kategorieë: In die nuus

Is jy ’n kompulsiewe koper?

“Ek is ’n tweegesig.” Hoewel Rentia Malan* se stelling ’n poging tot die waarheid is, sien sy steeds nie kans om haar gesig en haar naam aan dié artikel te koppel nie. Sy spring van “ek sal alles vertel” na “daar’s nie eintlik ’n storie nie”, terwyl haar gerieflike motor kreun onder die pakkies van haar pas afgelope inkopietog. Rentia is ’n impulskoper. “Vir ’n buitestander sal my lewe seker gerieflik en sonder probleme lyk,” het sy met ons eerste ontmoeting versigtig begin, waarna sy die onderhoud onverwags kortgeknip het. Ek was verbaas toe sy twee dae later bel en sê dat sy wél wil voortgaan. Dit blyk dat Rentia feitlik die einde van haar uitgebreide kredietlyn bereik het, en die paniek jaag haar net meer tussen die winkelrakke in. “Ek kon die laaste vyf jaar met vernuf ’n mate van finansiële juggling doen,” erken sy, en verklap dat sy ingenome gevoel het met haar vindingrykheid. Maar die skrif is aan die muur en Rentia is bevrees sy gaan ontmasker word. “Mario* is ’n goeie eggenoot, maar hy het baie definitiewe idees omtrent die huwelik en ’n vrou se rol daarin, en ek het beslis ’n klomp van ons ooreenkomste oortree – sonder sy medewete.” Haar stemtoon is kalm asof sy van die onlangse goeie reën praat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Feite

• 90% van alle inkopieslawe, is vroue.
• Navorsing wat Thomas O’Guinn en Ronald Faber in 1992 gepubliseer het, het bevind dat die probleem in die Verenigde State van Amerika net so groot soos diabetes en depressie is.
• Impuls: ’n Sterk, skielike begeerte om tot ’n handeling oor te gaan sonder vooraf besinning.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die volgende oomblik bars sy in trane uit. “Ek leef op die rand van ’n afgrond!” Rentia se skuld beloop sowat ’n halfmiljoen rand. Mario het onlangs begin kyk na vakansie-eiendomme waar sy gesin kan ontspan, en Rentia besef hy gaan binnekort die ware toedrag van hul finansiële sake ontdek. “Mario is ’n doelgerigte man.

Hy reis baie en het ’n veeleisende beroep met lang ure. Ek bestuur ons huislike sake en finansies. Hy word heeldag deur probleme gekonfronteer en verwag ’n rustige omgewing waarin hy kan ontspan wanneer hy tuis kom. Hy voorsien ruimskoots vir ons en verwag dat alles perfek moet wees.” Voor hul huwelik het albei tot die praktiese ooreenkoms ingestem. Haar hare wat volgens die jongste modestyl en –kleur gestileer is, salonnaels en vlekkelose vel getuig van ’n begroting wat vir pamperlang voorsiening maak. “Mario het hoë standaarde en ek moet gereeld aan sy sy wees met onthale,” beduie sy argeloos na haar paar ingevoerde polvye wat prysgewys gewis menige vrou se totale maandelikse inkomste ewenaar. Maar hoe is dit dat Mario nie bewus is van al die oordadige aankope nie? Hy klink soos ’n man wat oplet na detail en hou van dinge soos dit is?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek neem nooit al my inkopies huis toe nie,” help sy my reg. Toe haar pakkies te veel word om ongesiens te akkommodeer, het sy ’n pakkamer, ruweg so groot soos ’n motorhuis, gehuur waarin sy haar aankope kan opgaar. “Dis geheel en al privaat. Net ek het ’n sleutel en kan enige tyd sonder enige vrae daar aandoen. Die maandelikse huur is nie te veel nie, en ek het algehele privaatheid.” Sy kikker merkbaar op by die noem van die pakkamer. Maar gebruik sy nie haar aankope nie? ’n Effense blos is sigbaar op haar goed versorgde gelaat. “Ek kan nie eintlik alles onthou wat ek al gekoop het nie. Ek maak nooit die bokse en pakkies oop nie.” Aangesien die meeste mense koop uit nodigheid of die behoefte om iets te besit, moet jy vra “hoekom dan?” “Dit is vir my lekker dat alles daar bymekaar is, waar ek daarna kan kyk. Ek sit op ’n gerieflike leunstoel wat ek spesiaal vir dié doel gekoop het en kyk na die honderde pakkies wat plek-plek tot teen die plafon gestapel is. Dit laat my ‘iets’ voel wat ek nie kan verduidelik nie”. Sy bly ’n oomblik stil terwyl sy nadink. “Ek hoef dit ook nie te verduidelik nie.” ’n Sweempie nukkerigheid is skielik deel van die atmosfeer. Sy begin in alle erns om haar optrede te regverdig en haar onderneming om hulp te soek, klink oortuigend, maar ek kan nie help om te wonder nie …

Maar daar het ’n kilte in die onderhoud ingesluip en sy groet my baie formeler as toe sy by my aangesluit het. Net voor sy in die lushof van ’n duur winkel verdwyn, kyk sy vir ’n laaste keer om na my – en ek bly agter met die beeld van ’n vrou wat goed lyk en sterk voorkom, maar eintlik vreeslik weerloos en eensaam is.

*Skuilname

Is jý ’n impulskoper?

• Gebruik jy sonder uitsondering inkope om jou op te kikker as jy “af” voel?
• Bestee jy meer as wat jy kan bekostig?
• Koop jy dinge wat jy nie nodig het nie, en is jou aankope onbeheers?
• Is sommige van jou inkopies onoopgemaak of versteek?
• Voel jy skaam en verleë oor jou optrede?
• Sal jou lewe enigsins minder betekenis hê as jy ophou koop?
• Het jy al probeer om jou gedrag te verander – sonder sukses?

Wat sê die kenner?

Sommige kenners redeneer dat inkopieverslawing eerder ’n vorm van obsessief-kompulsiewe neurose of ’n impulsbeheer-neurose is soos met bingeeating of kleptomanie, want die woord ‘verslawing’ is eintlik ’n verouderde sinoniem vir afhanklikheid – veral fisieke afhanklikheid.

“Wat wel waar is, is dat kompulsiewe kopers dieselfde high ervaar wat iemand beleef wat aan dwelms verslaaf is,” sê dr. Ria van Niekerk, voorheen verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

“Die koper glo aankope sal haar beter laat voel – en kortstondig is dit die geval. Hulle sal veral die winkels invaar wanneer hulle depressief, eensaam, verveeld of kwaad is.” Maar die nadraai is dieselfde as met enige ander verslawing. “Terwyl hulle inkopies doen, en op ’n high is, sal hulle dikwels uitspattige bedrae bestee aan goed wat hulle nie nodig het nie. Jy sal dikwels items in hul kaste kry wat nog ’n etiket aanhet.

“Die belangrikste om te onthou is dat só iemand nie rasioneel optree of handel nie,” tree sy in die bresse vir ’n gedragsafwyking wat dalk vir ander na pure bederf klink. Is impulskoop vergelykbaar met ander verslawings? “Die wetenskaplike naam vir impulskoop is oniomanie. Dit het in die verlede nie erkenning gekry as ’n gedragsafwyking of verslawing nie, maar deesdae is impulskoop ’n erkende probleem.

Dit gaan nie vir hulle oor wát hulle koop nie, dit gaan oor die proses. Wanneer die euforie van die inkopietog verby is, soos die geval met alle verslawings, is die resultaat oorweldigende skuldgevoel, skaamte en selfverwyt. Dit lei tot ’n onhanteerbare gevoel van wanhoop – en die enigste kuur in die oë van die verslaafde is om weer toe te gee aan die impuls om ontslae te raak van al die negatiewe emosies wat hulle dikwels nie kan hanteer nie.”

Hoekom is veral vroue inkopieslawe?

“Kyk ons na ons oerouers, was mans die jagters en vroue die versamelaars. Vandag nog is winkel toe gaan in die meeste verhoudings die vrou se afdeling. Dit is ’n bekende omgewing en in baie gevalle die enigste plek waar ’n vrou ‘vry’ voel. In baie verhoudings is die een party sterk dominant en die ander een inskiklik. Wanneer die inskiklike party oormatig gedomineer voel of inherent ongelukkig is en selde geleentheid het om die ware self uit te leef binne die normale kon-teks van die huwelik, is gedragsafwykings soos koopverslawing ’n gevolg.”

Hoe begin dit?

“Die eerste aankope is dikwels onskuldig. Maar sy ervaar genoegdoening, en as daar dalk ’n ongeoorloofde item ongesiens onder haar man se neus deurglip, gee dit haar moontlik ’n euforiese gevoel van mag en beheer – iets wat sy nie in haar verhouding het nie. “Haar waagmoed sal toeneem en die doel van die inkopies is nie in die ‘wat’ nie, maar in die aankoop en verdoeseling daarvan. Namate die aankope toeneem en sy daarmee ‘wegkom’, is dit moontlik dat sy perspektief sal verloor. Baie inkopieslawe sal buitensporige maatreëls tref om hul inkope weg te steek. Dit is in baie gevalle vir hulle lekker om ’n ‘geheim’ te hê. ” Besef die mense hulle het ’n probleem? “Miskien nie aanvanklik nie, want sy glo dalk dat sy dit kan beheer. Maar wanneer die siklus toeneem, sal sy weldra weet sy is buite beheer.” En die gevolge? “Omdat hulle buite beheer koop, sal hulle vroeër of later in ’n geldelike verknorsing beland. Dit kan lei tot skuldeisers wat gedurig bel en deurentyd neem die spanning toe, wat weer aanleiding gee tot impulskope. Verhoudings, haar werk en die gesin se struktuur asook finansiële sekuriteit kom alles in gedrang wanneer die onbeheerste inkopietogte nie aandag kry nie.”

Ria sê dat inkopieslawe dikwels multiverslaaf is en ook ’n ander afhanklikheidsprobleem kan hê, soos die misbruik van medisyne of alkohol. Wat van die gesin? “Baie mans wat gewoond is om in beheer te wees, is heeltemal oorbluf wanneer die onthulling gemaak word. Baie vroue kies om in ’n “neutrale” omgewing met die sak patats vorendag te kom, soos by ’n berader of in die bankbestuurder se kantoor omdat hulle die man se reaksie wil verdun.” Sy sê dat die man hom gewoonlik in ’n groot mate blameer omdat hy, wat veronderstel is om in beheer te wees, die fout gemaak het om sy vrou te “vertrou” om met die finansies te werk. Hy sal voel dat hy gefaal het. “Vir gesinslede wat bewus is van die probleem, is dit ’n skrikwekkende en onvoorspelbare lewe. Hulle sal toenemend ontoereikend voel om te help en desperaat sukkel om dit te verwerk dat iemand vir wie hulle lief is, blykbaar met opset of sonder verantwoordelikheid stap vir stap hul lewe en sekuriteit verwoes.”

Praktiese handleidings tot hulp

I Shop, Therefore I Am: Compulsive Buying and the Search for Self (Aronson, 2000), asook Addictions: A Practical Handbook (Wiley, 2004) deur dr. April Lane Benson.

’n Reeks doeltreffende behandelings is beskikbaar, soos medisyne, individuele terapie en groepterapie.

http://www.help-for.com

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.