Tydens die 14de episode van die huidige reeks van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, het die vyf boere met hul gekose pasmaats by Paternoster aan die Weskus aangemeld vir ’n heerlike vakansie vol son, see en avontuur.
Maar wat kykers nie verwag het nie, was dat Rudi H nie met Lizette opgedaag het nie, maar ’n splinternuwe pasmaat – en dié twee het al te danig met mekaar gelyk. Maar hoe, waar en wanneer het hierdie kinkel ingesluip?
“Met die laaste uitstemming het ek vir Lizelle gekies,” het Rudi H toe verduidelik. “Maar daar was nooit . . . altans, van my kant af was daar nooit daai konneksie nie.”
Ironies was Lenmarie een van sy top-10 briefskrywers, maar vanweë omstandighede kon sy nie die blitsafsprake bywoon nie. Maar geen berg té hoog of e-pos té ver om afgelewer te word nie. Koffie en kuiers het gevolg tot waar sý die een was wat Paternoster toe genooi is . . .

Wat jy van Lenmarie moet weet
Sy is ’n 51-jarige kliniese sielkundige wat in Kimberley woon wat erken sy geniet haar werk so baie dat dit nie eintlik na werk voel nie. Lenmarie is een van ’n identiese tweeling, en hulle het ook ’n sussie wat serebraal gestremd is.
Die slimkop het pas haar PhD voltooi en is ook die ma van ’n 14-jarige dogter “wat my op my tone hou”.
Sy vertel hulle is geseënd dat beide haar ouers nog leef. Almal bly boonop in Kimberley en hulle is baie geheg aan mekaar.
“Familiebande is vir my belangrik.”

Wat laat jou tiek?
“There is joy in small wonders”.
Solank haar gras groen is en sy plante aan die lewe kan hou, is sy gelukkig, al glo sy dat sy nie groen vingers het nie. Daarom is dit vir haar ’n verligting dat Rudi H met boerbokke boer en nie gewasse nie.
“Dit sou katastrofies gewees het,” het sy erken.
Wat haar ook aan die gang hou is “betekenisvolle gesprekke met my mense, ordentlike flieks en boeke wat jou laat wonder en lekker kos en wyn. Ek is ’n hedonis . . . ek hou van reis en stilte en stilstaan, maar my werk laat dit nie altyd toe nie”.
Wat weet min mense van jou of het jy enige interessante stokperdjies?
“Mense dink ek is ’n ekstrovert, maar ek is eintlik baie skaam en wel ’n introvert. Ek kán braai en wou al vir Kokkedoor: Vuur en Vlam ingeskryf het. My lamsribbetjie is ’n wenner.
“Ek eet nie nie chutney op my braaibroodjies nie – en ek het ’n secret crush op [die akteur] Colin Firth.”
Wat is vir jou die belangrikste eienskap waarna jy soek in ’n lewensmaat?
“Ek het ’n gelyke nodig – iemand wat in dieselfde juk trek, ’n spanmaat wat eg en eerlik is, iemand wat kan lag vir my, homself en die lewe. Humor is belangrik.”

Wat is jou lewensmotto?
“Whatever you love, you are”
Boer soek ’n Vrou seisoen 17 se finale episode word op Donderdag 6 November uitgesaai. Die volgende oes boere (vir seisoen 18) word op Donderdag 13 November om 20:00 bekendgestel en dan begin Kokkedoor: Son & see op Donderdag 20 November op kykNET.
