kategorieë: Leef gesondGesondheid

Wat jy nou moet weet oor Ritalin se onwettige gebruike

Wat jy nou moet weet oor Ritalin se onwettige gebruike deur Salomé Delport

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

In die praktyk verbeter Ritalin álmal se konsentrasie en ooreenstemmend hul prestasie. ’n Goeie konsentreerder wat 80% haal, kan op Ritalin 90% vermag. ’n Hele geslag studente weet dit reeds.

Die eerste student wat ek kon opspoor wat Ritalin hiervoor gebruik het, was in 2006 ’n eerstejaar op Maties. Nie dat ek dink hy was die eerste nie – eerder dat dié gebruik plaaslik al baie langer as vyf jaar aangaan. Sover ons kon vasstel, het geen enkele van ons universiteite ’n beleid hieroor nie … en neem gebruik vir seker toe. (Nota: ons gebruik die term Ritalin as die generiese term om al die neurostimulante in te sluit, soos Ritalin, Concerta, Stattera, Allderall, Provigil en so aan.)

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Lees ook: Is jou kind ADHD of begaafd?

Studente kry Ritalin maklik

Zahni* (skuilnaam) swot B.Com. Regte op Stellenbosch. Die kursus is volgelaai om ’n sekere aantal  regsvakke in te werk. Net een uit elke drie eerstejaars behaal uiteindelik hul graad. Zahni was op skool ’n uitblinker met provinsiale kleure in lewensredding en hokkie en het ondanks haar vol program ’n B-gemiddeld gehandhaaf. Sy het verwag om haar eerste jaar te slaag. Maar toe kom die punte, en sy druip vier van haar sewe vakke. “Ek wíl ’n graad hê, want dit gee ’n mens geleenthede. Toe ek begin terugdink wat skeef geloop het, het ek besef dis nie dat ek nie wou leer nie. Dis is eerder dat ek nie kon nie. Ek was net te rusteloos.”

Op skool het sy nooit met konsentrasie gesukkel nie. “Ek het gewonder of ek intussen aandagafleibaar  geword het. My ma het my na ’n doktersvriend gestuur. Hy het dadelik gesê sy seun is ook op universiteit en hy vind Ritalin “really useful” en dat hy dit vir my sal voorskryf net soos vir sy seun. Ek moet dit net vir toetse en die eksamens gebruik.”

Derrick* (skuilnaam) het sy ma se arm gedraai. “Almal by AAA gebruik dit – oukei, nie almal nie maar baie studente. Dis nie fair dat hulle Ritalin gebruik en maklik swot en ek sit en sukkel nie. Ek het vir my ma gesê ek kan dit op straat koop, of sy kan my dokter toe stuur om dit op die veiliger manier te kry.

Lees ook: My kop werk anders

“Dit was maklik om die dokter te oorreed. Ek weet min of meer wat is AAHS en ek het vir haar vertel ek  sukkel om langer as ’n halfuur te leer en dat ek in elk geval die helfte van die tyd sit en prentjies teken.”

Albert (regte naam), ’n student in rekenaarwetenskappe by die Kaapse Tech, se roete tot Ritalin is ’n riller: hy het ’n pil “geleen”. “Dit was in 2008. Ek moes net hierdie een vraestel deurkom. Ek het dit al twee keer tevore geskryf en elke keer net-net gedop. Toe ek vir my woonstelmaat sê ek weet nie hoe ek dit gaan maak nie, het hy voorgestel ek vat een van sy Concertas. Hy’s van skool af al daarop en het gesê ek gaan sien hoe ek kan konsentreer. Ek het dit daardie oggend geneem en geleer en gaan skryf.”

Hierdie “gelenery” onder die studente is algemeen. Zahni se woonstelmaat wou kyk hoe dit werk en het een geleen – haar kêrel ook. En al drie studente weet Ritalin is op hul kampusse te koop.

“Baie studente met permanente voorskrifte gebruik hul pille net as hulle moet leer en verkoop die res, veral in die koshuise,” vertel Zahni. Derrick sê jy kan Ritalin op die Internet bestel – wat hy sou gedoen het as sy ma hom nie dokter toe laat gaan het nie.

Lees ook: Hoekom vroue makliker aan pynpille verslaaf raak as mans

Maar werk dit regtig?

Anneke, ’n onderwyseres wie se kind op Ritalin is, wou dit self toets en het een geneem. Sy vertel dit is “asof jou aandag soos met ’n magneet vasgegryp word. Jy kan skielik fenomenaal fokus. Niks laat jou aandag dwaal nie. Jy versit berge, want jy konsentreer ure aaneen sonder om moeg te word”. Albert, Derrick en Zahni het hul Ritalin-gedrewe eksamens met gemak geslaag. Nog ’n arbeidsterapiestudent se ma vertel haar punte in fisiologie het van net onder die 50% in Junie tot 86% in November gestyg. Albert sê een van sy vriende het sy eerste jaar ingenieurswese gedruip. Die volgende jaar was hy terug – maar met Ritalin.

“Hy het toe alles ge-cum. Sover ek weet, het hy sy graad ook ge-cum. Niemand het op skool gedink hy is so slim nie.”

En dan is daar die ander soorte voordele: Zahni vertel dat sy deur die jaar nooit oor naweke leer nie en deur die week “dalk so twee uur per dag swot”. Sy wen tyd wat sy met haar kêrel en sosiaal deurbring. Albert kon ondanks ’n voltydse beroep sy leerwerk bybring.

Hy het oorspronklik met B.Com. begin en gedop, wat hom met ’n hoop studieskuld gelaat het. Boonop was dit vir hierdie slimkop baie vernederend. Hy kan nie help om te wonder wat sou gebeur het as hy op Ritalin was nie. Derrick voel hy kry selfvertroue – en jy kan dit aan sy stem hoor. “Jy voel great as jy goed doen. My pa-hulle verwag ek moet deurkom. Anders kry ek &*£$. My suster doen honneurs en ek wil hulle op my ook laat trots voel. “Dis major om op Ritalin te swot. Ek was tevore  moedeloos, want dit gaan stadig en jy raak suf. Nou gaan ek soos blits deur massas werk. Ek wil nie weer sonder Ritalin eksamen skryf nie.

Lees ook: Toets jouself – ly jy aan ’n pynpilverslawing?

“Ek weet mense dink dis die easy way out. Maar dis nie waar nie. Jy is glad nie lui op Ritalin nie. Ek moes nog altyd sit en leer. Dis net makliker.”

Dis logies dat die student wat vir vier uur of twaalf uur (die verskillende middels werk van vier tot twaalf uur lank) kan fokus baie meer kennis sal vaslê as die ander student wat ná twee uur breinvoos is. Geen student, hoe pligsgetrou ook al, kan op eie stoom twaalf uur aaneen leer nie. Nie eens op die vleuels van Red Bull of op die kafeïenskop van ekstrasterk koffie nie. Ekstra ure voor die boeke wys in die punte. En dit is, reg of verkeerd, waaroor dit gaan. Want dit is op punte dat jy keuring kry vir talle kursusse, plek in die koshuis kry en behou, kwalifiseer en in ’n beroep instap en ’n vet inkomste bekom. En dink net wie kan almal baat vind daarby … en vind reeds baat daarby.

’n Vriend sluk elke Kersvakansie een vir die lang reis van Ellisras na die Kaap, want “daarmee kan ek deurnag bestuur terwyl my vrou en kinders slaap. Dis die pynvryste manier om daar te kom”.  ’n Narkotiseurkennis vra ’n relevante vraag: Wil jy liewer hê dat jou chirurg Concerta drink en helder konsentreer vir die volle sewe uur van jou operasie – of dat hy ná twee uur moeg en suf is?

Die Amerikaanse lugmag stel reeds Modafinil opsioneel beskikbaar aan vlieëniers op lang vlugte.

Jacques Steenkamp, personeelbestuurder by ’n groot maatskappy sê “maatskappye stel in produktiwiteit belang. Punt. Die een wat die meeste lewer, is die dinamiese een wat jy bevorder en vergoed. As ’n personeellid Ritalin vrywillig gebruik, sal g’n maatskappy kla nie. Dit sal wees soos om te sê ‘moenie ’n bril dra nie, want jy gaan beter sien’. Ek kan insien hoekom mense dit sal wil gebruik.” In vergelyking met die reusevoordele is die prys van Ritalin niks.

Lees ook: Jy, jy kan tetanus kry as ’n hond jou byt

Gaan jy onthou of gou vergeet?

Maar niemand wil behandel word deur ’n dokter wat direk ná sy eksamen alles vergeet het nie. Kan ons staatmaak op die kennis wat studente op Ritalin vaslê? Derrick glo dit werk maar net soos gewoonlik. “Vir een vraestel het ek ge-cram. Ek het net die dag geleer en die aand gaan skryf. Ek het al daardie goed vergeet, net soos hulle altyd sê jy sal. Vir die ander vraestelle het ek gelees, opgesom, my opsommings geleer en hersien. Al daardie goed onthou ek nou ná ’n maand nog helder.”

Dr. Frans Korb, ’n Johannesburgse psigiater, en ’n Pretoriase psigiater wat dikwels met mediese studente werk en anoniem wil bly, sê altwee daar is geen navorsing wat bewys dat mense akademies beter vaar op Ritalin nie. Die Pretoriase psigiater vermoed dat veral die leerders wat deur uitkomsgebaseerde onderwys geskool is, het nie studievaardighede ontwikkel nie en is oorweldig deur die groot volumes werk wat tipies van mediese studente verwag word.

“Ek kom dikwels agter dat dié wat Ritalin kom vra eintlik leefstyladvies benodig. Hulle probeer nagte deur studeer en is gou oormoeg; hulle leef op Coke en tjips, wat nie die brein voed nie; of hulle slaap met die TV aan en kry dus ’n baie swak gehalte slaap. As hulle net gemiddeld presteer, dalk vir die eerste keer in hul lewe, ontwikkel hulle prestasie-angs, wat die vermoë om te studeer belemmer. Vir baie is net ’n bietjie bemoediging en praktiese advies voldoende.”

Slim … en dood?

Maar Lynne Visagie, kantoorbestuurder van ADHASA, ’n ondersteunersgroep vir AAHS-lyers en hul ouers, se storie laat jou wonder. Haar seun Christopher is op elf op Ritalin geplaas – heeltemal kosjer, want hy het AAHS. Hy was ’n superfikse klubswemmer en het goed gevaar op Ritalin. Maar ná sowat ’n jaar daarop het sy hart een Saterdagoggend woes begin klop.

“Hy het gesê dit voel asof sy hart uit sy keel wil spring en dat hy nie kan asem kry nie. Ons is na ’n sportdokter wat hom op die trapmeul gesit het. Binne ’n minuut het sy hartklop van 65 na 144 opgeskiet, wat vreemd vir ’n sportpresteerder is.”

“Daarna het ’n kardioloog hom ondersoek maar niks gekry nie – buiten dat hy Ritalin drink. Die dokter het toe vir ons gesê Ritalin veroorsaak by ’n klein persentasie mense hartprobleme. Hy het aanbeveel ons staak die Ritalin en kyk of dit weer gebeur. Dis nou vier jaar later en Christopher het nooit weer ’n enkele episode gehad nie. Ek glo Ritalin het sy hart geaffekteer. Ek is net baie dankbaar dit was omkeerbaar.”

Ritalin word sonder twyfel gekoppel aan ’n klein aantal sterftes. Dis moeilik om vas te stel hoeveel gevalle daar al was: Amerikaanse bronne sê 51 sterftes van 1999 tot 2006; ’n Britse bron gee 521 gevalle met “adverse effects“, wat alle newe-effekte van slaaploosheid tot die dood insluit. In ons land wou Novartis en Janssen nie hul syfers verskaf nie, hoewel altwee ’n sentrum het wat newe-effekte monitor.

Dit is juis weens die newe-effekte dat dr. Korb absoluut vas staan dat Ritalin “nie soos jellielekkers deur dokters uitgedeel en deur studente by mekaar geleen mag word nie. Mense met hartprobleme, potensieel bipolêr is, tics het (Tourette-sindroom) of reeds ander medikasie gebruik, mag nie Ritalin neem nie. Baie mense weet nie dat hulle onderliggende kwale het nie, wat dan deur Ritalin gesneller word. As jy Ritalin ‘leen’ wie maak seker jy is iemand wat Ritalin veilig kan gebruik?

“Ritalin is ’n wondermiddel maar in die regte hande en vir die regte doel. Ek glo Ritalin moet net deur psigiaters voorgeskryf word, omdat hulle opgelei is om risiko’s te identifiseer en tussen misbruik en gebruik kan onderskei.”

’n Kaapse psigiater Juan Schrönen wys op nog ’n ernstige probleem: “Die pel by wie jy ’n pil ‘leen’ is dalk op ’n sterk dosis – heeltemal te sterk vir jou. Hoe sterker die dosis, hoe groter is die kans dat jy newe-effekte gaan ervaar. Ons verstaan ook nie dopamien goed nie en oordosering is ’n werklike risiko.”

Maar die studente lag weer. Ritalin word al ’n halfeeu deur dermiljoene kinders gebruik. “As dit vir kinders voorgeskryf word, is dit per definisie veilig. Bitter min mense gaan newe-effekte ervaar – veral nie as jy dit net vir eksamens hou en reg drink nie,” sê Derrick, wat heelwat op die Internet nagelees het. Derrick het nie newe-effekte opgemerk nie. “Ek het nooit groggy gevoel nie. Daar was bietjie buzz in my kop maar net die eerste paar dae.” Die newe-effek wat Albert die meeste gepla het, was dat hy vir 24 uur glad kon nie slaap nie. Zahni sê ook sy het goed gevoel. “Ek was net minder geselserig, terwyl ek gewoonlik chatty is. Maar ek was nie aggressief of geïrriteerd nie. Net stiller. Ek het ook effens naar gevoel en ek kon glad nie eet nie.

Die dokter het gesê ek moet myself dwing om reg en gereeld te eet terwyl ek Ritalin gebruik.”

Dis nie jou speelmaat as jy enige van die volgende het nie

tics of Tourette-sindroom of iemand in die familie daarmee het
• aan epilepsie ly
• tiroïedprobleme het
• hartprobleme het
• reeds ander dwelmmiddels gebruik het of verslaaf is
• swanger is
• hoë bloeddruk het
• nierprobleme het
• alkohol daarmee saam gebruik
• bipolêr of depressief is, of psigotiese episodes gehad het
• volwasse AAHS het

Net dagga word meer as Ritalin gebruik. Gaan studente in die toekoms ’n piepietoets voor elke vraestel doen? Of is die universiteite maar net te dankbaar as die studente slaag? Dr. Retief sê dat daar glad nie oor Ritalingebruik op aansoekvorms uitgevra word nie en dat gebruik met vraestelle nie gemonitor word nie. “Dit is ’n private aangeleentheid en ons sal nie teen studente op Ritalin diskrimineer nie. As ’n dokter dit voorgeskryf het, is dit eties aanvaarbaar. Waarom sal ons inmeng met ’n ander dokter se professionele mening?” Toetsing sal in elk geval ontwyk kan word omdat hierdie middels binne 24 uur uitgeskei is … terwyl die verworwe kennis langer of minstens tot ná die vraestel bly.

Prof. Key Moodley, hoof van die Bio-etiese Eenheid by dieselfde fakulteit is baie duidelik gekant daarteen.

“Ritalin kan studente ’n onregverdige voordeel gee bo dié wat die heel jaar hard werk. Dit druis teen alle beginsels van reg en geregtigheid in. Studente wat Ritalin misbruik, is niks minder as dwelmgebruikers nie, en dokters wat dit voorskryf, is niks anders as dwelmsmouse nie. Dit is heeltemal onwettig en ontoelaatbaar op ons kampus en dokters wat dit onregmatig voorskryf, kan geskors word.” Maar ook sy gee toe dat as die student ’n voorskrif het, sal die universiteit dit moet aanvaar.

Die etiek-skuiwergat

Hoekom gee dokters Ritalin vir studente as hulle daaroor geskors kan word?
Geeneen van die dokters wat volgens ons kennis Ritalin voorskryf, wou kommentaar lewer nie: hulle is tevrede dat hul diagnoses geregverdig was. Maar hoeveel tel druk uit hul vriendekringe en hul eie ervaring met die sogenaamde “off-label” gebruik daarvan? Sou Zahni haar voorskrif gekry het as die dokter nie ’n vriend van haar ma was nie en as sy seun nie suksesvol op Ritalin geswot het nie? En dan is daar manipulasie deur die studente. Sou Derrick syne gekry het as hy nie die tekens en simptome vooraf gaan opswot het nie? Maar talle dokters – hopelik die meeste – sal nie Ritalin met die oog op akademiese prestasie uitdeel nie, sê dr. Korb: “Dit werk net nie so nie. Vir ’n voorskrif evalueer jy ’n pasiënt twee uur lank, en jy skryf dit net voor as hy werklik AAHS het.”

Die skuiwergat lê juis daarin dat die voorskrif op ’n onderhoud gegrond is. Daar is geen toetse waarmee ’n dokter kan vasstel dat ’n pasiënt aandag-afleibaar is, of nie is nie. Die dokter se maatstaf is net dit wat die pasiënt aan hom meedeel en die dokter se beoordeling daarvan. Dit gee die studente ’n kans op manipulasie. Tegelykertyd beskerm dit die dokter: Hoe gaan bewys kan word dat hy die pasiënt verkeerd gediagnoseer het? Dr. Schrönen sê daar word tans gewerk aan nasionale riglyne om die gebruik van Ritalin beter te beheer. Een voorstel is dat net psigiaters dit mag voorskryf.

Maar in hierdie stadium weet die dokters reeds dat dit “help” – soos Zahni se dokter laat blyk het. Hy is nie verkeerd nie … dalk eerder aan die voorpunt.

Die toekoms

Daar is ’n nuwe neiging: kosmetiese neurologie of kognitiewe verbetering, oftewel die gebruik van middels om prestasie op te stoot by mense met voldoende intellektuele vermoë. Baie, baie navorsing is hieroor aan die gang, en ’n hele klomp middels word ondersoek. Die meerderheid is reeds op die mark, soos Modafinil, Provigil, die ampakiniene, donepezil en atomexitine. Maar hulle is goedgekeur vir toestande soos skofwerkers se ritmeversteurings, Alzheimersiekte, depressie en AAHS. Party kan memorisering verbeter terwyl party vermoedelik abstrakte denke sal verbeter. En geeneen is verslawend nie. Maar gebruik vir akademiese  prestasie is  tans “off-label” en daarom inderdaad steeds onwettig. Dr. Schrönen bevestig dat “alle aanduidings is dat dié middels geheue, konsentrasie en beplanning verbeter” en dat “alle aanduidings is dat hulle effektief is en op die oog af onskadelik is. Die groot farmaseute wil ook die indikasies vir die voorskryf van hierdie middels ‘rek’ om meer geld te in. Provigil se gebruik het in ses jaar van 6 miljoen tot 8 miljoen gestyg … “Hulle gaan ook nie van die mark af verdwyn nie.

Miskien moet ons dit liewer beheer deur dit voor te skryf, eerder as dat mense dit van die Internet af kry. Is dit werklik veel anders as plastiese chirurgie waar mense geopereer word net om mooier te lyk, met baie groter risiko’s soos verminkende infeksies en lewensgevaarlike bloeding, in vergelyking met ritalins wat so ver ons weet veilig is? “Maar dit is ook waar dat ons nie so baie van die brein verstaan as wat ons van die vel weet nie, en dalk skade doen wat eers later sal wys. Tog word Ritalin al sestig jaar lank gebruik. “Maar ek wil geen twyfel laat dat ek glo ritalins moet Skedule 7 medikasie wees, dat dit nie vir meer as ’n maand per keer voorgeskryf mag word nie, en dat medikasie nie ’n plaasvervanger mag wees vir onbehoorlike studievoorbereiding nie.” Soos die studente sê: dit omskep gemiddelde presteerders in kitsgenieë. Wat ’n mens laat wonder of ons ook oor tien jaar anders gaan dink.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.