November bring groot omwentelinge na Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel.
Van bedrog en verlies tot nuwe liefde, geloofstoetse en talle onverwagse kinkels – Suidooster beloof om kykers vasgenael voor die kassie te hou.
Hier is ses storielyne waarvoor aanhangers moet uitkyk in Suidooster se verjaarsdagmaand:
Wade se klubdroom ontaard in ’n nagmerrie
Wade (Dean Smith) se plan om sy sukkelende kroeg, Brassery, in ’n glansryke klub te omskep lyk aanvanklik belowend en hy kry selfs vir Early B om te kom optree. Dinge begin egter lelik skeef loop wanneer ’n nuwe bendebaas, Selwyn (Tevin Eagleson), sy “beskermingsdienste” vir Wade aanbied.
Wat begin het as ’n sake-ooreenkoms verander vinnig in afpersing, geweld en chaos. Zoë (Lauren Joseph) probeer vergeefs om Wade te waarsku, en wanneer dinge buite beheer raak, word hulle verhouding tot breekpunt gedryf. En daar is ’n skokkende nadraai…
Maryam se soeke na vergifnis loop skeef
Daar is weer olie op die vuur wanneer Mymoena (Jill Levenberg) se ouer suster Maryam (Celeste Wannenburg) ’n verrassende onthulling oor wyle AB (Cedric Joel) maak, wat tot nuwe konflik tussen die susters lei.
Maryam trek uit die Samsodien-huis en probeer haar lewe herbou deur by ’n reisagentskap te werk. Mymoena maak, soos in die verlede, weer vrede met haar, maar ou versoekings steek kop uit en kort voor lank raak haar vingers lank. Mymoena se geloof in haar suster word getoets soos nog nooit vantevore nie, en ’n hartverskeurende besluit word geneem.

’n Fietsry-droom eindig in tragedie
Wat as ’n gesonde stokperdjie begin het, eindig in tragedie wanneer Riaan (Daniel Coetzee), Gary (Craig Adriaanse), Justin (Eden Classens) en Gary se meisie Lilly (Lascelles Marias) in ’n ongeluk beland. Die voorval eis ’n lewe en laat skuldgevoelens en woede soos ’n storm oor hulle spoel. Riaan verloor beheer oor sy emosies en sy lewe, en sy vriendskappe word behoorlik getoets.

Verbode gevoelens tussen Frankie en Riaan
Frankie (Mienke Ehlers) probeer vir Riaan bystaan in sy donker tyd, maar haar empatie ontaard in iets meer persoonlik as wat sy bedoel het. Wanneer Gary (Craig Adriaanse) die twee saam sien, broei jaloesie en skinderstories uit wat Frankie en Justin (Eden Classens) se verhouding onder groot druk plaas.
In die middel van al die chaos besef Frankie en Riaan dat hulle ware gevoelens nie maklik weggesteek kan word nie.

Nazeem se tweestryd tussen reg en verkeerd
Nazeem (Irvine van der Merwe) worstel met die versoeking om weer betrokke te raak by onderwêreld-bedrywighede, maar besef dat sy toekoms dalk eerder in “eerlike werk” lê. Sy plan om die Royal met plaaslike produkte te vernuwe, kan hom red – of vernietig – afhangende van watter pad hy kies. Sy reis bring broodnodige morele balans na die donker kant van Ruiterbosch.

Jenna, die poetsbakker van Ruiterbosch
Te midde van al die drama sorg ’n nuwe jong gesiggie vir glimlagte én chaos. Die twaalfjarige Jenna (Judi Hattingh) plak “googley”-ogies oral in die mall as ’n grap, tot Aiden (Theodore Jantjies) haar betrap – en onverwags beïndruk word deur haar ma…

Suidooster word Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & kie uitgesaai.
Lees ook: Boer soek ’n vrou: Wat jy alles oor Rudi H se Lenmarie moet weet


