Verskaf deur kykNET
“Wanneer jy jou mens vind, verweef twee wêrelde, elk met hul eie familie en vriende. Om op ’n plaas te kom bly, beteken jy word deel van ’n gemeenskap, ’n nuwe familie, ’n nuwe vriendekring,” het die aanbieder Reandi Grey gesê nadat die boere hul kuiergaste aan húl mense begin bekendstel het.
In die tiende episode van Boer soek ’n vrou, kykNET se gewilde maatsoekreeks, het die spanning na ’n nog hoër rat oorgeskakel. Verlede week het Willie en Arno se gaste reeds met hul familie en vriende kennis gemaak. In hierdie episode was dit Jack, JD en Francois wat moes regstaan.
Jack voel ’n ‘vibe’
Op die appel- en peerboer Jack se plaas digby Hermanus het Hanli en Anri alleentyd saam met die jong boer deurgebring.
Jack vir vir Hanli genoem dat hy haar gekies het omdat sy van die omgewing is, maar dat hy haar nog nooit voorheen raakgeloop het nie – en dat hy nuuskierig daaroor was …
Hanli het gevoel dat Jack weet daar’s gevoelens van haar kant af, maar sy wou graag ook van sy kant iets meer hoor.
Ook Anri het die tyd op die plaas as rustiger ervaar, en sy wou by Jack weet hoe hy oor aanraking voel. Haar terugvoering rondom haar eie gevoelens daaroor het hom verbaas en hy het besef hy sal versigtiger moet trap.
Tog het hy gevoel hy “vibe” met al twee, maar net op verskillende vlakke. Terwyl die drietal met ’n jenga-spel besig was, het elke houtblokkie ’n vraag verteenwoordig. Dit het tot vele interessante gesprekke gelei.
Anri en Hanli het baie daarna uitgesien om Jack se mense te ontmoet. Hulle het al twee gevoel dat dit die groep mense sou wees wat hulle kon bystaan om hom beter te verstaan en natuurlik ook meer te wete te kom oor die mens wat hy werklik is.
Die twee potensiële pasmaats het nie lank gehuiwer voordat hulle sy vriende met vrae gepeper het nie. Maar gaan die uiteinde geografies bepaal word: Is dit plaaslik (Hanli) of die Vrystaat (Anri)?
Die meerderheid het hul keuse uit die twee meisies gemaak … Wat wel intussen gebeur het, is dat Jack en sy potensiële pasmaats reeds deur die aanvanklike romantiese skille begin sien het – en besef dat alles nie perfek is nie …
Francois kry (die regte?) koers
Intussen het Beniska en Sonel vir Francois, natuurbewaarder van Hoedspruit, verbaas oor hoe mededingend hulle kan wees, selfs al het hulle ’n kinderspeletjie gespeel. Maar hy het dit beslis geniet.
Tussen al die gelag deur, het hulle hom natuurlik ook met vrae gepeper, soos wat vir hom ’n “rooi vlag” is rondom meisies.
“Rook, kontak met haar eks … en ek kan nie saam met iemand wees wat nie dieselfde geloof en waardes as ek het nie,” was sy reaksie.
Daar was ook iemand saam met wie hy baie rustig gevoel het en saam kon lag …
Sonel het genoem dat Francois emosioneel intelligent is en dat hy sake mooi oordink voordat hy op iets reageer.
Beniska wou trompop by hom weet of hy bang is sy gaan hom oordonder. Hy het erken sy het ’n sterk persoonlikheid, maar dat dit hom nie regtig afskrik nie. Wat hom wel bekommerd gelaat het, is dat hy nie gou met ’n gesin wil begin nie. Die reisgogga is nog aktief en hoewel Beniska nie ongeneë is om reistasse te pak nie, wil sy graag iewers anker gooi.
Ironies het Francois vir haar gesê sy naam beteken “vrye man” – en toe het Beniska hom meegedeel dat haar naam “familie” beteken. Gaan die betekenis van hul name dalk ’n onoorkombare hekkie wees?
Die kuier saam met familie en vriende het Francois behoorlik op sy senuwees gehad. Hy het in ’n stadium gesê dit voel amper asof hy gaan trou. Natuurlik het Francois se ouers ook vir Beniska en Sonel ontmoet en hulle het die twee as uiteenlopend ervaar: rustiger teenoor “meer loud” …
Francois self het al klaar ’n idee in sy kop gehad, maar hy het nie veel meer verklap nie. Dit het egter nie sy ma geflous nie. Sy ken immers haar kind en kon sien watter een sy aandag meer getrek het.
JD volg sy hart
Doer in die Vrystaat op JD se plaas het die meisies hulself mooi opgetof vir die kuier. Lara en Leoné kon nie wens vir ’n hartliker verwelkoming nie. En sy familie en vriende het hom glad nie beny nie, want hulle kon self nie kies wie hulle dink beter op die plaas sal aard nie.
Maar een ding waaroor hulle almal dit eens was, was dat JD ’n maatjie nodig het. Daardie mens wat saans wanneer hy tuiskom, daar sal wees vir hom. Maar, was daar gewaarsku, daardie persoon moet ook ferm staan en die teuels vas kan hou wanneer nodig.
JD het erken sy kop gaan steeds een kant toe en dat hy sy hart volg. Dit begin al hoe meer klink of dié twee nou in dieselfde rigting begin beweeg. Dit het hom ’n bietjie hartseer laat voel omdat hy nie iemand in die proses wou teleurstel nie.
Reandi sê: “’n Gemaklike kuier is nie net altyd ’n gemaklike kuier nie. Gaan ons boere se vriende en familie se stemme ’n impak hê op hul besluit? Óf gaan hulle steeds net hul eie harte volg?”
Die reeks word op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: ‘Boer soek ’n Vrou’: Nou raak dinge ernstig | rooi rose









