kategorieë: Leef gesondGesondheid

Stamselle: die nuwe toorwoord

Wat is stamselle?

Stamselle is ’n bietjie soos die blanko blokkies in Scrabble. Dit kan enigiets verteenwoordig; ’n een-grootte-pas-almal sel. Dis die grondselle wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling van elke orgaan en weefsel in die mens – dus selle wat nog nie geprogrammeer is om ’n spesifieke funksie in die liggaam te vervul nie. Dit is ook ’n soort sel wat vir lang tydperke self kan repliseer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Al dié unieke eienskappe maak stamselle ideaal om organe of beskadigde selle te vervang. Dit het die potensiaal om toestande soos Alzheimer se siekte, Parkinson-siekte, tipe 1-diabetes, rugmurgbeserings, beroerte, brandwonde, harvatsiektes en osteoartritis te genees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Orgaanskenking is op die oomblik die enigste manier om beskadigde selle te vervang, maar organe is moeilik bekombaar en moet ook met die ontvanger se weefseltipe en bloedgroep versoenbaar wees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Waarvandaan?

Stamselle ontstaan nadat die eiersel en spermsel saamgesmelt het met bevrugting en kom in ’n embrio voor. Dit word embrioniese stamselle genoem. Stamselle kom ook in klein hoeveelhede in volwassenes se organe en bloed voor. Dis nog nie duidelik waar in die liggaam volwasse stamselle oral voorkom nie, maar daar is selfs stamselle in die brein, hoewel hulle nie aktief genoeg is om ’n breinbesering te kan herstel nie. Daar word op die oomblik na metodes gekyk om die bestaande stamselle in organe te aktiveer om beserings te herstel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Pasreg genetiese materiaal

Een van die algemeenste maniere om stamselle te verkry, is van die bloed wat ná geboorte in ’n baba se naelstring oorbly. Dit word dan in ’n stamselbank by baie lae temperature gevries en kan in die regte omstandighede vir baie lank geberg word. Indien daardie kind een van die siektetoestande opdoen waarvoor stamselle gebruik kan word, is dit pasreg genetiese materiaal wat die kind se beskadigde selle kan hernu. Die tegniek word suksesvol aangewend vir kankers wat die beenmurg beskadig en kan selfs gebruik word (soos orgaanskenkings) om vir ander mense met die regte weefselsoort ’n kans op herstel te gee.

Banke

Dr. Stephen Purcell van Durban is ’n weefselpatoloog en die mediese direkteur van Cryoclinic in Suid-Afrika. Dié maatskappy is ’n filiaalmaatskappy van Cryosave in België, wat die grootste bergingsbank van stamselle buite Amerika is.

Cryoclinic is een van drie stamselbanke in Suid-Afrika wat stamselle vir berging in-samel. Stamselle word net ná geboorte uit die oorblywende bloed in die naelstring (sowat 90 ml) onttrek waarna dit by baie koue temperature in baie beheerde omstandighede geberg word. Omdat daar geen metaboliese aktiwiteit by sulke lae temperature is nie, kan die selle nie agteruit gaan nie.

Hoewel navorsing daarop dui dat stamselterapie waarskynlik een van die grootste mediese deurbrake is, maan dr. Purcell ouers tot realisme: “Die berging van stamselle is ’n weelde en moenie boaan ouers se lysie staan nie. Die kans dat jy dit gaan gebruik, is baie klein, maar dit kan jou kind se lewe red as hy dit in die toekoms nodig sou kry. Ouers moet die kans dat hulle dit gaan nodig kry teen die aanvanklike prys opweeg. As jy dit kan bekostig, is dit ’n tipe lewensversekering wat in die regte om-standighede jou kind se lewe kan red.”

Aanwending

Stamselle wat uit die naelstring verkry word, word op die oomblik net vir beenmurgverwante siektes gebruik. As jy stamselle in ’n stamselbank het, is dit selle met die vermoë om nuwe beenmurg te genereer wat oorgeplant kan word as jou kind se beenmurg weens ’n siekte beskadig word en nie doeltreffend wit- en rooibloedselle kan vervaardig nie.

Tog dui navorsing daarop dat die stamselle in die toekoms vir baie meer organe as net bloed aangewend sou kan word. Wanneer leukemie en ’n paar ander skaars bloedkankers beenmurg beskadig, word die pasiënt se goeie en aangetaste beenmurgselle deur chemoterapie uitgewis en moet nuwe, versoenbare skenkerbeenmurgselle (of stamselle) gebruik word om die funksie van die uitgewiste selle te vervang.

’n Skenker se weefseltipe moet grootliks met dié van die ontvanger ooreenstem, anders sal die liggaam dit verwerp. Hier is die kans een uit 100 000 dat jy ’n versoenbare weefseltipe gaan kry. Die skenker se bloedsoort moet verkieslik ook ’n pasmaat wees. Maar as jy jou eie stamselle berg, het jy dadelik die perfekte weefsel beskikbaar wat jou liggaam nie sal verwerp nie.

Ongelukkig is sommige beenmurgsiektes geneties van aard, wat beteken dat jy nie jou eie stamselle sou kon gebruik nie omdat die defektiewe DNS van die siekte steeds in die stamselle aanwesig sal wees. Dan is jou enigste kans om ’n skenker te kry waarvan die weefselsoort ooreenstem.

Baie lande het ’n naelstringbloedbank wat deur die regering befonds word en vir almal beskikbaar is. In Suid-Afrika berus die onus op die individu.

Stamselterapie hou ook baie belofte vir siektes soos tipe 1-diabetes en gevorderde nierkanker in. Hoewel die behandelings al suksesvol op pasiënte gedoen is, is dit met die hulp van volwasse stamselle teen ’n fenomenale prys gedoen.

Verwerping bly ’n groot risiko. Nuwe toepassings in die behandeling van lewerkanker, hartvatsiektes, outo-immuunsiektes, metaboliese stoornisse, chroniese inflammatoriese siektes soos lupus en ander gevorderde kankers word tans nagevors.

Wat sê ’n verloskundige?

Dr. Sumayya Ebrahim van Johannesburg sê as jy die geld het, is stamselberging ’n goeie versekeringspolis vir jou kind. Die verkryging van die bloed is eenvoudig en hou geen risiko vir die baba of ma in nie. Maar sy wil nie hê ouers moet emosioneel verplig voel om dit te doen as hulle dit nie werklik kan bekostig nie. “Ongelukkig is dit duur en bitter min ouers kan die diens gebruik. Ouers moet besef dis nie die enigste kans om stamselle te verkry nie. Navorsing word voortdurend gedoen om stamselle uit ander oorde soos die vel en selfs menstruele bloed te verkry. Hoewel dit nog net eksperimenteel is, kan baie nog gebeur.”

Hoe gemaak?

Gaan só te werk as jy jou baba se stamselle gestoor wil hê: Nie al die maatskappye werk eenders nie, maar by Cryoclinic bel jy die stamselbank en registreer (R2 000) om ’n insamelingspakket te kry. Die pakkie bevat alles wat nodig is om die bloed ná geboorte te versamel en sluit vervoerkoste en aanvanklike toetse in. Bespreek dit vooraf met jou ginekoloog of vroedvrou en onthou om die pakket hospitaal toe te neem.

Ná insameling moet die pa die maat-skappy dadelik kontak sodat ’n koerier dit by die hospitaal kan afhaal. Hierna word dit na die bank in België vervoer waar dit vir gehalte en hoeveelheid getoets word. Die aanvanklike koste van R2 000 sluit alles tot op dié punt in. As alles in orde is, betaal jy die volgende bedrag van R12 000 wat die bergingskoste vir 21 jaar dek. As die monster nie aan die vereistes voldoen nie en nie suksesvol geberg kan word nie, betaal jy niks meer nie. As alles reg is, stuur hulle vir jou ’n sertifikaat met jou unieke nommer. As jy die stamselle ooit sou benodig, kontak jy die maatskappy wat dit enige plek ter wêreld aan jou sal besorg.

Naelstringstamselle vir jou?

Stamselle van jou baba kan dalk in die toekoms vir jou aangewend word as die weefsel pas. Hoewel die webwerf van Cryoclinic berig dat die hoeveelheid bloed wat gestoor word voldoende is vir ’n mens van 45 kg, sê dr. Purcell van Cryoclinic dat nuwe navorsing daarop dui dat jy in die toekoms waar-skynlik minder stamselle nodig sou hê sodat dit genoeg kan wees om ’n volwassene te behandel.

Morele kwessies

Die etiese en morele probleme wat stamselnavorsing aanvanklik oorskadu het, gaan oor die gebruik van menslike embrioniese stamselle. Stamselle is die grondselle in die embrio en waaruit alle selle van alle organe in die liggaam ontwikkel. Hierdie embrio’s is gewoonlik vier tot vyf dae oud en het ontstaan in fertiliteitsklinieke waarna dit aan navorsing geskenk is. Dit is nie ’n embrio wat in ’n vrou se baarmoeder ontstaan het nie.

Hoewel die embrio niks meer as ’n makroskopiese balletjie selle is nie, het dit die potensiaal om in die regte omstandighede in ’n baba te ontwikkel.

Volwasse stamselle

Dié selle kom in klein hoeveelhede in mense se organe en bloed voor. Die selle het nog nie ten volle gedifferensieer in ’n spesifieke orgaan nie en kan ná ’n besering of infeksie help om herstelwerk in ’n orgaan te doen. In die bloedstroom is ook volwasse stamselle en dit is wat gebruik word as skenkers vir beenmurgoorplantings gesoek word.

Uit die naelstring

Stamselle uit die naelstring het die voordeel dat hulle baie jonger is en baie meer van hulself kan dupliseer as ouer stamselle van volwassenes. Daar is ook ’n kleiner risiko vir verwerping omdat die selle nog nie eienskappe ontwikkel het wat deur ’n ontvanger se immuunstelsel herken kan word en aangeval kan word nie. Die skenkerselle sal ook nie die ontvanger se liggaam so maklik aanval nie.

Oppas vir stamselskurke

As jy desperaat is, sal jy enigiets doen om jou eie lewe of dié van ’n geliefde te red. Daar is hospitale in Oosterse lande of onbekende landjies wat prosedures aanbied en resultate belowe wat nie strook met die algemene sukses van vooraanstaande stamselnavorsing nie. Moenie dat emosies jou oorreed om al jou geld op so ’n prosedure weg te dobbel nie, waarsku dr. Purcell. Hoewel stamselle die voorheen onmoontlike moontlik kan maak, moet jy eers met deskundiges praat voor jy op die vliegtuig klim.

Towermiddel?

Is stamselle die towermiddel wat verlamming en blindheid kan genees? Wetenskaplikes sê dit is wel een van die belowendste mediese ontwikkelings van ons tyd, maar waarsku dat die meeste van die toepassings steeds net beloftes is, en daar is geen waarborg dat dit in die praktyk gaan slaag nie.

Nuwe navorsing

Stamselle uit die vel

Nuwe navorsing dui op metodes waar embrioniese stamselle gebruik word om gene in selle in jou vel te “herprogrammeer” sodat hierdie selle soos embrioniese stamselle kan reageer. Die enigste probleem is dat die nuwe selle “hibriedselle” is wat die DNS van jou vel bevat sowel as die aanvanklike embrioniese stamselle. Die aanvanklike DNS sal eers verwyder moet word voor dit bruikbaar is.

Stamselherwinning uit vrugwater

Time Magazine noem stamselherwinning uit vrugwater (die vloeistof waarin die baba in die baarmoeder dryf) een van die tien grootste mediese deurbrake van 2007. Die wonder is dat dit in doeltreffendheid tussen embrioniese stamselle en volwasse stamselle lê, maar baie van die etiese en logistieke probleme met embrioniese stamselle systap.

Volgens ’n artikel in The Los Angeles Times van 8 Januarie 2007 het navorsers altyd vermoed daar is stamselle in vrugwater, maar kon dit toe vir die eerste keer bewys. Omdat die oorblywende vrugwater ná ’n amniosentese – ’n toets wat op talle swanger vroue gedoen word om genetiese defekte in die fetus op te tel – gebruik word, is dit maklik bekombaar. Dit kan ook ná geboorte uit die plasenta herwin word. Hierdie selle is maklik om te groei en te beheer en dra nie die risiko van tumors (bondels selle wat stukkies vet, hare en tande bevat) wat algemeen by embrioniese stamselle voorkom nie.

Stamselbanke in Suid-Afrika
Cryo-Save: 087 8080 170
Cryoclinic: 011 803 4409
Lazaron: 021 919 6428
Netcells: 0861 638 2355

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

5 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.