kategorieë: Inspirasie

Rolstoel sukses

Gestremdheid is nie vir sissies nie. Bring ’n paar uur saam met ’n persoon in ’n rolstoel deur, en jy voel klein en nederig voor die tyd en deursettingsvermoë wat dit van haar verg om eenvoudige dinge te doen wat vir jou vanselfsprekend is. Jy kan uit jou kar wip en in die reën hardloop om ’n winkelstoep te haal, terwyl sy moeisaam in die reën in haar rystoel moet insukkel. Dan verwonder jy jou aan die breë glimlag waarmee sy oor haar swaarkry gesels.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

DIENS AAN ANDER

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Petra Burger is so ’n sprankelmens. Ná ’n grusame motorongeluk, is sy ‘n parapleeg en aan ’n rolstoel gekluister, maar jy sal nie die geringste selfbejammering by haar kry nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Ek het deur al die emosies gegaan wat ge-stremdes beleef: ongeloof, woede, ontkenning, hartseer, tot by aanvaarding,” sê sy. “Maar as mense my vandag vra of ek die lewe mis wat ek gehad het, kan ek eerlik sê ’nee’. Ek het ’n tweede kans gekry, ’n wonderlike kans, en ek het ’n vervullende lewe. Ek geniet elke sekonde van wat ek doen, want ek beteken iets vir ander mense. Dit is wie Petra is, dit is ek.”

Petra is ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker en is die maatskaplike ontwikkelingsbeampte van die Nasionale Raad vir Persone met Fisieke Gestremdhede (NCPPDSA). In dié hoedanigheid het sy ’n ontsaglike klomp hooi op haar vurk. ’n Ledige dag ken sy nie. Opleidingsprogramme, radio- en TV-optre-des, die bevordering van die belange van die Vroueforum van die Raad, navorsing en die aanbieding van universiteitsmodules vir studente in maatskaplike werk, maak die grootste deel van haar daaglikse pligte uit. As sy haar lewe beskryf, klink dit interessant en selfs glansryk, maar donker dae het dit voorafgegaan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

In 1996 was Petra, toe 26, saam met haar ouers in hul motor op die snelweg toe ’n band bars en die motor rol.
“Kyk, ’n mens kry motorongelukke en dan ordéntlike motorongelukke,” sê sy met ’n wrang glimlag. “Ek het een van die ordentlikes gehad. Ek het omtrent elke been in my liggaam gebreek. Drie spinaalkoordfrakture, albei heupe gebreek, een heup vergruis, nege bekkenfrakture, ’n femur- en enkelfraktuur en my baarmoeder het gebars. Ek was twee jaar lank ononderbroke in die hospitaal vir die een operasie na die ander.

“My geloof het my deurgedra. Ek sê baie keer vir mense ek weet hoekom ek die ongeluk gehad het – sodat ek kon opkyk, want ek weet ek het nie opgekyk nie, ek het nie die Here vertrou soos ek moes nie. Toe het ek vir ses maande in traksie gelê waar ek móés opkyk. Daar was nie ’n keuse nie.”

Ná haar ongeluk was dit bitter moeilik om weer ’n pos as maatskaplike werker te kry.
“Jy sal my nie glo nie, maar ek het vir 128 onderhoude gegaan, sonder sukses. Uiteinde-lik het ek by die skakelbord van ’n hospitaal gewerk – daar waar hulle al die gestremdes wegsteek. Ek het elke sekonde daarvan ge-haat, want dit het my nie gestimuleer nie, maar ek het gesê dis my eerste stap.”

Toe die pos as maatskaplike ontwikkelingsbeampte by die Raad geadverteer is, het Petra aansoek gedoen en dit gekry.
“Ons werk vir baie min geld, maar ons werk met passie. Ek het al ander aanbiedinge gehad, maar ek moes besluit of ek my hart of my sak gelukkig wil hou.”

By die Raad is Petra die openbare stem vir mense met gestremdhede. Haar werk be-hels ook die ontwikkeling en instandhouding van maatskaplike diensprogramme waardeur gestremdes ’n gehaltelewe kan lei en hul plek in die samelewing kan vol staan. Sy reis geweldig baie deurdat sy die programme landwyd aanbied.

Deesdae is sy ’n gesogte gespreksgenoot op radio- en TV-programme. Onderhoude met haar gaan dikwels oor gestremdheid, maar ook oor motivering. As ’n suksesvolle mens uit eie reg het sy al as motivering-spreker opgetree by groot geleenthede soos Vrouedagvieringe, universiteitseminare en SA Polisiegeleenthede.

Verlede jaar is sy as een van net agt maatskaplike werkers in die land gekies om aan ’n navorsingsprogram in Engeland te gaan deelneem. Sy was die enigste gestremde onder die agt en moes saam met die ander die streng keuringsproses slaag.

’n Organisasie wat Petra baie na aan die hart lê, is die Raad se nuwe Vroueforum wat onder haar leiding tot stand gekom het om die saak van gestremde vroue te bevorder.

“Ons is in die eerste plek vroue, ons ge-stremdheid is bysaak, en ons wil soos vroue behandel word. Ons hou van mooi modes en wil ook bederfdinge doen wat ander vroue doen,” sê sy met passie. “Ek was onlangs in ’n winkel waar ek ’n mooi, sexy bra gesien het, maar dit was nie in my grootte beskikbaar nie. Toe ek vra dat hulle dit vir my bestel, kyk die assistent my op en af en vra: ’Nou wat wil jy met ’n sexy bra doen?’ My moedswillige antwoord: ‘Ek wil my man verlei,’ het haar sonder woorde gelaat.”

Een van haar eerste Vroueforum-projekte was om ’n groep van twaalf gestremde vroue vir ’n fotosessie saam met ’n professionele fotograaf bymekaar te kry.

“Ek het borge vir alles gekry. Ons het almal in die pragtige Palazzo-hotel by Montecasino in Johannesburg gebly. Elke vrou het ’n gesigbehandeling gekry en ek het Playtex genader om vir elkeen die sexyste lingerie moontlik te gee.
“My doelwit was dat hulle hier moes weggaan en soos die verleidelikste en mooiste vroue op aarde voel. Onthou, ’n gestremde vrou se liggaam is anders. Ons het almal boepies omdat ons nie oefening kry nie, ons het almal ’n klomp operasiesnye, ons voel almal skaam oor ons liggame. Daardie dag het ons dit reggekry om elkeen beeldskoon te laat lyk en voel. Daar is selfs naakfoto’s van die vroue geneem,” sê sy met ’n vonkel in die oog.

Petra sê dat sy duisend verskillende goed doen, maar dis vir haar heerlik. Haar gesig, stem en hande dra die vreugde oor wat sy uit haar dagtaak put.

ENTREPRENEURIESE VAARDIGHEID

6 Februarie 1994 sal vir altyd in Nthabiseng Molongoana se geheue ingegrif wees. Dit is die dag waarop ’n motorongeluk haar ’n kwadrupleeg sou maak en haar lewe onherroeplik sou verander.

Die taxi waarin sy en drie vriendinne was, wou nie aan die gang kom nie. Party passa-siers het uitgeklim en ander vervoer gaan soek, maar nie Nthabi nie. ’n Paar mense het gehelp om die taxi aan die gang te stoot. Die bestuurder het ’n U-draai oor die pad gemaak, reg voor ’n aankomende motor in. Dit is al wat sy van die ongeluk kan onthou.
Ná 17 jaar is haar emosies steeds rou as sy aan daardie dag terugdink. “Vandag wens ek ek het die ander keuse gemaak,” sê sy gedemp.

Toe sy twee weke later haar geheue terugkry, het sy net gedink aan teruggaan kollege toe om haar onderwysstudie voort te sit. Sy het geglo haar verlamming was tydelik, maar moes mettertyd die feit onder oë sien dat sy nou ’n kwadrupleeg was, met geen gebruik van haar onderste ledemate nie en slegs beperkte gebruik van haar arms. Oor “hoekom” en “waarom” sê sy eenvoudig: “Net God ken die antwoord. Net Hy ken die patroon van ons lewe.”

Direk ná die ongeluk het sy in Garankuwa gebly waar haar vriende was.  “Ek het baie gehuil daardie tyd,” vertel sy.
’n Maatskaplike werker moes haar moed inpraat en saans moes vriendinne haar was en voer. Nege maande se rehabilitasie het gevolg. Haar lewe sedertdien is ’n loflied aan haar ma se liefde. Dié was werkloos en het in ’n klein huisie sonder elektrisiteit gewoon, maar sy het daarop aangedring dat Nthabi by haar moes kom bly.

“Ek weet nie hoe sy dit reggekry het nie, maar binne ’n week het ons elektrisiteit ge-had. My ouers was uitmekaar maar my pa het wel finansiële ondersteuning gegee.”

Toe haar ma kanker kry, het Nthabi na ’n tehuis vir gestremdes verhuis. By die provinsiale Raad vir Gestremdes het sy werk by die skakelbord gedoen wat geweldig baie vir haar beteken het, maar haar gemoedstoestand was negatief oor die donker toekoms wat sy vir haar voorsien het.

Gelukkig verskyn daar engele op ’n mens se lewenspad. ’n Vrou genaamd Ellen Gaba-rone was so ’n engel.
“Sy het my na die Universiteit van die Vrystaat toe geneem en my vir ’n B.Sc.-graad in wiskunde laat inskryf, maar dit was moeilik. Die universiteitsgebou was nie rolstoelvriendelik nie en ek was baie selfbewus.

“Toe ek my eerste jaar druip, het ek be-sef ek moet my houding verander,” sê sy en haar innerlike krag slaan in haar stemtoon deur. In 2004 het sy haar B.Sc.-graad behaal, ’n triomf vir haar en haar gesin.

“My ma is oorlede kort voordat ek die graad ontvang het. Daardie graad was vir ons albei. Sy het nie geleerdheid gehad nie en het my altyd aangespoor om te leer.”

’n Ander ligpunt was ’n uitbetaling van die Padongelukkefonds waarmee Nthabi ’n huis in Bloemfontein kon koop en dit vir haar gestremdheid kon inrig. Daarsonder sou sy ná haar ma se dood geheel en al hulpbehoewend gewees het.
Met die sokkerwêreldbeker om die draai het Nthabi ’n sakegeleentheid raakgesien en vroeg in 2009 besluit om haar huis in ’n gastehuis te omskep. Daar was in elk geval ’n groot behoefte aan ’n gastehuis in Bloemfon-tein wat vir gestremdes toeganklik is. Twee van die vyf slaapkamers in Lentha’s Lodge, haar gastehuis, is vir gestremdes ingerig.

“Dit was aanvanklik baie moeilik. Ek het niks van besigheid geweet nie, maar ek moes vir my en my aangenome seun ’n bestaan uitkerf. Ek is lief vir my huis. En ek is lief vir my besigheid, want God het vir my die geleentheid uit niks geskep nie. Ek kan met hoop leef,” sê sy.

2010 was vir haar ’n hoogtepunt. Nie net was haar gastehuis in groot aanvraag met die sokker nie, maar sy het ook ’n toekenning ontvang. Die Suid-Afrikaanse Toerismeraad het ’n kompetisie vir die ontluikende entrepreneur van die jaar aangebied en Nthabi het ingeskryf. In elke provinsie is vyf finaliste aangewys wat opleiding in verskillende aspekte van sakebestuur ontvang het.

Daarna moes hulle krities na hul eie ondernemings kyk en ’n voorlegging aan ’n paneel beoordelaars doen. Op Internasionale Wêreldtoerismedag verlede jaar is sy as die Vrystaatse wenner aangekondig.

Haar horisonne het verbreed, want as deel van die prys kon sy Duitsland toe gaan om aan ’n groot toerisme-uitstalling deel te neem. Dit het meegebring dat haar gastehuis op ’n veel groter aantal databasisse ge-adverteer word en haar onderneming het sterk begin groei. Sy kon ekstra kamers aanbou en dis haar doelwit om mettertyd ’n tweede gastehuis oop te maak.

Nthabi is nie bitter nie. Kalm sê sy: “Ek bid nie tot God dat hy my weer moet laat loop nie. Ek bid dat hy my sterk sal maak om te dra wat ek moet dra. Deesdae is ek wel meer emosioneel. Ek huil maklik. Kyk net waar ek vandaan kom. Van niks af nie. Maar daar was soveel ondersteuning. Toe ek die eerste dag in Erika Geertsen, my arbeids-terapeut, se oë kyk, het ek hoop gesien, en dit is wat ek aan ander mense wil teruggee.” Besoek www.lenthaslodge.co.za

KORPORATIEWE UITBLINKER

’n Aansteeklike laggie maak dit pure plesier om saam met Versha Rowjee te kuier. Sy gesels so opgewek dat jy heeltemal vergeet dat sy in ’n rystoel sit. Versha is met die toestand spina bifida gebore.

“’n Tekort aan foliensuur by die ma veroorsaak dié toestand by die fetus in die baarmoeder,” verduidelik sy. “Die baba word met ’n opening in die ruggraat gebore wat meebring dat die sentrale senuweestelsel be-skadig word.”
Die toestand het veroorsaak dat Versha se onderlyf verlam is. Sy kan wel met krukke loop, maar haar bene is dun en baie swak, want waar ander mense twee bene in hul onderbeen het, het sy net een. Die afgelope twaalf jaar gebruik sy ’n rolstoel.

Sy aanvaar haar toestand heeltemal en sien dit skaars as ’n abnormaliteit, hoofsaaklik omdat haar ouers haar van die begin af net so normaal soos haar ouer sussie en jonger boetie grootgemaak het.

“Ons het op Potgietersrus gebly en in die apartheidsjare was daar nie gespesialiseerde ondersteuning vir Indiërs en ander nie-wittes nie. My ouers het na my omgesien en my normaalweg in die huishouding geïntegreer. Ek is nie soos ’n porseleinpoppie behandel nie en moes nes die ander kinders met take in die huis help.”

Sy was ook in gewone skole, saam met fisiek normale kinders, en was gereeld onder die top drie in haar graad.
“Ek was uiters kompeterend en was mal oor wiskunde en wetenskap. My sussie was ’n topstudent en ek wou ook so wees. Vir hoërskool moes ons Pietersburg toe gaan. Ek het elke oggend saam met die ander kinders op die bus geklim soontoe en smiddae weer terug. Dit het gehelp om my met die gemeenskap te integreer. Hulle het my as ’n presteerder geken en ek het nooit geïsoleer of jammer vir myself gevoel nie.”

Universiteit was ’n splinternuwe uitdaging, maar Versha was vasbeslote om op haar eie bene te staan en het op Wits in Johan-nesburg besluit. Vir die eerste keer in haar lewe sou sy onder haar ouers se sorg uit wees, iets wat vir hulle ook moeilik was om te aanvaar. Sy het ’n B.Com.-graad verwerf en is besig met die laaste eksamens vir haar MBL, ’n meestersgraad in besigheidsleierskap.

Versha is klein van postuur, maar jy kom gou agter dat daar ’n wil van staal in haar skuil. Sy beywer haar, onder meer deur die Nasionale Raad vir Gestremdes waarvan sy die vise-voorsitter is, om groter bewustheid van die omstandighede en regte van gestremdes te skep.

“Ons is mense soos alle ander mense. Ons moet soos hulle soggens opstaan, tande borsel, werk toe gaan, ons moet rekeninge betaal, inkopies doen. Die verskil lê in mense se koppe. Hulle het soms die persepsie dat as jy fisiek gestrem is, daar ook iets met jou kop fout is. Of hulle voel so ongemaklik dat hulle jou nie in die oë wil kyk en met jou praat nie.”
’n Groot deurbraak vir Versha was om haar eie huis te koop. Dit het haar finaal op haar pad na onafhanklikheid geplaas. Ná universiteit het sy by SA Brouerye in Polokwane ’n betrekking gekry, maar toe hulle daardie kantoor toemaak en Centurion toe skuif, wou sy saamgaan, al was haar pa onwillig om haar te laat gaan. In Midrand het sy ’n huis gekoop wat nog in aanbou was en wat sy na haar behoeftes kon inrig.

Loopbaangewys het dit met haar goed gegaan. Sy het reeds haar internskap as rekenmeester in Polokwane gedoen en is algaande bevorder na poste met meer verantwoordelikheid, totdat sy as projekrekenmeester by SAB se hoofkantoor in Sandton aangestel is. Haar gesig helder op as sy vertel van ’n groot eer wat haar te beurt geval het. Haar prestasies in die korporatiewe omgewing het nie ongesiens verbygegaan nie en in 2002 is sy op Eskom se raad van direkteure aangestel, die enigste gestremde persoon.

“Dit was ’n lewensveranderende ervaring. Om tussen daardie bekwame en ervare sakemense te wees en van hulle te leer, het ontsaglik baie vir my beteken. Aanvanklik was ek oorweldig en stil, maar ek het geleer dat ek ’n bydrae het om te maak. En ek het in daardie tyd gegroei, waarskynlik tien jaar in ouderdom gespring vanweë die vlak van bekwaamheid waaraan ek blootgestel is.”

Ná ses jaar het sy as direkteur uitgetree, maar haar ambisie om in haar loopbaan te vorder het net gegroei. Tans is sy sakeontwikkelingsbestuurder by ’n internasionale Switserse maatskappy en hanteer sy same-smeltings en oornames in Sub-Sahara- Afrika. Ook buite die korporatiewe omgewing sprei sy haar vlerke. As kind was sy fisiek nie aktief nie, maar later wou sy graag leer swem. Die ervaring toe sy haar kop die eerste keer onder die water druk en haar lyf vanself op die water dryf, was onvergeetlik.

“Die vryheid, die gewigloosheid het my uitgeboul. Oplaas was hier ’n geleentheid waar ek sonder krukke oor die weg kon kom.” Sy swem net met haar arms, want haar bene is te swak, en sy wil volgende jaar die Midmar-myl saam met ’n vriendin aanpak. Skubaduik het haar ook ’n gevoel van vryheid gegee. Ondanks haar dokter se vrees dat die skubatenk op haar rug te swaar sal wees, het sy met die opleiding deurgedruk en daarna die onderwaterwêreld in Mosambiek gaan verken.

Is daar nog iets wat sy graag sou wou doen? Ja, sy sou graag nog wou reis. Sy was al in Indië saam met haar ouers en alleen in Australië, Engeland, Jordanië en Mauritius. En sy sou graag ’n tandemsprong uit ’n vliegtuig wou doen.
“Loopbaangewys is ek tevrede met waar ek nou is … ” Sy bly ’n oomblik stil en sê dan effens verleë: “Ek hoop nie ek klink onambisieus nie … ”

‘n Mens skud net jou kop. Onambisieus? Nee, eerder ’n klein wonderwerk.

PETRA SE BOODSKAP AAN VROUE MET GESTREMDHEID

Elkeen van ons is na die beeld van God geskape, en elkeen van ons is in die oë van die Here uniek, waardevol en betekenisvol. Glo aan jou skoonheid, waardigheid en deug as vrou en moenie in die strik trap om jou aan die uiterlike sogenaamde volmaaktheid van ander vroue te wil meet nie.
Elke vrou, gestremd of nie, is die ruggraat van ’n gesin, van ’n familie en van ’n gemeenskap. As jy ’n vrou in ’n gemeenskap het wat vir haar regte opkom, het jy ingeligte kinders wat ook eendag vir hul regte sal opkom.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.