Die bra is die een kledingstuk wat ons dag in en dag uit dra, maar dit is ook die een item wat gereeld net nie reg pas nie. Dis geen verrassing dat 70% van vroue die verkeerde grootte bra dra nie. Die verkeerde bra kan jou selfbeeld en -vertroue beïnvloed, en dit is gewoonlik vroue met ’n groter borsmaat wat die verkeerde bra dra. ’n Slegte bra sal net meer aandag na die area toe trek. Wanneer jou borsarea nie ondersteun word nie, sal jou borste vinniger elastisiteit verloor en selfs nek en rugpyn veroorsaak.
Wanneer laas het jy ’n bra-passing gehad?
Daag jouself uit: Gaan na jou onderklere-laai, haal jou gunsteling bras uit, kyk met ’n eerlike blik daarna, pas dit aan en vra jouself die volgende vrae:
- Is die elastisiteit ferm en styf?
- Is die ondersteunende drade stewig in plek, nie gebuig nie en steek nie deur die materiaal nie?
- Hou die bra sy vorm?
- Laat dit my borste goed lyk?
Niks kan ’n behoorlike passing met ’n ervare konsultant vervang nie, maar as jy van die rak af gaan koop, moet jy gewapen wees met ’n paar wenke om jou te help om die beste keuse te maak.
Hier is vyf wenke vir die perfekte bra:
- Omtrek van jou bolyf
Die eerste meting moet onder die borste en rondom die bolyf gemaak word om die grootte van die onderband te bepaal. Bv. 32, 34, 36 of 38. Die onderband moet gemaklik pas vanaf die borsbeen reg rondom die liggaam en in die middel van die rug vasgegespe word. As die bra aan die agterkant begin opkruip, is dit ’n teken dat die onderband te groot is. Dit het jou dalk eens gepas, maar jou bra is moontlik so uitgerek dat die elastiese deel rekmerke het. Jy weet wat jy moet doen, gooi weg!
- Die perfekte koppie grootte
Die afmetings oor die bors en die verskil tussen dit en die onderband meting is ’n komplekse formule wat die koppie grootte bepaal, naamlik A, B, C, D, E. Op is ‘n nasie met groot borste, maar daar is ’n bra vir almal.
Wenke vir die perfekte pas: met jou bra aan, vou jou hand om jou bors en bring dit na binne om knus binne die bra te pas. Lig jou arms en maak seker jou borste skuif nie onder die draad uit nie – as hulle dit doen, is dit die verkeerde grootte.
- Die drade
Die onderdrade moet die twee borste skei en teen die vel knus om die borsbeen vou in die rigting van die oksels. Dit is belangrik dat die draad nie te hoog in die oksel sit en die vel aan die kant van die bors knyp nie. Korter vroue kla dikwels dat die drade hulle aan die voorkant of kant steek en die oplossing is om ’n kleiner koppie-grootte te kies met ’n korter draad. Enige vlesige dele van die bors wat onder die arm ontsnap, moet stewig in die koppie gehou word vir ’n aangename silhoeët.
- Die bandjies
Jy dink waarskynlik dat brabandjies die bra ophou, maar dit is daar om stabiliteit te gee. As jou brabande in jou skouers insny, is dit ’n teken dat die onderband te groot is en die bande alleen jou borste ophou. As die bande voortdurend van jou skouers afgly, kan hulle te wyd gestel wees vir jou smal skouers. Dit is als tekens dat jy vir ’n behoorlike pas moet gaan want jy dra nie die regte grootte bra nie.
- Vermy die vier-bors-effek
As jou borste bo by die koppies uitpeul en die soort cleavage skep wat geen klere in toom kan hou nie, het jy óf gewig opgetel of die bra is te klein. Jy het twee keuses; verloor gewig óf kies ’n groter koppie.
Wanneer jy ’n bra aanpas:
- Daar moenie gapings tussen jou borste en brakeël wees nie, maar dit moet ook nie in jou borste druk nie.
- Die band agter jou rug moet horisontaal lê en nie in ’n U-vorm hang of anderkant om nie.
- Die W-deel (tussen die brakeëls ) moet plat op jou bors rus sonder enige gapings.
- Die bandjies moet net 20% ondersteuning bied. Daar moet twee vingers tussen jou skouers en die bandjies kan pas. Jou bandjies moet nie in jou skouers insny nie, maar ook nie afgly nie.
Gevolge van ’n bra wat swak pas
Daar is talle gesondheidrisiko’s wat verband hou met ’n bra wat swak pas. Dit kan ’n verrassing vir baie vroue wees. Rugpyn, benoude asemhaling, swak sirkulasie en stremming op die spiere is ’n paar voorbeelde.
Wanneer jy swanger raak
Tydens swangerskap reageer elke vrou se liggaam anders. Dis nie gevaarlik om tydens swangerskap steeds ’n bra met ’n ondersteuningsdraad te dra nie, hoewel die meeste vroue eerder die draadlose bra verkies. Winkels bied ook ’n inhaakverlenging wat jy agter aan jou ou bra kan aanlas wanneer jou bors groter raak tydens swangerskap. Wanneer jou liggaam na borsvoeding weer herstel het, moet elke vrou vir ’n hele nuwe meet-en-pas-konsultasie gaan, omdat jou liggaam verander het.
Lees ook: Borskanker sonder die knoppie: is dit gevaarliker?




