Vir 32 jaar was Huisgenoot Carmen Niehaus se lewe. Maar “hoë hakke en hysbakke” het nou plek gemaak vir ’n kantoor langs die watermeer aan die Weskus en haar voete word nou deur die sagte sand gekoester.
Dis natuurlik dieselfde plek waar kykers week na week saam met Carmen in die tweede seisoen van Lekker & goed op kykNET saamkuier. En in elke episode nooi sy ’n spesiale kuiergas om saam met haar die wonder van lekker kos wat ook goed is vir jou, gepaardgaande met rooibos, te ontdek.
In die vyfde episode is dit die bekroonde aktrise en gewilde voorbladnooi, Rolanda Marais, wat haar dogtertjie, Charlotte Marais-Malherbe (9), saamgebring het vir ’n lieflike kuier aan die Weskus. Dit het ook nie lank geduur voordat Charlotte al te lekker modderkoeke langs die strandmeer begin “bak” het nie.
Kykers sal vir Rolanda vir soveel uiteenlopende en uitdagende rolle in flieks asook op die kassie onthou. Dink maar aan Ballade vir ’n enkeling (2015), Die Byl (2019-2020), Donkerbos (2023) en meer onlangs The Newsmakers (2025) om maar net ’n paar te noem.
Terug in Carmen se lieflike kombuis, het die kleinding al te oulik gepryk in ’n voorskot wat haar ouma spesiaal vir haar gemaak het. Rolanda het vertel hoe die twee ’n lieflike band in die kombuis smee.
Terwyl Charlotte besig gehou is met inkleurwerk en om goeters vir die partytjietafel gereed te kry, het Rolanda vir Carmen vertel hoe gek sy self oor jogurt is.
“Ek kan jogurt drie keer ’n dag eet. Oggend, middag en aand,” het sy oor hierdie gunsteling kwytgeraak.

Carmen en Rolanda het tussendeur die gewoel en werskaf ook tyd ingeruim vir tee en Rolanda het vir haar vertel hoe ongelooflik sy die ritueel van tee-drinkery vind.
“Dit bring mense bymekaar. Ek het my béste vriendin ontmoet as gevolg van tee. As ek aan tee-drink dink, dink ek aan rustig sit. My ouma en my ma is groot tee-drinkers en daar’s altyd ’n pot tee – en ons gesels en ons skinder en dis net die lekkerste lekker samesyn,” het Rolanda gesê.
Maar, anders as met die tee, sou Carmen se macaroni-en-kaas tog wel daarin slaag om Rolanda se hart te verower? Sy het aanvanklik nie baie opgewonde geklink toe sy hoor dit gaan op die spyskaart wees nie.
Aan die einde moes Rolanda prontuit erken: “Dis nie ’n sad mac & cheese nie, dis ’n baie happy mac & cheese . . .”
RESEPTE: FEES VIR ’N KIND
Aarbei Bubble Tea-melkskommel
Genoeg vir 4-6

- 10 sakkies Carmién Kiddies Berry Boost
- 250 ml (1 k) volroommelk
- 500 ml dik natuurlike volroomjogurt
- Heuning na smaak
- 12 aarbeie, bevrore
- 100 ml bubbles, aarbeigeur
METODE
- Plaas die teesakkies in die melk en laat staan tot ’n lekker sterk geur vorm. Druk die vloeistof uit die sakkies.
- Plaas die jogurt in die voedselverwerker, voeg die bessiegegeurde melk en bietjie heuning na smaak by asook die aarbeie. Pols teen ’n hoë-spoed tot ’n gladde melkskommelagtige mengsel.
- Giet die aarbeimengsel in glase, skep in elke glas van die bubbles Sit voor.
Chia-jogurtvrugteglasies
Maak 4 glasies

Jogurt
- 500 ml (2 k) dik, natuurlike volroomjogurt
- 5 ml (1 t) vanieljegeursel
- 2 ml (½ t) fyn kaneel
- 45 ml (3 e) bruinsuiker
- 60 ml (¼ k) chiasaadjies
Vrugte
- 7 lospit geel nektariens, in skyfies en blokkies gesny
- 45 ml (3 e) bruinsuiker of na smaak
- 60 ml (¼ k) Carmién Kiddies Peachy Peach Coldbrew-rooibostee, gemaak met 1
- sakkie
- Varsgemaalde swartpeper
- Kruisementblaartjies, goed afgespoel
METODE
Jogurt
- Meng die jogurt, vanieljegeursel, kaneel en bruinsuiker saam.
- Roer die chiasaadjies in, laat 30 min staan, roer weer goed en skep 125 ml (½ k) in elke glasie of koppie.
- Maak toe met kleefplastiek en laat staan oornag. (Kan tot 3 dae so staan in die yskas, die mengsel word net fermer).
Vrugte
- Besprinkel die vrugte met suiker en koue tee. Maal swartpeper ruimskoots oor en meng goed deur. Maak toe en laat 2 ure staan sodat geure goed kan intrek en daar ’n effense stropie vorm.
- Skep die vrugte bo-op die jogurt in die jogurtglase net voor jy dit voorsit.
- Plaas ’n paar takkies kruisement bo-op elke hopie vrugte.
- Varieer die vrugte soos wat jy beskikbaar het: verskeidenheid bessies; pynappel en piesang met bietjie grenadella; verskeie sitrusvrugte of selfs gestoofde droëvrugte.
Macaroni-en-kaas met tuna
Genoeg vir 4-6 mense

- 1 pak (500 g) macaroni, gaargekook en gedreineer
- 200 g Cheddarkaas, gerasper of 80 g gerasperde parmesaankaas
- 2 blikke Lucky Star-tuna, gedreineer
- 1 bakkie (230 g) geroomde maaskaas of 250 ml (1 k) volroommelk
- 4 eiers
- Sout en peper en bietjie mosterd
- 1 Wildeklawer soet ui, in skyfies gesny
METODE
Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit sowat 6 leë Lucky Star-blikkies goed met kossproei.
- Meng die macaroni en driekwart van die kaas.
- Voeg die tuna by.
- Skep die mengsel in die blikkies en rangskik die uieringe bo-op.
- Klits die maaskaas en eiers goed saam, geur na smaak met sout en peper. Giet die eiermengsel oor, sprinkel bietjie kaas oor elk en bak sowat 30 minute of totdat die eiermengsel gestol is.
Rooibos-sjokoladekoek
Maak ’n medium koek
Koek
- 500 ml (2 k) koekmeel
- 125 ml (½ k) kakao
- 10 ml (2 t) koeksoda
- Knippie sout
- 250 ml (1 k) hawermout, fyn gekap
- 250 ml (1 k) suiker
- 160 ml (⅔ k) canola-olie
- 30 ml (2 e) appelasyn
- 500 ml (2 k) Kiddies Very Berry Carmién Tea-rooibostee, gemaak met 4 sakkies (of Pure-rooibostee)
Afronding
- Donker sjokolade, gesmelt en gemeng met bietjie melk
- Botterversiersel
- Reënboogkoekversiersel
- Vars blommetjies
METODE
Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n Bundt-pan goed met kossproei.
Koek
- Meng die koekmeel, kakao, koeksoda, en sout saam, voeg die hawermout en suiker by en meng goed.
- Giet die olie, asyn en rooibostee in ’n groot beker en klits goed.
- Voeg die tee-mengsel by die droë bestanddele en meng goed.
- Giet die beslag in die pan en bak sowat 20-25 min lank of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
- Laat dit afkoel in die pan en verkoel tot stewig.
Afronding
- Giet die ganache oor die koek en laat staan tot stewig.
- Versier met botterversiersel en sprinkel reënboogkoekversiersel oor.
- Rond af met vars blommetjies.

Lekker & goed word Donderdagaande op kykNET (DStv-kanaal 144) om 17:30 uitgesaai of stroom op DStv Stream.
Lees ook: Janie se ‘In die sop’-span span die seile in Hartbeespoortdam





