Deur Christa Swanepoel
Servikale kanker kan suksesvol behandel en beheer word, mits dit vroegtydig opgespoor word.
Lucinda Carter van Johannesburg is 16 jaar gelede met servikale kanker gediagnoseer. Vandag is sy gesond en gaan dit goed met haar. “Ek is dokter toe omdat ek gewig begin verloor het en pal moeg was. Ek het gereeld vir my papsmere gegaan en die kanker is juis toe ek 39 jaar oud was ná so ’n roetine-ondersoek gediagnoseer.
Enigiemand wat so ’n diagnose ontvang, sal weet met hoeveel onsekerheid, vrees en vrae dit jou laat. Wat lê vir my voor, gaan ek my hare verloor, ensovoorts. Ek was gelukkig om ’n sterk ondersteuningsnetwerk in my vriende en familie en natuurlik Kansa te hê.
“Daar is dadelik met behandeling begin en ek het sewe weke lank een maal per week chemoterapie ontvang en het daagliks oor weeksdae radiumbehandeling gekry. Ná die behandeling en toetse het ek ’n SMS gekry om te sê die kanker is in remissie.
“Ek het pas 55 geword en is positief oor die toekoms. Ek wil alle vroue vra om jaarliks vir hul papsmeer te gaan. Ons is geneig om na almal om ons om te sien en onsself af te skeep, maar ruim tyd in vir jou papsmeer. Dit kan jou lewe red.
“Ek het by Kansa betrokke geraak en sal hulle altyd dankbaar wees vir die ondersteuning toe ek dit die nodigste gehad het.” Lucinda werk tans by Kansa se hoofkantoor waar sy pasiënte met pruike help.
Meer oor servikale kanker
Die serviks is die onderste nou deel van die baarmoeder en lei van die baarmoeder na die vagina. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word meer as 95% van servikale kankers deur die menslike papilloomvirus (MPV) veroorsaak.
Infeksie as gevolg van die MPV kan vanself opklaar, maar aanhoudende infeksie kan servikale kanker veroorsaak. MPV is ’n groep van meer as 200 virusse wat versprei word
wanneer jy intiem verkeer met iemand wat die virus het.
Simptome kan ontwikkel jare nadat jy besmet is, en dit is uiters moeilik om die virus vroegtydig te bespeur by vroue wat nie gereelde papsmere laat doen nie omdat die meeste mense geen simptome ervaar as die virus in hul liggame is nie.
Servikale kanker is die tweede algemeenste kanker onder Suid- Afrikaanse vroue, maar ook die kanker waaraan die meeste vroue in ons land sterf. Suid-Afrikaanse vroue het 1 uit 42 kans om in hul leeftyd
servikale kanker op te doen. Die goeie nuus is dat met ’n omvattende benadering om servikale kanker te voorkom, daarvoor te toets en dit te behandel, kan dit binne ’n generasie as ’n openbare gesondheidsprobleem geëlimineer word, meen die WGO.
Wat is ’n papsmeer en hoe help dit?
’n Papsmeer is ’n betroubare siftingstoets om servikale kanker op te spoor. ’n Monster van die selle van die serviks word daartydens geneem en wys abnormale selle in die serviks uit wat in kanker kan omsit.
Vroue tussen 18 en 25 jaar wat seksueel aktief is behoort elke drie jaar vir ’n papsmeer te gaan, of twee jaar ná die eerste seksuele aktiwiteit en dit moet herhaal word tot op die ouderdom van 70 jaar.
Wanneer abnormale selle geïdentifiseer en verwyder word, is dit dikwels nog voor kankerselle ontwikkel. Só ’n vroeë diagnose en behandeling voorkom tot 80% van servikale kankers in lande waar dit gereeld gedoen word.

Mites
- Servikale kanker is oorerflik.
Onwaar: Servikale kanker is nie oorerflik soos bors- en baarmoederkanker nie. Dit word deur die MPV veroorsaak. Jy kan jou dogter van die infeksie met die MPV-inenting vrywaar. As jy al te oud vir die inenting is, moet jy gereeld vir MPV- en papsmeertoetse gaan.
- Die oorsaak van servikale kanker is onbekend.
Onwaar: In die meeste gevalle word servikale kanker deur MPV veroorsaak, wat ’n seksueeloordraagbare infeksie is.
- As jy nie simptome het nie, hoef jy nie getoets te word nie.
Onwaar: ’n Siftingstoets word gedoen om vas te stel of daar enigiets abnormaal in die liggaam aangaan al het jy nie simptome nie. ’n Abnormale servikale sel sal nie noodwendig simptome veroorsaak nie, maar kan deur die siftingstoets opgetel word. As jy wel simptome het, word ’n diagnostiese toets gedoen om die oorsaak van die simptome vas te stel.
- Die papsmeer kan help om ander ginekologiese kankers soos baarmoederkanker op te spoor.
Onwaar: Die servikale papsmeer toets nie vir ander ginekologiese kankers nie.
- Die papsmeer beskerm vroue teen servikale kanker.
Onwaar: Slegs ’n papsmeer is nie genoeg om vroue teen servikale kanker te beskerm nie. Vir alle vroue bo 30 moet ’n MPV-toets saam met die papsmeer gedoen word om dit vroeg te diagnoseer.
- Servikale kanker is dodelik.
Onwaar: Servikale kanker kan genees word as dit vroeg opgespoor en behandel word.
- Servikale kanker is aansteeklik.
Onwaar: Kanker kan nie van een mens na ’n ander oorgedra word nie – dit is nie aansteeklik nie. MPV-infeksie is wel aansteeklik en word deur direkte kontak van die vel en seks oorgedra.

’n Paar feite waarvan jy moet weet
- Servikale kanker is die hoofoorsaak van kankersterftes en die tweede algemeenste kanker onder vroue (basale sel-karsonoom uitgesluit).
- MPV is die hoofoorsaak van servikale kanker en ongeveer 300 000 vroue sterf jaarliks wêreldwyd aan servikale kanker.
- Die stam 16 en 18 van die MPV word die algemeenste met servikale kanker verbind.
- Vroue met MIV se risiko is groter om op ’n jonger ouderdom servikale kanker te kry weens hul onderdrukte immuunstelsel (15-49 jaar).
Simptome van servikale kanker
- Abnormale bloeding tussen maandstondes.
- Swaarder en langer menstruele bloeding.
- Vaginale uitskeiding.
- Vaginale bloeding of pyn gedurende seks en ná menopouse.
- Meer gereelde urinering.
Risikofaktore
- Omdat servikale kanker hoofsaaklik oorgedra word deur die MPV deur velkontak, liggaamsvloeistowwe en seks, verhoog jou risiko as jy nie beskerming tydens seks gebruik nie, seksueel oordraagbare siektes het, verskeie seksuele maats het, as seks reeds van jongs af beoefen word en mondelinge voorbehoedmiddels gebruik word.
- Vroue met MIV se risiko is ook hoër.
- Vroue wat oorgewig, onaktief is, alkohol gebruik, ’n swak dieet volg, rook en aan chemikalieë blootgestel word, se risiko is ook hoër.

Kansa se voorkomingstrategie
Kansa is tot die WGO se strategie verbind. Die fokus is om 90% van meisies teen die ouderdom van 15 jaar ten volle teen servikskanker ingeënt te hê.
Besoek cansa.org.za, www.who.int/initiatives/cervical-cancer-eliminationinitiative en www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/cervical-cancer
Lees ook: 22 Slaapprobleme, 22 oplossings.
