Showmax het pas die lokprent vir Vaal Riviera, ’n realiteitsreeks wat vier gesinne van die Vaaldriehoek volg, uitgereik. Dié Showmax Original-reeks begin op Vrydag 22 Augustus uitsaai.
Vaal Riviera word vervaardig deur POP24, dieselfde span wat met The Mommy Club: Van Die Hoofstad ’n rekord opgestel het vir die Afrikaanse program met die meeste kykers op Showmax.
Vanderbijlpark en Vereeniging, aan die oewer van die Vaalrivier, het nou wel ’n ander soort glans as Pretoria… En, hoewel dit klein dorpies is, is die drama ewe groot.

In Vaal Riviera is dit tyd vir die langverwagte ‘Opening van die Vaalrivier’ en vier gesinne van die Vaaldriehoek maak gereed vir die groot dag. Koelbokse word gepak en bote word reggekry. Kykers word in hul huise ingenooi sonder formaliteite, net die gewone werklikheid sonder enige filters. Blink motors, sterk persoonlikhede en familiedinamika ontvou terwyl almal vir die eerste keer by die rivier saamkom. Vriendskappe word gesmee, spanning begin broei en ’n mededingende binneband-resies stel die trant vir hierdie seisoen. Teen sononder bots sjarme en drama trompop, en onder die oppervlak van die feesvieringe begin iets dieper roer. Die Vaal Riviera – waar die rivier meer onthul as wat dit verbloem.
Ontmoet die families:
DIE ARANGIES

Een ding omtrent die Arangies? Hulle doen niks halfpad nie. Bernelee is dapper, brutaal eerlik, en nooit sonder ’n skerp woord op die tong nie. Bernelee is ’n kantoorbestuurder, en haar man, Charl, is ’n renmotorbestuurder en hoof van die familiebesigheid. Hul dogter Allegra is wyser as haar jare en weet presies wat sy wil hê. Intussen is klein Aaliyah ene vuur en flair.
DIE DEYSELS

Die Deysels is moeiteloos modern, maar tog diep konserwatief. Riandi is kalm en beheersd soos sy die uitdagings van haar loopbaan, moederskap en die bou van ’n nuwe huis met gemak hanteer. Haar man, Jay Jay, straal cool pa-energie uit en besit ’n hele paar besighede. Hul kinders, Zaya en Jax, is reeds sosiale media-sterre in hul eie reg – mini-sakemagnate met ernstige doelwitte wat motors betref. Die Deysels hou dinge netjies, beheersd en omsigtig geselekteer.
DIE SNYMANS

Die Snymans vat dinge een dag op ’n slag. Rianza is ’n tuisbly-ma met ’n kreatiewe streep en ’n skerp oog vir die mooi in die lewe, of dit nou grimering of huisontwerp is. Haar man, Ruhann, is ’n narkotiseur wat voortdurend sy hospitaalure met sy huislewe moet balanseer. Hul drie kinders bring elkeen hul eie kleur na die gesin. Milané is intelligent, met groot doelwitte en ’n groeiende aanlyn-aanhang. Sebastian is bedagsaam, saggeaard en steeds besig om sy pad te vind. En klein Lika is die lewe van die partytjie, vol nimmereindigende energie.
DIE SWARTS

Die Swarts is die ideale mengsel van elegansie en eiesoortigheid. Lané, die matriarg wat haar storie rondom eiendomme ken, bestuur die huishouding met ’n gemanikuurde vuis. Dít terwyl Corrie, haar aantreklike “trofeeman”, stilweg as ’n geheime wapen ingespan word. Tussen eiendomstransaksies, internasionale wegbreke en laatnag-speletjiesaande, is die Swarts alles wat die ander gesinne beny en in die geheim oordeel. Hul seuns, Tristan en Louen, is oulik, goedgemanierd, en onverwags perfek.
Lea Knoesen, reeksvervaardiger by POP24, sê: “Vaal Riviera is moet-kyk-gesinstelevisie. Daar is geen teks wat gevolg word nie, dit is eg, diep menslik en nie afgewater nie. Dit het iets vir almal in die gesin – van die volwassenes, die mans en die vroue, tot die kleintjies. Of dit nou die drama, die lag of die hart is, daar is ’n stukkie van die werklike lewe hier waarby enigeen kan aanklank vind.”
KYK | Vaal Riviera se lokprent

Stroom Vaal Riviera op Showmax vanaf 22 Augustus, met nuwe episodes op Dinsdae.
Lees ook: My f*k, dis nou ’n fliek! Marelize & gesin se hartroerende verhaal binnekort op die grootskerm
