’n Goeie bril is ’n belangrike belegging aangesien jy dit vir ’n lang tyd gaan dra. Deesdae bied vervaardigers ’n wye reeks stylvolle raamontwerpe en dit kan moeilik wees om die regte een te kies. Wat is die beste vorm, grootte en kleur vir jou?

Deur ’n paar basiese reëls te volg, kan jy jou keuse vergemaklik:
Elke gesig, soos elke oog, het sy eie unieke eienskappe. Soek jy ’n bril wat jou persoonlikheid komplementeer of iets wat jou voorkoms heeltemal verander? Wanneer jy ’n bril kies, moet jy hierdie faktore in ag neem, maar dit kan ’n moeilike besluit wees. Om verwarring te verminder, ken jou opsies voordat jy jou oogkundige besoek. Daar is wel een belangrike punt om te onthou – skep visuele kontraste. Die vorm van jou raam behoort in kontras met die vorm van jou gesig te wees om balans te skep. Dit harmoniseer die algehele voorkoms.
Dit is egter nie altyd maklik om die beste brilraam te kies om jou gesigsvorm te komplementeer nie. Mense met ovaal gesigvorms is baie gelukkig, hulle het die ideale gesigsvorm vir ’n bril.
-
Ovaal gesigvorms
Ovaalvormige gesigte het die beste vorm vir ’n bril en dit sal maklik wees vir ’n oogkundige om vir jou ‘n wye verskeidenheid opsies aan te bied, aangesien die meeste rame jou sal komplimenteer. Wees wel versigtig vir rame wat té groot aan die kante is of klein ronde brilrame. Die beste keuse sal ‘n reghoekige ontwerp wees.
-
Ronde gesigvorms
Mellins i-Style stel voor dat jy kenmerkende rame wat die hoeke beklemtoon, soos vierkantige of effens reghoekige ontwerpe, probeer. Hulle sal meer kontoere aan ’n ronde gesig bring. Wees dapper en speel met kleur. ’n Bril met ‘n wyer raam sal ook goed op jou lyk. Vermy sagte, fyn en ronde rame.
-
Driehoekige of hartvormige gesigte met breë voorkoppe en punterige kenne
Jou beste keuse is ovaalvormige of ronde rame of sagter en platter ontwerpe in subtiele kleure. Die visuele verdeling van jou gesiglengte deur hierdie bril sal jou voorkoms verbeter. Vermy rame wat té klein of té kleurvol is.
-
Langwerpige of reghoekige gesigte
Jy het ’n smal gesig en jou ken en onderkakebeen is jou sterkste eienskappe. ’n Bril sal beslis jou voorkoms versterk omdat dit jou gesig visueel verdeel. Jou beste rame het ’n wye neusbrug en lae oorstukke. Ovaalvormige rame kan ook werk maar vermy ’n styl wat te klein vir jou is. Raamlose lense met subtiele kontoere sal ook goed werk.
-
Hoekvormige gesigte
In hierdie geval is die doel om jou gesig langer te laat lyk deur middel van jou brilontwerp. Jou ken, onderkakebeen en voorkop is jou sterkste eienskappe. Probeer effens geronde rame wat nie té klein is nie en ’n platlyn ontwerp het. Raamlose lense kan ook werk, maar vermy klein brilrame en rame met sterk hoeke.
Ander hulpvolle wenke oor jou gesigvorm en ’n brilraam kies
Wanneer jy ’n raam kies, verseker dat jou wenkbroue of reg bo of regs langs die bokant van die raam is. As jy voel dat jou neus te lank of te kort is, kan ’n bril help om ‘n visuele verbetering te maak. As die brug van die bril diep op jou neus sit, sal dit eintlik korter lyk en andersom. As die bril aan die onderkant verleng is, sal dit jou gesig korter laat lyk.
Lees ook: Beklemtoon die kleur van jou oë

