Deur Tanya de Vente-Bijker (rooi rose Sept. 2026)
Die minister is 12 minute vroeg vir ons afspraak. Dit is net hy en sy lyfwag. Geen entourage, geen drama. Hy is op pad Kaap toe vir parlementêre vergaderings. Ons ontmoet mekaar by die Quills-restaurant van die InterContinental Hotel by die OR Tambo Internasionale Lughawe. Gelukkig is ek ook vroeg, want hy vertel vir my en die fotograaf, in die weermag het hy geleer jy daag sewe minute te vroeg op vir parade. Ons neem foto’s in ʼn sitkamer wat die restaurant vir ons beskikbaar stel en die bestuurder van die restaurant kom groet en maak seker die minister het alles wat hy benodig. Maar die minister steur hom min aan oordrewe protokol en drama. Die botteltjies koue water en warm handlappies wat reggesit is, bly onaangeraak.
Sy hoflikheid en hartlikheid is die eerste wat my opval. “Ek weet jy het gesê rooi rose gaan die rekening betaal, maar dit is op my,” stel hy sommer met die intrapslag die reëls vas.
Hy maak seker dat ek tevrede is met die tafel, en my sitplek, voordat hy die stoel vir my uittrek. Ons bestel twee americano’s (een met melk vir die minister) en ek wil begin gesels.
Sedert hy einde 2024 as minister van korrektiewe dienste aangestel is, het hy eenvoudig die stokkie by Ronald Lamola oorgeneem en aan die werk gespring.
Maar, hy het wel as leier van die VF Plus bedank. Hy kon eenvoudig nie al twee poste tegelyk beklee nie.

Minister Pieter Groenewald en joernalis Tanya de Vente-Bijker. Foto: Henri Viljoen
Busi kom neem ons bestelling. Ek moet eerste bestel. Dr Pieter het na ʼn lamstjoppie uitgesien, maar by gebrek aan ʼn tjoppie bestel hy die verouderde lamskruisskyf, medium gaar gemaak, maar nie bedruip met enige souse nie. Ek bestel beesfilet. Ons albei bestel soetpatatskyfies as ʼn bygereg.
Hy glo na 65 is jy nie net ryk aan werkservaring nie, maar ook aan lewenservaring. “En in vandag se tyd is lewenservaring ʼn baie belangrike aspek in enige werk, maak nie saak wat jy doen nie. So as jy kan aangaan en jy is gelukkig om nog te kan werk dan gaan jy aan.”
Ek vra hom of hy reken dat sy jare se ervaring in die politiek, sy militêre agtergrond en kennis, bydra tot hoe hy vandag minister van korrektiewe dienste kan wees. “Ja, vir seker. En onthou ek het letterlik van 1989 af op die portefeuljekomitee van polisie gedien. Nadat ek in 2024 nou minister geword het kon ek nie meer op die komitee dien nie, maar ek was eintlik die langs dienende lid op die portefeuljekomitee van polisie.”
- Koop September 2026 se rooi rose om die volle onderhoud te lees.
