokureur, en René Jansen van Vuuren (47), ’n somatoloog, het op die ingewing van die oomblik besluit om vir ons ma-en-dogter-kompetisie in te skryf toe René se oog die advertensie vang terwyl sy deur ’n rooi rose geblaai het. Dit was juis tydens ’n spesiale fotosessie wat dié drie einde verlede jaar gereël het. “Ons het gedink dit sou ’n heerlike geleentheid wees om van deel te wees en iets wat ons drie se band selfs hegter sou maak,” sê Linza.
Sy straal van trots oor haar dogters. “Deur die genade is ek met Leré en René ’n dubbele porsie meisiemensvreugde toegedeel.” Hulle woon onderskeidelik in Pretoria en Johannesburg en het tussen die twee van hulle gesorg dat Ouma Linza sommer ’n vyftal kleindogters ryker is. Vreugde op vreugde!
Dié ma en dogters kan land en sand oor alles en nog wat gesels. Dis een van hul geheime vir hul kosbare verhouding. Daar word saam gelag, gehuil, gespeel en gedeel. Wanneer hulle kans kry om almal saam te kuier, is dit behoorlik ’n fees.
Linza sê: “Die spesiale dinamiek tussen ons klomp word gevoed deur wedersydse respek, eerlike kommunikasie, en onvoorwaardelike ondersteuning en liefde vir mekaar. Ons deel ’n onwrikbare geloof in ons Skepper. Dié kombinasie skep ’n veilige ruimte waar ons almal onsself met oorgawe kan wees.”
Maar soveel as wat goeie tye en mooi herinnerings met hul lewens vervleg is, is dié gesin ook hul deel van uitdagings en minder lekker tye toegedeel. Hul grootste uitdaging nog was toe Linza se man, Johannes, ’n veearts, met nierkanker gediagnoseer is. Dit was of hul wêreld in ’n oogwink in ’n warboel van onsekerhede verander het. “Dit was vir ons almal ’n groot onverwagse skok en ’n moeilike tyd, maar ons was daar vir mekaar, dag en nag. Ons het saam gehuil, gebid, gepleit by die Here, saam buite die teater gesit en wag en mekaar en hom net deurentyd ondersteun. Ná ’n suksesvolle nefrektomie is ons onwankelbare steun aan mekaar steeds daar,” sê Linza.
Daar is nóg tye wat hulle nooit sal vergeet nie, wat hulle veerkragtigheid tot op die uiterste getoets het. Linza vertel: “’n Klompie jare gelede het René-hulle se huis tot op die fondasie afgebrand. Leré het die nag daar by hulle oorgeslaap en dit was sy wat eerste daardie vroegoggend met die vlammehel teen die grasdak wakker geskrik het. Danksy Leré kon almal betyds wakker word en die huis ontruim, net voordat álles deur vlamme verswelg is. Ek was daardie tyd in Amerika met vakansie en het dadelik ’n vlug terug geneem. Dit was die langste vlug nóg. Ek het later gevoel ek kan vir my kinders uitspring en huis toe hardloop .
“Daar het ons besef dat aardse besittings binne’n oogwink tot waardelose as en ’n moddermoeras kan verdwyn nadat die brandweer daar was. Kosbare erfstukke, foto’s, juwele en alle sentimentele besittings was binne minute weg. Daardie verlies aan aardse dinge het ons net nader aan mekaar gebring. Dit het ons geleer om weg te gee, te deel, dankbaar te wees en mekaar te waardeer. Ons koester mekaar en ons koester die voorreg om mekaar te kan hê.”
Hul raad aan ander ma’s en dogters is om mekaar onvoorwaardelik lief te hê, want ’n mens weet nooit wat more bring nie. “Kommunikeer gereeld en moenie die klein vreugdes van gereelde saamwees misloop of gering ag nie. Dit vorm deel van jou en jul herinneringe en seëninge wat oor geslagte heen oorvertel en gekoester sal word.”
Gesels en draf snoer hulle saam

Daar straal ’n opvallende sagtheid uit dié ma en dogter. ’n Omgee vir ander. ’n Opregtheid wat hulle weerbaar maak in die stormgolwe van die lewe. Maar saam is Tania (53) en Lara Etzebeth (20) ’n sterk span, selfs in die oog van die storm.
Hulle woon in Bellville, Kaapstad, waar Tania in die finansiële bedryf woeker, en Lara ’n assistent- onderwyseres by ’n laerskool is. Dis uiteenlopende loopbane vir twee siele wat in baie opsigte dieselfde mens kon wees. Tania sê: “Ons is in baie opsigte soos vinkel en koljander. Ons is albei geweldig op ander ingestel en gee om as dit by mens en dier kom. Soms kyk ons net na mekaar, dan weet ons wat die ander dink.”
Elkeen het ook ’n goeie skeut kreatiwiteit weg. Tania sê: “Lara, ’n onderwyseres vir kinders in die intermediêre fase leef haar kreatiwiteit in die onderwys uit. Ek hou weer daarvan om innoverend en andersdenkend in my loopbaan te wees. Albei van ons hou daarvan om vernuwend te dink.”
Dit was so hittete of Tania en haar man, Clifford, het net een kind gehad. Hul oudste, Mark (25), is prematuur gebore. Met sy geboorte het die dokter besef Tania het ’n hartklep wat lek en genoem sy sal nie nog kinders kan hê nie. Maar ’n jaar later het haar ginekoloog wel die groen lig vir nog ’ n baba gegee, en nie lank daarna nie, is Lara gebore. “Van kleins af was ons band net só spesiaal. Sy is my bestie in meer as een opsig,” sê Tania.
Dié twee was in Januarie in Mauritius. “Ons het lank saam gespaar en besluit ons wil ’n girls only -vakansie op die eiland hê. Dis daar wat ons toe deur ’n rooi rose blaai en ons oog die ma-en-dogter-kompetisie vang. Ons het dadelik geweet dit is die ideale geleentheid om ons storie te vertel,” sê Lara.
Dis ’ n storie met sy wortels in ’n hartseer plek, tog syfer daar soveel mooi uit hul verhaal dat dit ’n mens geïnspireer en verwonderd laat oor die krag wat in dié twee vroue lê. Op 30 April verlede jaar –op Tania se verjaarsdag – het haar broer, ’n depressielyer, sy eie lewe geneem. Toe nie een van die familie hom die volgende dag in die hande kon kry nie, het Tania en Lara na sy huis gehaas en op sy lewelose liggaam afgekom. “Ek was in ’n toestand en het inmekaar gesak. Dit was so verskriklik. Ons was boonop alleen. Maar net daar het ek gesien watter sterk vrou Lara is. My man, Clifford, het die dag gaan jag en Mark bly in Hong Kong. Ek en Lara moes die situasie op ons eie hanteer. So seer as wat dit was, het sy my hart help heel maak. Dié aand het sy by my in die bed kom klim en gesê: ‘Mamma slaap nie alleen nie’.”
Tania, wat nog altyd gedraf het en drie marathonne voltooi het, het dié dag besluit sy kan nie ophou hardloop nie. “Ek het gou agter gekom dit is die beste plek om lékker te huil: So in die hardloop!”
Ná die traumatiese ervaring het Lara saam met haar ma begin draf en nie lank nie, of sy het haar eerste halfmarathon voltooi. En hoe lekker wedywer dié twee nie! “Daar is natuurlik geld op die spel. Die een wat gedurende ’n oefening of wedloop die ander een wen, moet ’n volgende keer albei se inskrywingsgeld betaal,” sê Lara. Tania sê laggend: “Ek sukkel deesdae maar om haar te wen! Sy’s veral vinnig op ’n 10 km!”
Om die kroon te span en dinge lekker prettig te hou, doen dié twee een keer ’n week saam ’n moderne dansklas. “Dis heerlik om ‘n dogter en bestie in een te hê,” sê Tania. Lara kruip steeds elke aand vir ’n rukkie by haar ma in voor hulle gaan slaap. “Dis die heerlikste geselstyd,” sê sy. Hulle raad aan ander ma’s en dogters is om nooit op te hou gesels nie. Dis die beste manier om mekaar te leer ken en om die bande al sterker te smee.
Praat en luister verstewig hul band

Die ma-en- dogter-duo Anina (55) en Bea le Roux (28) se wortels lê diep geanker in die hart van die wyndistrik op die plaas Rooiheuwel buite Wellington, waar hart en siel met al die mooi van berg en wingerd voorgesit word. Hiér het hulle geleer dat skoonheid ’n saadjie is, wat van binne af met geduld, liefde en respek groei. As jy vinnig na dié twee kyk, kan dit lyk of jy dubbel sien. Van die vonkel in die oë tot die warmte waarmee hulle oor hul spesiale verhouding gesels. ’n Verhouding met geloof as hoeksteen en wat versigtig met liefde gebou is. Bea, ’n kleuterskoolonderwyseres, het hulle in die geheim vir die ma-en-dogter-kompetisie ingeskryf en eers weer daarvan onthou toe sy die e-pos met nuus dat hulle een van die naaswenners is, ontvang het. Anina, wat ’n gastehuis op die plaas bestuur, vertel: “My hart het ’n paar slae gemis, want die foto wat die inskrywing vergesel het, was sommer so casual een wat oor Kersfees by die see geneem is …”
Anina, die Le Roux-gesin se steunpilaar, is laas jaar met osteoartritis gediagnoseer en die gesin het voor die werklikheid te staan gekom dat sy met uiterste pyn en fisieke uitdagings sou moes saamleef. Bea sê: “My ma het ons nog altyd gewys hoe om die lewe met geloof en ’n positiewe ingesteldheid aan te pak. Wat my die meeste beïndruk het, was die manier waarop sy die diagnose hanteer het. Sy het nie moedeloos geraak nie, maar haar geloof in die Here as haar grootste krag gebruik. My ma het haarself altyd herinner om positief te bly, haar liggaam nie te ooreis nie (’n reuse-uitdaging vir haar, want sy kan nie stil sit nie) en alles met ’n glimlag aan te pak. Ten spyte van dit alles, het my ma nooit ophou blom nie en is sy tot vandag toe nog vir ons die mooiste vrou en voorbeeld. Dit het nie net haar eie krag versterk nie, maar dit het ook ons gesin se verhouding verdiep. Ons het by haar geleer dat niks in die lewe jou kan onderkry nie, maar hoe jy ’n situasie hanteer die belangrikste is. Sy het ons herinner dat geen omstandighede ooit die krag van geloof, hoop en liefde kan oorweldig nie. Hierdie ervaring het ons verhouding laat groei omdat ons saam gesukkel het, maar ook saam oorwin het.”
Hulle droom saam om eendag ’n eie onderneming te hê – iets wat hulle kreatief besig sal hou. Bea sê: “Ek wil ook nog die wêreld saam met my ma platreis. Ek dink nie ek sal ’n beter reismaat as sy kry nie!”
Vir Anina is dit belangrik dat sy en haar dogter altyd oop gesprekke met mekaar sal hê.
“Ek glo dit is ook een van die redes vir ons mooi verhouding. Ons steek niks vir mekaar weg nie en gesels met mekaar oor alles – van ditjies en datjies tot ernstiger dinge. My droom vir Bea is natuurlik – soos enige ma – dat sy ’n mooi en gesonde huwelik sal hê, maar ook dat sy haar volle potensiaal sal bereik.”
Dit is dan ook hul raad aan ander ma’s en dogters as hulle ’n goeie verhouding wil hê: Kommunikeer altyd openlik en eerlik met mekaar.
“Dit is belangrik om nie net in die goeie tye nie, maar ook in die moeilike tye mekaar se hande te vat en saam deur die uitdagings te werk. Luister na mekaar, sonder om te oordeel, en wees bereid om te verstaan in plaas van net te antwoord. Glo in mekaar se potensiaal en wees daar om mekaar op te bou. Wees geduldig – ’n goeie verhouding word oor tyd en deur gedeelde ervarings gebou, of dit nou is om saam te lag, huil, of om net stil in mekaar se teenwoordigheid te wees. Moet ook nooit vergeet om elke klein oorwinning saam te vier nie, of dit nou ’n groot lewensgebeurtenis of iets klein is. Laastens, bou jou verhouding op ’n grondslag van geloof en liefde – dit is wat die uitdagings van die lewe sal oortref en die moeite werd sal maak.”

Is julle ‘n ma & dogter duisend? Wen pryse van meer R85 000!
rooi rose is weer op soek na ’n ma en dogter wat ’n baie hegte band het.
Vertel ons wat dit is wat jul verhouding so spesiaal maak en julle het ’n kans om ’n oormaak- en fotosessie deur Willem Botha en Willem Botha Beauty, ’n uitrusting vir elkeen deur Anel Botha Couture, ’n goue ring vir elk van Scherman’s en ’n geskenkpak vol skoonheidsprodukte van NUXE te wen. Jul fotosessie sal ook in ’n uitgawe van rooi rose verskyn.
Wat moet julle doen?
Stuur ’n foto van julle twee saam, beantwoord ’n paar vrae en betaal ’n inskrywingsbedrag van R100. Betaalopsie op die webwerf beskikbaar.
Klik hier om in te skryf!
Sluitingsdatum: 29 Januarie 2026
Lees ook: ONS KYK TERUG | Verlede jaar se ma-en-dogter-kompetisie-wenners!




