Ontmoet Izele van Blerk en Narina Cloete, vroue van die wingerdstok

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Reel Productions Stephan en Lizé Coetzee en Lauren Fredericks

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Izele van Blerk noem die Paarl huis en Narina Cloete weer Stellenbosch; en dis hier waar hulle hul wynmaakdrome uitleef en groot hoogtes bereik.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Izele van Blerk

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Izele leef volgens die mantra “verwag die onverwagte”. Sy sê dit bied die stimulasie waarna sy streef en hou haar terselfdertyd op haar tone, om nog hoër te gaan.

Dis juis daardie onverwagte wat haar in die wynbedryf laat beland het. Haar suksesvolle hoërskool-tennisloopbaan het haar met ’n sportbeurs in die VSA laat beland. Sy het ook pluimbal vir Suid-Afrika gespeel en is in graad 7 as Junior Sportvrou van die Jaar in Suid-Afrika benoem. ’n Besering het haar laat terugkeer huis toe en ná ’n BSc in wingerd-en-wynbou-kunde, het sy in 2009 by KWV begin werk.

“My oorlede pa, Chris de Villiers, het wingerd-en-wyn-kunde op Elsenburg studeer. Hy was ’n toegewyde wingerdkundige, en ek het dus in ’n huis grootgeword waar wingerd en wyn ’n groot passie was. As ek nie op die tennisbaan was nie, het ek saam met my pa deur die wingerde gery en elke keer iets nuuts van die natuur geleer.”

Gedurende haar 15 jaar by KWV, het sy haarself bekwaam in verskeie ander aspekte van wynmaak waaronder oeste in ander lande, wynbeoordeling, diplomas en die uitbreiding van die KWV The Mentors-reeks – die wynkelder se premium wynreeks wat plekspesifieke terroir beklemtoon.

Haar energieke en humoristiese aanslag tot wynmaak haal die vooropgestelde vrese en snobisme oor wyn uit. Jy wil ’n glas wyn saam met haar drink, net om te hoor hoe passievol sy daaroor kan gesels en hoe eenvoudig sy terroir, wynmaaktegnieke en haar liefde vir versnitte verduidelik.

Sy het al verskeie kere geskiedenis met van die wynbedryf se gesogste oorwinnings en trofees gemaak. Drie hiervan staan vir haar uit: “Ons het geskiedenis gemaak toe die The Mentors Orchestra 2018 in 2020 die eerste rooiwyn was om die gesogte Veritas Vertex-trofee vir die beste wyn van die kompetisie te ontvang. Om dit vir ’n tweede keer by die 2024 Veritas-geleentheid met die The Mentors Perold 2020 te behaal, was een vir die boeke. Wat my regtig trots maak, is dat verskeie wyne in The Mentors-reeks beoordelaars beïndruk, soos The Mentors Cabernet Franc 2019, wat by die 2022 Decanter World Wine Awards as die beste wyn van die skou aangewys is. Dit was dus een van die top-50-wyne by hierdie kompetisie in Londen waar 18 000 wyne van om die wêreld heen geproe is . En dan moet ek nog een byvoeg – die jaar toe KWV as die beste kelder by die 2015 Jongwynskou uitgeblink het en die Pietman Hugo-trofee huis toe geneem het. Ons het dié dag ook die beste wyn van die skou gewen en daarmee die gesogte Generaal Smuts-trofee ingepalm.”

Op ’n persoonlike vlak was haar tennisbesering haar grootste uitdaging. Sy vertel: “My toekoms was amper vooruitbeplan en my drome groot. Alles het binne ’n oogwink verander. Alles waarvoor ek tien jaar lank gewerk het en my droom om ’n professionele tennisspeler te word, was aan skerwe. Hoe begin ek oor? het ek gewonder. As ek terugkyk, kan ek nie beskryf hoe dankbaar ek vir my familie en hul ondersteuning was nie. Hulle het my gou laat besef daar wag ’n mooi toekoms buiten sport vir my. My ma, Isobel de Villiers, bly my rots en is die sterkste vrou wat ek ken.” Izele vertel dat haar biologiese pa, Alex, oorlede is toe sy agt jaar oud was. “Dit het ’n groot invloed op my lewe gehad. My ma het drie dogters met gelyke geleenthede grootgemaak. Sodra iets groots in jou lewe gebeur, het jy ’n besluit om te neem: Staan jy op en pak die wêreld aan, of verkies jy om in ’n hoekie te gaan sit? Ek het nog elke keer gekies om op te staan en die lewe as ’n voorreg en ’n uitdaging te sien.”

Die Mentors-reeks is haar oogappel. “Ons werk al 15 jaar lank aan hierdie projek wat beteken dat ons nooit stilsit om die kategorie en aansien van premium wyne te groei en sodoende keer op keer topgehaltewyne te produseer nie. Ek kyk terug na waar ons met die handelsmerk begin het, hoe dit saam met die tyd vorm aangeneem het en danksy konstante prestasies voorlopers in hul soort geword het. Dit maak my ontsettend trots.”

Sy lag as sy vertel dat die snaaksste vraag wat sy al as wynmaker gekry het, is of wynmakers bessies of appelkose by die wyn gooi om dié geure te kry. “Die beste manier is om alles stap vir stap te verduidelik en by die wingerd en die chemiese samestelling van die druiwe te begin. Jy moet mense se aandag hou en mooi verduidelik hoe geure ontwikkel en hoe giste ’n invloed op aromas kan hê, sonder dat hulle verleë voel.”

En gepraat van verleë – dis iets wat Izele nie in haar woordeskat ken nie. Sy deel ruiterlik dat sy flou word as sy bloed sien; haar kos op haar bord mag nie aanmekaar raak nie; en sy weier om pampoen te eet, omdat haar ma vir haar as kind gesê het pampoen laat jou hare krul en haar hare krul genoeg!

Sy sê wynmakers se rol het die afgelope paar jaar dramaties verander. “Ons maak nie net meer wyn nie. Jy is betrokke by alle aspekte van die wyn – van die wingerd tot die wynmaak – en jy moet verstaan hoe dit finansieel afspeel terwyl jy mense bestuur en die bemarkings- en verkopekêppie moet dra. Ek geniet laasgenoemde besonder baie, omdat dit die kritieke aspek insluit om dit wat jy maak aan mense te kan verkoop.”

Sy sien uit na die res van die jaar. “Die Mentors-kelder word deur innovasie en interessante eksperimente gedryf. Elke jaar werk ek met nuwe en unieke kultivars. Ons bring jaarliks ’n beperkte uitgawe vir The Mentors uit en glo my, dis iets om na uit te sien. Dan vier ons vanjaar pinotage se 100ste bestaansjaar – so daar wag baie feesvieringe vir ons én elke wynliefhebber!”

Intussen wil sy nog meer mense van wyn leer. “Ons as wynmakers het ’n verantwoordelikheid om die jonger generasie te lei en te leer sodat hulle verstaan waaroor die wonderlike produkte gaan wat ons produseer. Ek wil my kennis deel en mense oor Suid-Afrikaanse wyne opgewonde maak, want ten spyte van pryse en trofees, besef die wêreld steeds nie die omvang van die gehalte van ons wyne nie.”  

Narina Cloete

Narina Cloete is die afgelope nege jaar by Blaauwklippen en het ná haar honneursgraad in wynkunde (cum laude) in 2008 as assistent-wynmaker by Quoin Rock Winery aangesluit en van 2010 tot 2014 as wynmaker daar gewerk.

Sy is op Kroonstad in die Vrystaat gebore en hul gesin het na die Kaapse wynlande verhuis toe sy in graad 3 was.

Sy vertel dat sy destyds tussen wynmaak en grafiese ontwerp moes kies. “My keuse het op wynmaak geval, aangesien ek van my passies kon vermeng: kuns/kreatief wees, chemie, biologie en die natuur. As ek weer iets moet studeer, sal dit perfumery in Grasse, Provence wees.”

Narina spog met ’n uitgebreide ervaringsveld van verskillende wyn-terroirs met oeste by Glen Carlou Vineyards, Dornier Wines, AA Badenhorst Family Wines en Stellenzicht Wine Estate. Sy is een van die blink sterre in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, wat nie net in die kelder nie, maar ook op beoordelaarspanele haar slag wys. Sy dien onder meer as beoordelaar vir die SA Jongwynskou, FNB Top 10 Sauvignon Blanc, Cape Vintner Classification, Blaauwklippen Blending Competition, Veritas en die Trophy Wine Show. Sy het ook in 2018 in Spanje by die Zarcillo International Wine Competition beoordeel.

Haar rits toekennings sluit van die wynbedryf se gesogste oorwinnings en trofees in, en haar persoonlike gunstelinge is die dubbelgoud by Veritas 2022 vir die Blaauwklippen Malbec 2020 (die eerste dubbel goud vir Blaauwklippen in ongeveer 20 jaar). Sy het ook goud ontvang by Trophy Wine Show 2024 vir die Blaauwklippen Chardonnay 2023 (die Blaauwklippen Chardonnay 2023 is die tweede oesjaar chardonnay wat deur Blaauwklippen geproduseer is ná ’n gaping in produksie van ongeveer 30 jaar vanaf 1993).

Maar vir haar is die veranderinge wat sy die afgelope nege jaar op die plaas teweeg gebring het, haar persoonlike hoogtepunt.

Sy erken: “Wynmaak bly ’n harde en uitdagende, maar baie interessante werk. Geen dag is ooit dieselfde nie. Elke wynmaker het ’n styl en persoonlikheid wat hy of sy tot die wyn bydra. Dit is deel van die kuns agter die wynmaakproses. Oor die afgelope jare dink ek die verbruikers (veral) verstaan dit al hoe meer.”

Sy wil in die toekoms met cabernet sauvignon en chardonnay uitblink en malbec nog verder vir Blaauwklippen neem.

“Ek geniet dit om daagliks na klein spesiale oomblikke te soek, dit in te neem en ’n herinnering daarvan in my kop te hou – daardie klein seëninge.” Sy sien uit na die aanplantings van cabernet sauvignon in Junie vanjaar, met die oog op ’n Reserve Cabernet Sauvignon vir Blaauwklippen.

Haar grootste persoonlike uitdaging wat sy moes oorkom, is toe sy al twee haar ouers vroeg in haar lewe verloor het. “Dit het my geleer om elke dag voluit te leef,” vertel sy.

As sy nie in die wingerde of kelder doenig is nie, geniet sy skilder en kreatief wees en sy het haar eie klein handelsmerk, Sparrow Nest Creations, geskep wat ’n platform is waarop sy al haar kreatiewe projekte deel waarmee sy in haar vrye tyd besig is. Dit sluit onder meer akrielskilderye, potploodsketse, vinielplakkers en -teëls en parfuum in.  

Kyk saam met ons:

rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.

Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.    

Lees ook: Nuwe eet-ervaring by Paul Clüver Family Wines laat kos en wyn saam pronk

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

‘Die Kwiksilwers’ breek plaaslike loketrekord & en speel langer landswyd!

Die Kwiksilwers, vervaardig deur Sanktuary Films en geregisseer deur Jordy Sank, vertel die verhaal van vier bejaarde…

9 hours Gelede

‘Net mens’ se nuwe seisoen verken moederskap, verlies en hoop

Van die bruisende strate van Johannesburg tot die wilde skoonheid van Limpopo se bosveld, en…

9 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Arno Greeff oor ‘Die nuusmakers’ en sy nuwe musiek

Met meer as tien jaar se ondervinding in die vermaaklikheidsbedryf is Arno Greeff lankal nie…

11 hours Gelede

Roscoe groet ‘Die brug’ in riller-episode: ‘Ek het ’n voorgevoel gehad’

Chaos het weer geheers op kykNET se Die brug, toe episode vyf die seisoen se grootste…

12 hours Gelede

Groot sjokolade-en-bosbessie-kraakkoekie

Genoeg vir 6-8   Bestanddele   280 ml (1 k + 2 e) sagte botter…

1 day Gelede

Hoenderaftreksel

Maak jou eie hoenderaftreksel. Hierdie resep lewer sowat 2,5 liter. Deur Vickie de Beer

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.