kategorieë: Ouerskap

Pa-wees: Is jy mans genoeg?

Daar is dinge waaroor mans nie maklik praat nie, en wat die gemeenskap ook verkies om te verswyg. Nie weens een of ander sameswering nie, maar omdat dit gewoon nie deel vorm van die kwessies waaroor ons sonder meer gesels en sommer ook goed warm kan word nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Een van dié sake is die emosionele wonde wat mans opdoen, veral dié wat met hul pa’s te make het. “The most universal wound,” sê die Franciskaanse priester Richard Rohr, “is fatherlessness – a lack of engagement.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hierdie fatherlessness is moeilik om in Afrikaans te vertaal, maar jy kan jou sommer hier en nou afvra of jy ooit ervaar het dat jou pa in een of ander opsig afwesig was. Was hy fisiek of emosioneel onbeskikbaar, of “afwesig” deurdat hy die vrymoedigheid of die woordeskat kortgekom het om oor belangrike onderwerpe met jou te praat? Dalk was hy nie daar toe jy hom nodig gehad het nie; weens loopbaanomstandighede, werksdruk, ’n egskeiding, of ’n voortydige dood. Miskien het hy die gesin in ’n stadium verlaat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Fatherlessness kan talle vorme aanneem en om dit in jou eie lewe na te spoor impliseer nie ’n heksejag of ’n poging om jou pa te kritiseer nie. Dit het veel eerder die doel om jou bewus te maak van wonde in dié verband sodat jy jouself beter kan begryp en, wie weet, genesing kan ervaar. Die energie wat jy nie ontvang het nie, kan jy immers nie aan ander gee nie – nie as lewensmaat, vriend, kollega, familielid óf as pa vir jou kinders nie.

“Wonde kom van pa’s wat ’n dogter wou gehad het en toe ’n seun gekry het, ’n kunstenaar pleks van ’n atleet gekry het, of serebrale gestremdheid in stede van goue medaljes.” Só skryf Steve Biddulph in Manhood: an action plan for changing men’s lives (Finch Publishing, 1994).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

As jy mooi daaroor dink, is jou pa die eerste mens buite die baarmoeder wat jou kan aanvaar of verwerp. Al is die verwerping onbedoeld, het dit kragtige gevolge vir die pa-kind-verhouding én vir die kind se lewenslange selfsiening.

’n Pa speel nie net ’n deurslaggewende rol by sy babaseuntjie of -dogtertjie se aankoms nie, maar ook wanneer die tiener op die drumpel van die grootmenswêreld staan. Hier, reken die Christenskrywer John Eldredge, is die volwassene-in-wording se grootste enkele vraag: “Do I have what it takes?” Met ander woorde: Gaan ek dit as man, as vrou, kan maak?

In die Amerikaanse dokumentêre fliek Absent, wat oor die rol van pa’s gaan, sê Eldredge alle kinders het die behoefte dat juis hul pa hierdie vraag moet beantwoord.

“Hul ma is in elk geval lief vir hulle,” spot Eldredge. “Hulle het nodig om uit hul pa se mond te hoor dat alles in orde is. As die antwoord ’n luide stilte is, is die skade onmeetlik.”

Hoe lyk manlikheid?

Vir millennia, in talle gemeenskappe, het meisies en seuns gewéét wanneer hulle die oorgang na volwassenheid maak. So was (en is) daar verskeie rituele rondom die eerste maandstonde, asook inisiasie-rites vir seuns.

In die Weste is die merkers van volwassewording vandag meestal beperk tot aanneming in die kerk of die ontvangs van ’n rybewys, ’n dokument wat tot meer vryheid lei as wat sommige volwassenes reken vir die jongklomp goed is! Meisies weet steeds seker wanneer hulle vrou word, maar seuns kry nie so ’n duidelike teken nie.

Daarby het meisies die voordeel dat hulle van kleins af in die teenwoordigheid van vroulike rolmodelle is – vanaf babadae tot in matriek word kinders hoofsaaklik deur vroue versorg en onderrig. Hoewel vroue se rol en posisie voortdurend verander, het meisies ’n redelik goeie greep op vroulikheid en die innerlike belewenisse van vroue in hul sosiale kring.

Wat seuns betref, staan sake anders. Op die oog af word hulle deur mans omring, maar in werklikheid het hul blootstelling aan manlike rolmodelle – en aan wat dit beteken om ’n man te wees – die afgelope paar eeue dramaties verminder.

Honderdduisende jare lank het mense in nomadiese groepe van twee tot drie dosyn geleef, herinner Biddulph ons. Seuns was elke dag ure lank in hul pa’s, oupas en ander mans se teenwoordigheid en het nie net die praktiese take aangeleer nie, maar kon ook uit die voortdurende kontak aflei wat die mans dink en voel.Navorsing wys die jagterversamelaarleefwyse het heelwat tyd vir rustige samesyn gebied.

“Die verskuiwing na landbou, die geboorte van stede en die koms van die Nywerheidsrevolusie ’n skamele vyf geslagte gelede, het alles vir altyd verander. Die eerste keer in die geskiedenis het pa’s die huis voor dagbreek verlaat om elders te gaan werk en ná donker teruggekom. Die eerste keer het ’n geslag seuns opgegroei without being fathered in the true sense.”

Vandag aanvaar ons hierdie opset as vanselfsprekend en daarom kyk ons maklik die gevolge mis. Pa’s “verdwyn” vir lang werksure, en party kan nie eens aan hul kinders verduidelik wat hulle daar doen nie omdat dit buite die kinders se ervaringsveld val. Wanneer hulle terugkom, is hulle dikwels te moeg om met hul kinders kontak te maak op ’n manier wat veral die seuns ’n blik op hul innerlike wêreld gee.

In baie huise is daar geen oupa of ander volwasse man wat hierdie leemte kan vul nie, en in skole is mansonderwysers in die minderheid.

“Die moontlikheid dat seuns elke dag ure pleks van ’n paar minute se fathering nodig het, word oor die hoof gesien,” skryf Biddulph. “Mans strompel voort in ’n poging om hul wese in ’n vakuum te definieer en die kern daarvan te vind.

“Die sielkundige term ‘vaderhonger’ dui op die behoefte aan lang, bevredigende ure waarin ’n seun kan leer om selfversekerd en doeltreffend in die werklikheid te funksioneer, waar hy en volwasse mans saam kan doen en maak, saam kan streef en lag oor alles in die lewe wat kan skeefloop – waar hy die vreugde van man-wees kan indrink in die teenwoordigheid van ander wat hierdie kennis het en gewillig is om dit te deel.”

Vanaf hul tienerjare, meen een skrywer, is seuns in die Weste op hul eie. Omdat hulle nie weet wat dit is wat hulle mis nie, voeg Biddulph by, kan hulle dit nie in woorde uitdruk of betreur nie. “Mans ervaar by tye ’n alleenheid wat vroue hulle nooit sal kan voorstel nie.”

Wat nou?

Om veroordelend te kyk na die stand van sake – in die samelewing of in jou eie lewe – dra nie by tot ’n oplossing nie. As jy ’n man is wat iets van hierdie leemte in jouself en jou geskiedenis herken, kan jy die volgende oorweeg:

• Jou verhouding met jou pa raak jou en jou vaderskapsrol intens. Biddulph glo jou pa bly altyd in ’n mate ’n integrale deel van jou, en as jy in stryd is met hom, is jy in stryd met jouself. Hy beveel aan dat jy ’n indringende gesprek met jou pa voer waarin jy vanuit ’n neutrale posisie probeer agterkom hoe hy jou grootword-jare beleef het, asook sy eie. Jou pa se “waarheid” mag ver verwyder wees van jou klein-tydindrukke. Dit lewer dalk verrassende insigte op.

• As jou pa oorlede is, kan jy ’n brief aan hom skryf, met sy tydgenote gesels of selfs sleutelplekke uit sy lewe besoek. Jy kan jou voorneem om snags van hom te droom, of met ’n manlike berader oor hom praat.

• Daar is min geleentheid vir mans om met verwonding of ander emosionele kwessies te werk. Moontlikhede sluit berading, inskakeling by ’n mannegroep, by ’n kerk of ontwikkelingsgroepe in.

• Raak betrokke by ’n vaderskapsorganisasie.
• Leer om die tyd wat jy met jou kind deurbring, as pure vreugde pleks van ’n plig te beskou. Met ons era se oordrewe klem op produktiwiteit kan dit ’n uitdaging wees.

• Sien toe dat jou seun ’n informele mentor kry, ’n man wat een van jou seun se belangstellings deel. Dalk is jy ’n diep denker, en jou seun uitgaande en sportief. Dit verminder die druk op jou en verbreed jou seun én sy mentor se horisonne.

• Word op jou beurt ’n informele mentor vir ’n seun sonder ’n betrokke pa.

• Ondersteun skoolprogramme wat die kwessie van man-wees betyds hanteer.

“Waar ’n man se wond is, daar sal sy genialiteit ook wees,” het Mercia Eliade gesê. Nuwe bewustheid en ’n positiewe omgang met ou wonde kan ongekende, nuwe werklikhede oopsluit.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.