Episode 11 van Op my eish! het begin met Ruan en die dames wat ’n perskonferensie moet trotseer – iets wat elke seisoen deel is van die alleenloper se reis in die kollig. Sommige van die vroue was effe senuweeagtig, maar die vrae het vinnig vir interessante oomblikke gesorg.

Die ys is behoorlik gebreek toe ’n Huisgenoot-joernalis reguit gevra het wie al vir Ruan gesoen het. Tot almal se verbasing was dit net Cindy wat haar hand opgesteek het, terwyl Bejanke en Minette mos ook reeds daardie spesiale oomblik met Ruan gedeel het. Selfs Cindy was verras deur die reaksie.
Ons rooi rose-joernalis, Karlien Meiring, wou weet wat vir Ruan in elke dame uitstaan. Sy opregte antwoorde het elkeen spesiaal laat voel, maar die gesprek het ook liggies aan die konflik tussen die dames geraak – iets waaroor niemand veel wou uitbrei nie. Daar was ’n teer oomblik toe Ruan gevra is hoe die proses hom geestelik beïnvloed. “Ek raak emosioneel, want dit is moeilik,” het hy erken.
Ná die intense begin het die groep saam middagete geniet, waar Ruan voorgestel het dat hulle spin the bottle speel om die atmosfeer te lig. Die speletjie het vinnig vir pret – en ’n paar ongemaklike oomblikke – gesorg.

Die bottel het die eerste keer by Saartjie geëindig, en Ruan het haar verras met ’n piksoentjie. Haar speelse reaksie was dat sy eerder ’n vraag sou wou hê, aangesien sy nog baie het om te sê. Die bottel het verder gedraai en verskeie reguit vrae en spontane soentjies het gevolg. Cindy het erken hoe lekker die soen was en is ook direk gevra wat die lelikste ding is wat sy al van iemand anders op die program gesê het.
Die atmosfeer het verander toe die vrae meer persoonlik begin raak. Veral Cindy en Charlene se gesprek het verdiep toe Cindy wou weet hoekom Charlene soms teenstrydig voorkom. Charlene het verduidelik dat sy tyd nodig het om haar emosies te verwerk voordat sy daaroor kan praat.
Die middag het ’n ernstige wending geneem toe Ruan die dames vra of hulle die pad saam met hom sal stap indien hy hulle kies. Elkeen het sonder huiwering ja gesê. Kort daarna het hy aangekondig dat dit tyd is vir ’n besluit, en jy kon die spanning met ’n mes sny.

Uiteindelik moes Saartjie huis toe gaan – ’n verwikkeling wat ’n emosionele impak op almal gehad het.
“Ek was eerlikwaar nie geskok nie, maar dit bly natuurlik ’n emosionele oomblik. Jy bou tog bande en raak gewoond aan die ervaring,” het Saartjie gesê en bygevoeg dat dit vir haar makliker was om te aanvaar omdat sy geweet het waar sy en Ruan met mekaar staan.
“Ja, daar was beslis ’n konneksie, maar dit was ’n vriendskaplike een,” het sy verduidelik. “Ons het mekaar goed verstaan en gemaklik gevoel in mekaar se geselskap, maar daar was nie ’n romantiese vonk van my kant of syne nie.”
Sy kyk vandag anders na die ervaring. “Met tyd en perspektief voel dit baie ligter,” sê sy. “In die oomblik is alles meer intens, maar nou kan ek terugkyk met dankbaarheid vir die ervaring en alles wat ek daaruit geleer het.”

Wat was vir haar by terugskoue kosbaar? “Die lag, die diep gesprekke en die verhoudings wat ek gebou het met Ruan asook lewenslange vriendinne,” vertel sy. “Dis daardie egte konneksies wat vir my uitstaan.”
Die ervaring het haar ook meer oor haarself geleer. “Ek het geleer om nog meer op my intuïsie te vertrou en eerlik met myself te wees oor wat ek soek en verdien,” sê sy en voeg by dat die deelname aan Op my eish! haar gehelp het om uit haar gemaksone te klim en die onbekende aan te durf.
Intussen is daar weer iemand in Saartjie se lewe. “Ja, ek het liefde gevind, en dit was op die mees natuurlike manier.” Sy sê sy is vandag dankbaar vir hoe alles uitgespeel het en beskryf haar nuwe verhouding as vervullend en gebalanseerd.
Later het Ruan by JP aangesluit om oor die dag te reflekteer, en hy het bevestig dat hy reeds weet wie sy finale topdrie is. Ná episode 11 is daar egter nog vier vroue oor wat ’n kans staan om Ruan se hart te wen: Minette, Cindy-Lee, Bejanke en Charlene.
Op my eish! word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Rian van Heerden se laatnag-gesprekke gaan weer verras en jy gaan wil luister




