kategorieë: Leef gesondGesondheid

Die regte raad vir die afskuwelike mangowurm

Deur Salomé Delport. Foto: pixabay.com

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Mangowurms laat mens dink aan ’n gruwelfliek: As storielyn hoe ’n dosyn lewende, onsigbaar klein maaiers sonder dat jy daarvan weet onder jou vel inkruip en begin teer op jou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Na ’n week – jy sal kan sien hoe hulle onder jou vel rondbeweeg en selfs hul feses kan sien – bereik hulle volwassenheid en bars hulle uit as wit, vet volgrootte wurms van sowat 1cm lank. En dan soek hulle nuwe kos …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Elke maaier wat dit regkry om weg te wriemel herhaal hierdie siklus. Een maaier kan 12 miljoen nasate per jaar oplewer.

Wat moet jy weet?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Is daar raad vir mangowurm?

Dit is vir seker mý eerste vraag.

Gelukkig is daar goeie oplossings, en gelukkig is dit taamlik eenvoudig.

In beginsel moet jy die mangowurm versmoor. In die fase waar hy onder jou vel lê en groei moet hy steeds kan asemhaal. Hy doen dit deur die opening in jou vel waarby hy ingekruip het.  As jy hierdie gaatjie toestop sny jy sy suurstof af, en gaan hy na ’n uur of twee dood. Vaselien werk die maklikste maar skoenpolitoer is ook baie doeltreffend. Meer daaroor later.

Die plekke waar jy mangovlieg gaan optel

Ons Institute for Non-Communicable Diseases (NICD) het verlede jaar ’n uitbraak in Upington en Kuruman gerapporteer.

Buiten die Noord-Kaap kom die mangovlieg algemeen voor in Gauteng, KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Ook in Limpopo en die Noord-Wes. Net die Vrystaat en Oos- en Wes-Kaap is dit gespaar … tot dusver.

Vanjaar loop Gauteng deur.

Maar die mangovlieg kom oor die hele Sub-Sahara Afrika voor. Jy kan dit dus op jou volgende 4×4-reis opdoen – veral as jy lank wegbly en wasgoed moet was en buite laat droogword sonder om dit te stryk.

Jou kind en veral babas is meer vatbaar vir mangowurms as jy

Volgens die American Association of Veterinary Parasitologists (AAVP) word kinders meer dikwels deur hierdie parasiete aangeval, vermoedelik omdat die kindervel tipies dunner en sagter as ’n volwassene s’n is.

Hoe die mangovlieg lyk

Die mangovlieg is ’n dik ligbruin vlieg van sowat 1cm lank, met ’n geel kop en pote. Maar volgens die NICD sal jy hulle nie sommer raaksien en uitken nie.

Anders as die bloedsuiende muskiet teiken hulle glad nie mense nie. Hulle voed op vrugte, afval en dieremis.

Daarby is hulle is net vroegsoggens en laatmiddag aktief. Deur die dag skuil hulle graag op oop stoepe en ander beskutte opelugdakruimtes en glo in mangobome.

Wanneer en waar die mangovlieg eiers lê

Daar is nie iets soos ’n piekseisoen vir mangovlieë nie. Hulle is heeljaar aktief. Die wyfie leef sowat twee weke lank, en lê in die tyd twee keer eiers. Een vlieg kan 300-500 eiers lê.

Die wyfie verkies om haar eiers in los grond te lê, maar sy kan ook wasgoed wat buite hang om droog te word teiken.

Hoe die wurm jou vel binnedring

Die eiers broei binne drie dae uit. Dit het dan sowat ’n week kans om ’n gasheer – en kos – te vind. Daarsonder sterf die jong wurm binne 9-15 dae.

Die wurmpies klou aan grondkorrels of klerevesels vas en swaai punt in die wind rond om aktief te soek na ’n gasheer. Sodra dit aan ’n geskikte gasheer raak – jou vel, ’n hond wat op die grond lê, of selfs jou kaal voete – haak dit en begin in die vel inboor.

Die wurm werk tot allesbehalwe sy heel laaste segment onder die vel is. Hierdie deel bly buite, vir asemhaling.

Nou begin hy groei. Twee tot vier dae later vervel hy, en nog twee dae later weer ’n keer. Na rondom agt dae is die wurm volwasse en gereed om die “nes” te verlaat. Hy “bars” uit, val grond toe en verander binne ’n dag of so in ’n papie.

Anders as die papies van skoenlappers wat net een keer per jaar uitbroei, ontwikkel die papie binne tien dae in ’n mangovlieg – en begin die siklus van voor af.

Die hele siklus duur sowat 4-5 weke. Een wyfievlieg kan dus twaalf siklusse van nakomelinge in ’n jaar voortbring, met 3600-5000 nakomelinge. Elkeen van hulle kan op sy/haar eie ook 3600-5000 nasate produseer, wat uitwerk op sowat 12 miljoen nasate, as helfte wyfies is.

Gelukkig oorleef eintlik min van hulle.

Hoe infeksie met mangowurm voel en lyk

Waar jy dadelik bewus is van ’n muskietbyt is dit baie onwaarskynlik dat jy sal voel wanneer die wurmpie jou vel begin binneboor. Dalk, as jy fyn oplet, sal jy ’n klein rooi opgehewe kolletjie sien wat niks groter is nie as ’n taamlik klein puisie.

Twee, drie dae later verander sake dramaties. Die larwe is nou dubbeld so groot en sy feses veroorsaak ’n seer wat soos ’n pitsweer begin lyk. Die vel raak nou geïrriteerd en jeuk ontsettend. Die seer is rooi en pynlik, met sig wat uitloop.

Soos die wurm groter raak sal jy al makliker kan sien hoe dit beweeg, soos dit voed en woel om meer plek te maak vir sy groeiende lyf.

As jy met ’n vergrootglas kyk na die sweer sal jy duidelik ’n gaatjie in die middel van die “pitsweer” sien waarby ’n punt van die larwe uitsteek – sy asemghalingsgat.

So vier na ses dae bereik die wurm volwassenheid, en sal hy uitkom. Die volwasse wurm is rondom 1cm lank.

Hoe om ’n mangowurm sweer te behandel

Gelukkig hoef jy nie te wag tot die wurm uitbroei nie. Jy kan hom versmoor. Plak ’n dik laag vaselien oor die sweer, met ’n lugdigte pleister bo-oor en wag sowat ’n uur.

Jy kan nou die wurm met jou vingers uitdruk.

Mens moet egter versigtig druk dat die wurm nie opbreek nie. As iets agter bly kan dit tot infeksie lei.

Mense met praktiese ondervinding sê juis daarom is dit beter om te wag tot die wurm 4-5 dae oud is, voor jy hom versmoor en uitdruk.

Die beste medisyne vir mangowurm: room, ontsmetmiddel en antibiotika

  • ’n Antihistamiensalf of -room sal baie help om die jeuk te verlig, terwyl die wurm “ryp” raak.
  • Vaselien om die wurm te versmoor.
  • Voor jy die wurm uitdruk, ontsmet die vel rondom die besmette area.
  • Ontsmet ook jou hande, vingers en veral jou vingernaels vooraf, sodat jy nie kieme oordra na die oop wond nie.
  • Spoel die wond na die tyd skoon met soutwater, wend ’n bietjie antibiotiese salf aan en bedek die wond met ’n pleister of verband.

Moet jy dokter toe gaan as jy mangowurm kry?

Mangowurms dra nie ander siektes nie en hou nie ander gevare in nie maar dit is die veiligste – en maklikste – as ’n dokter die diagnose maak en help met die behandeling.

As jy dit tuis behandel en die sweer herstel nie dadelik nie nadat die wurm verwyder is nie, kan dit ’n teken wees dat iets van die wurm self of van sy feses in die vel agter gebly het, wat verder ontsteek. Hiervoor het jy voorskrifantibiotika nodig – en ook hulp om die wurmreste te verwyder.

Die risiko’s van mangovlieg

As die wurmwond septies raak kan die wurms dieper in jou weefsel inbeweeg en gangreen veroorsaak en/of dieper weefsel vernietig. Dit gebeur gelukkig selde.

Hoe jy mangowurm keer

Voorkoming is die heel beste, en glo my, as jy eers deur so ’n parasitering was, sal jy alles doen wat jy kan om dit vorentoe te vermy.

Die Stad Johannesburg se advies is:

  1. Moenie jou wasgoed buite ophang om droog te raak nie.
  2. Hitte dood die wurms baie doeltreffend. Jy het twee opsies:
  • Tuimeldroog jou klaar droë wasgoed vir ten minste tien minute by die warmste temperatuur waarby jou masjien kan droog maak.
  • Stryk jou wasgoed. Onthou om álles te stryk of tuimeldroog – onderklere, kouse, lakens, kussingslope, handdoeke, serpe, handskoene en so aan.

Nog wenke wat mangowurms help voorkom

  1. Moenie kaalvoet buite loop nie.
  2. Moenie direk op die grond sit nie.
  3. Verwyder hondemis van jou werf af en hou jou katbak skoon.
  4. As daar ’n uitbraak van mangovlieg in jou omgewing is ondersoek jou troeteldiere se velle gereeld vir knoppies amper soos rosyne onder die vel.

Mangowurms en jou kat of hond

Mense is nie normaalweg die gasheer vir die mangowurm nie. Ons honde wat buite op die grond lê en speel is veel eerder sy brongasheer. Dit is van hulle af dat die mangovlieg sy lewensiklus bedryf en so tuingrond en soms ons wasgoed besmet.

Neem jou huisdiere veearts toe en vind uit hoe om van die infestasie op jou werf ontslae te raak.

Ander name vir mangovlieg

Mangovlieg en mangowurm staan onder ander name ook bekend, soos tumbuvlieg, tumbavlieg, putzivlieg, kayor-wurms of meer gewoonweg: velmaaiers.

En eintlik behoort ons te praat van larwes – nie dat dit hulle enigsins minder grillerig maak nie.

Deel
Gepubliseer deur
Salome Delport

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.