kategorieë: Leef gesondGesondheid

Plastiese chirurgie: dieper as vel

Ek ontmoet Ellaine Kapp in die kantoor van haar eie skoonheidsalon. Dis ’n belangrike stukkie inligting, want het jy Ellaine vóór 2004 geken en intussen kontak verloor, sal jy eers wil sién voor jy glo, want die “ou Ellaine” sou nooit haar eie onderneming kon bestuur nie!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ellaine (43) glo plastiese chirurgie het haar lewe verander. Vir die grootste deel van haar bestaan was sy te skaam om haar mond oop te maak. Sy was die mamma wat eenkant op die pawiljoen gesit en nie met ander ouers gesels het nie. Jy sou haar ook nie sommer in ’n winkel raakloop, of tussen mense by ’n geselligheid kry nie. Ellaine het haarself vir die wêreld weggesteek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Ek het ’n muur om my gebou. Ek het gedink ek is nie mooi nie,” sê Ellaine. Tot agt jaar gelede toe sy as finalis in ’n kompetisie die geleentheid kry om kosmetiese chirurgie te ondergaan. Haar lewe het onder die mes van ’n chirurg handomkeer verander.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Ek sê altyd vir mense ek het in drie maande ’n nuwe lewe gekry!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ellaine kon kies wat sy alles wil laat “regmaak”. Sy het aan haar tande, oë, ore en borste laat werk. Glo sy plastiese chirurgie kan ’n mens se persoonlikheid verander? Ja, natuurlik. Sy moes motiveer waarom sy die chirurgie nodig het:

“My oë hang soos dié van my worshond, my tande is knit one, slip one.” Haar regteroor het bak gestaan en haar borste het gehang, het sy onder meer geskryf.

“Ek het vir 35 jaar van my lewe gesorg dat ek so min moontlik deur die wêreld gesien word. En dit weens my voorkoms,” sê dié ma van drie seuns. “Selfbeeld? Ek het nie een gehad nie. By die huis, by my man en seunskinders, het ek gemaklik en geliefd gevoel, maar nooit tussen ander mense nie.”

Die chirurg het Ellaine se regteroor platter getrek, aan haar ooglede gewerk, die sakkies onder haar oë verwyder en haar borste gelig. In die drie maande wat sy in Sandton vir die chirurgie en herstelproses was, het sy ook berading ontvang.

“Ek moes voorberei word op hoe ek sou lyk; die verandering wat sou intree; hoe mense skielik teenoor my sou reageer. Ek moes weet dat mense nou na my toe sal kom en met my wil gesels. Daar sou nie meer kans wees om weg te kruip nie – ek sou moes terugpraat, uit my kassie klim.

“Ek moes ook vrede maak met al die seer in my wat ek al jare en jare saamgesleep het. Ek moes my verlede agterlaat sodat ek die nuwe ‘ek’ heeltemal kon omarm.”

Vandag is Ellaine ’n spontane babbelkous; haar oë sprankelend met lewenslus en sy loop oor van selfvertroue. Dié dat sy twee ondernemings gekoop het. Naas die skoonheidsalon besit sy ook ’n winsgewende droogskoonmakery.

“Ek is vandag iemand wat graag aan ander gee. Voorheen sou ek dit nooit gedoen het nie, want ek wou nie uit my eie na ander toe gaan nie.”

Ek staan ook nie meer terugs as iemand iets doen waarvan ek nie hou nie. Ek kan mos nou praat!” sê sy. Vroeër het sy toegelaat dat ander oor haar loop.

Sy glimlag baie en dan sien jy daardie perfekte, reguit tande. “My mondhoeke het vroeër ondertoe gehang, asof ek altyd hartseer was – sonder dat ek dit besef het. Nou wys my mondhoeke boontoe!” (Daar is nie aan haar mond gesny nie. Ellaine meen dié verandering het gebeur omdat sy werklik innerlik gelukkig en tevrede met haarself is.)

“Die chirurgie was beslis nie net veldiep nie. Dit het elke dimensie van my lewe verander. Geestelik, emosioneel, fisiek. Ek het destyds besluit dat ek nooit weer my ou, teruggetrokke self gaan wees nie. Ek wou léwe! Ek het altyd vir die Here gesê ek weet Hy het ’n groter plan met my. En Hy het vir my hierdie kans gegee – ek kon dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie.”
Ellaine sê sy sal nie enigiemand aanbeveel om hierdie soort chirurgie te ondergaan nie. “Daar is soveel beeldskone vroue wat doelbewus met hulself gaan fout soek, want daar is mos nou ‘plastiese chirurgie’ wat dinge ’n bietjie anders kan maak. Vermy dit veral wanneer jy nog jonk is en jou eie natuurlike skoonheid het.”

Vroeër jare se sweetpakke en tekkies is by die deur uitgegooi en nou hang daar netjiese, vroulike snyerspakkies en rokke in haar kas.

“Ek is baie spyt dat ek my nie goed opgepas het toe ek jonger was nie; ek het nooit sonskerm gebruik nie; nooit mooi na my vel gekyk nie; my hare sommer in ’n poniestert vasgemaak en byna nooit grimering gedra nie. Vandag eet ek gesond en jy sal my elke oggend vyfuur in die gim kry. Baie van hoe jy jou sien, het tog te doen met hoe jy jouself versorg.”

Is dit meer as selfvertroue?

Sommiges glo die veranderinge in Ellaine se lewe het gebeur omdat sy nou meer selfver troue as voorheen het. Soos Ellaine self sê, sy is nou mal oor haarself.

“Ek dink nou ek lyk fantasties. Ek voel fantasties en ek doen fantastiese dinge!” sê sy.

Meer as chirurgie

Maar daar is ander mense, soos Marthie Maré, ’n gelaatskundige van Pretoria, wat glo hoewel selfvertroue ’n rol speel, daar beslis meer agter chirurgie skuil.

“Elke verandering wat jy aan jou gesig aanbring, gaan ’n verandering aan ’n sekere deel van jou persoonlikheid teweegbring”

Marthie glo enigiemand wat kosmetiese veranderinge aan hul gesig wil laat doen, moet vooraf weet van die impak wat dit op hul persoonlikheid kan hê.

“Wanneer jy veranderinge aan die buitekant van jou gesig aanbring, gaan dit ’n invloed hê op die deel van jou persoonlikheid wat deur daardie gelaatstrek verteenwoordig word. Die gelaatstrek waarvan jy die minste hou, kan dalk jou grootste talent verteenwoordig,” sê Marthie.

Die neus verteenwoordig byvoorbeeld jou werkstyl. “Iemand met ’n geboë neus kan met baie kreatiewe oplossings vir probleme vorendag kom. Hy kan ook goed delegeer. Mense met reguit neuse verkies weer logiese oplossings.

“Veranderinge aan jou neus sal jou kreatiwiteit en oorspronklikheid in die werkplek knou en jy sal geneig wees om nou eerder volgens ’n doenlysie te werk. Vra jouself voor die tyd af of jy bereid sal wees om jou werkwyse te verander? Want as jy nie kan aanpas nie, sal jou neus mettertyd weer na sy oorspronklike vorm terugkeer.”

Marthie besef dat mense baie skepties oor fisionomie is. “Ek was ook totdat ek bewyse gesien het,” sê sy.

Hoe lank dit neem voor die uitwendige veranderinge in jou persoonlikheid gaan manifesteer, hang van elke individu af.

“Gestel jy het digte wenkbroue en jy pluk dit om ’n dun lyntjie te vorm. Mense met dun wenkbroue hou van eenvoud, verkies om een taak op ’n slag af te handel terwyl mense met digte wenkbroue baie inligting verkies en verskillende take gelyktydig en met eweveel aandag kan voltooi.

“Dun jy jou wenkbroue uit, gaan baie take op een slag jou oorweldig. Voorheen was dit nie ’n probleem nie. Sou jy aanhou om jou wenkbroue so dun te pluk, sal dit later vir jou makliker word om liewer die eenvoudige werkwyse te volg,” sê Marthie.

Dit is raadsaam om ’n tweede mening te kry wanneer plastiese chirurgie of selfs Botox oorweeg word

“Dit is ewe belangrik om vooraf te weet watter uitwerking veranderings aan jou gelaatstrekke op jou persoonlikheid sal hê. Hoewel die operasie op die oog af suksesvol kan lyk, kan dit nogal traumaties wees om by die nuwe jy aan te pas.

“Dis ’n goeie idee om eers by ’n gelaatskundige aan te klop en jou op die moontlike veranderinge voor te berei sodat die gevolge nie so traumaties sal wees nie.”

Bakore wat plat gemaak word

Iemand met bakore is in die algemeen onafhanklik, vol ondernemingsgees, maar is ook nuuskierig en sal nie reëls en regulasies gedweë navolg wanneer dit nie sinvol is nie.
Mense wie se ore plat teen die kop is, is presies die teenoorgestelde: hulle het ’n behoefte om sosiaal in te pas en “deel van die groep” te wees. Hulle is meer geneig om opdragte uit te voer en reëls te gehoorsaam. Nuwe, “plat” ore kan jou onderdruk en gefrustreerd laat voel.

Lae wenkbroue verander na hoë wenkbroue

Met jou lae wenkbroue was jy geneig om baie spontaan te kommunikeer en sou dikwels ander in die rede val of hul sinne voltooi. Met hoër wenkbroue sal jy versigtiger met jou menings wees, hoewel ander nou kan voel dat hulle nie tot jou kan deurdring nie. Hulle kan selfs dink jy is snobisties omdat jy eers inligting oorweeg voordat jy kommentaar lewer.

Vol ooglede word van die wimpers tot by die vou van die ooglid kleiner gemaak

Diegene met vol ooglede het ’n behoefte aan intimiteit en is baie betrokke in verhoudings. Met klein ooglede sal jou behoefte aan persoonlike ruimte toeneem en sal jy onafhank-lik in verhoudings optree, hoewel jy skielik “uitgesluit” kan voel.

Pofferigheid op die boonste ooglede word weggesny

Pofferigheid op die boonste ooglede dui aan dat jy baie betrokke by jou werk is en kan jou soms ook geïrriteerd, ongeduldig en sensitief laat voel omdat jy jou nie genoeg tyd vir jouself gun nie. Dit kan ook ’n aanduiding van allergieë in die liggaam wees. Wanneer hierdie pofferigheid weggesny word, word die allergieë en irritasie onderdruk en organe soos die maag, dikderm, galblaas en selfs die lewer kan daaronder ly.

’n Lang neus word korter gemaak

Iemand met ’n lang neus is ambisieus, kan strategies dink en op lang -termynresultate fokus. As jy ’n kort neus het, verkies jy roetine/herhalende werk en fokus eerder op sigbare korttermyn- resultate. Met hierdie verandering kan jou werk daaronder ly en die dryfkrag wat jy voorheen gehad het, sal afneem. Jou fokus skuif en jou werk sal nie so ’n groot impak op jou lewe hê nie.

’n Breë neus word smaller gemaak

Mense met breë neuse verkies spanwerk en word deur samewerking met ander gemotiveer. Wanneer die neus smaller gemaak word, sal jou werkstyl onafhankliker word en sal jy geneig wees om afgesonder of uitgesluit te voel.

Prominente ken word verkort

Dis belangrik om te onthou dat persoonlikheidseienskappe op ’n positiewe of negatiewe manier aangewend kan word. ’n Prominente ken (ken staan vorentoe uit) dui op ’n sterk wil. Dit kan aggressief gebruik word om jou wil aan ander op te dwing of positief aangewend word om jou te motiveer om groter hoogtes te bereik. Wanneer die ken verkort word, sal jy minder “aggressief” optree, maar dit kan ook beteken dat jy nou minder selfgeldend sal wees en toelaat dat ander jou intimideer.

Woedelyne verwyder met Botox

Woedelyne is vertikale lyne wat aan die wenkbroue raak. Dit dui op woede en/of frustrasie wat onderdruk word. Wanneer hierdie lyne met Botox verdoof word, gaan die situasie(s) wat die frustrasie veroorsaak, nie ook skielik verdwyn nie. Jy sal wel jou frustrasie makliker verbaliseer of op ander maniere uiting daaraan gee, maar as jy nie op ’n fisieke manier (soos ’n woede-uitbarsting) daaraan uiting gee nie, sal dit erger onderdruk word en kan dit dan selfs jou bloeddruk, hart of galblaas aantas.

Dun lippe met vullers na vol lippe verander

Iemand met dun lippe praat moeilik oor haar emosies en is dikwels skaam en selfs versigtig om daaraan uiting te gee. Vol lippe behoort aan die ekstrovert wat emosioneel betrokke is en spontaan kommunikeer. Wanneer dun lippe met vullers ingespuit word, sal die introvert skielik meer uitgesproke raak en emosioneel verward voel oor dit wat sy kwytgeraak het. Dit kan moeilik wees om by die nuwe kommunikasiestyl aan te pas en veral persoonlike verhoudings kan daaronder ly.

Wat sê die dokter?

Dr. Chris Snijman, kosmetiese en rekonstruktiewe plastiese chirurg in Rivonia, Johannesburg, sê hy het nog nooit daarvan gehoor dat plastiese chirurgie persoonlikheidsveranderinge by ’n pasiënt veroorsaak het nie.

“Ons weet wel dat kosmetiese chirurgie ’n sekere sielkundige uitwerking op mense het, en dat hulle in die meeste gevalle ná ’n suksesvolle prosedure meer selfvertroue as voorheen het,” sê hy.

Dr. Hermann Liebenberg, sielkundige van Pretoria, sê dit is belangrik dat ’n pasiënt realistiese verwagtinge van kosmetiese chirurgie moet hê.

“Vir sommige mense is die oppervlak-kige veranderinge nie genoeg om die denk-wyse ook te verander nie.” Hy sê sielkundiges speel ’n baie waardevolle rol in hierdie proses.

“Die langtermynsukses en realistiese resultate van ’n pasiënt wat regdeur die proses leiding gehad het, stem hier baie meer ooreen met haar verwagtinge. Ek glo dit is nie net ’n reis na ’n nuwe lyf nie, maar ook ’n nuwe denkwyse.”

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.