Die 13-jarige Judi Hattingh van Durbanville, Kaapstad, is blitsvinnig besig om kykers se harte as Jenna in die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, te steel. Sy vertolk die rol van Liné (Mila Guy) se sieklike dogter.
Haar Suidooster-rol is wel haar eerste groot TV-verskyning, maar Judi was die hoofkarakter in die kykNET-fliek Desemberdiewe (2022) en in 2023 het sy die rol van een van die Von-Trapp-kinders vertolk in die musiekspel, The Sound of Music, wat by Artscape in Kaapstad en Monte Casino in Johannesburg uitgevoer is.
Boonop het dié talentvolle leerder van Curro Durbanville ook vanjaar by die KKNK gehore beïndruk met haar vertolking in Annie+Helen saam met Cintaine Schutte waar sy benoem was vir ’n Kanna as Beste Aktrise in ’n hoofrol en toe met ’n Kanna bekroon is as die Beste Opkomende Kunstenaar/Nuweling vir haar indrukwekkende vertolking van ’n jong Helen Keller.
In 2023 was sy die algehele wenner van Huisgenoot se Eistedfod-kompetisie nadat sy die poësie én prosa-kategorieë gewen het.

Maar wag, laat Judie sélf vertel van haar verhouding met teater – waar dit begin het en waarheen sy op pad is.
Waar kom jou liefde vir toneelspel vandaan en het jy enige ander stokperdjies/belangstellings?
Ek was nog altyd lief vir die kunste. Ek het grootgeword met baie stories, musiek en drama. My ouers het altyd met slaaptyd die lekkerste stories vir ons gelees en ons het altyd na musiek geluister en ook self musiek gemaak. Ons is van kleins af geneem na uitvoerings en ek was maar 4 jaar oud toe ek na Annie gaan kyk het toe dit in die Artscape-teater in Kaapstad opgevoer was.
Toe ek in graad R was, het my skool The Sound of Music opgevoer en ek was mesmerized! Ek en my broer Gerlo het al daai liedjies dag en nag lank gesing en opgevoer.
Ek het ook van graad 1 elke jaar aan die Tygerberg en Stellenbosch Eisteddfods deelgeneem en gedigte voorgedra en klavier gespeel.
My skool het ook self begin om hul eie kunswedstryd, CAS, aan te bied vir graad 4-7’s vir al die Curro-skole regoor die land. Ek het in graad 4 hieraan begin deelneem. Ek het baie goed gedoen en was gekies om aan ’n konsert deel te neem saam met al die toppresteerders van daardie kunswedstryd. Die oomblik toe ek my voet op die verhoog gesit het met ons eerste vertoning, het ek geweet dit is waar ek hoort – dis my tuiste.
Nico Scheepers het my in daardie vertonings raakgesien en voorgestel dat ek moes kom vir ’n oudisie vir ’n fliek. Dit was Desemberdiewe deur Carla Smith. Ek het die hoofrol gekry en dit was ’n fantastiese ondervinding.
Ek was in The Sound of Music in die Artscape en ook in die toneelstuk, Annie+Helen, deur Wordsmith’s Theatre Factory en Curro Create.
En nou is ek in Suidooster! Met elkeen van hierdie geleenthede het my liefde vir toneelspel net gegroei en meer ontwikkel – nou kan ek nie daarsonder nie.
Ander belangstellings? Ek speel klavier en ek dans en sing in die koor.
Dit is jou eerste groot TV-rol – hoe het jy gevoel toe jy hoor jy het die rol van Jenna in Suidooster gekry?
Dit het onwerklik gevoel. Ek was ongelooflik opgewonde en kon nie wag vir die dag wat ons begin skiet het nie. Ek kon die vorige aand omtrent nie my oë toemaak nie.
Hoe is dit om saam met Mila Guy te werk? Het sy vir jou enige wenke of raad gegee wat jou op stel gehelp het?
Dit was die beste ondervinding om saam met Mila te kon werk. Sy is ’n ongelooflike goeie aktrise en ’n lieflike persoon. Ek het by haar geleer dat dit heeltemal oukei is om foute te maak, jy moet net lag daaroor en daaruit leer.
Jenna is ’n splinternuwe karakter in Suidooster. Hoe sal jy haar beskryf en wat het jy van haar geniet?
Jenna is lewenslustig, spontaan en ’n baie opwindende karakter om te speel. Sy is snaaks en liefdevol en klim vinnig diep in ’n mens se hart in. Ek was mal oor haar oneindige hoeveelheid energie en dat sy in elke slegte/negatiewe situasie die positiewe kant daarvan sien en nooit moed opgee nie.
Wat was tot dusver die grootste verrassing of die lekkerste om in Suidooster te speel?
Die lekkerste deel is die feit dat almal altyd ongelooflik vriendelik en hulpvaardig is. As jy enigiets nodig het is daar altyd iemand om jou by te staan en te help. Daar is ’n spesiale en besonderse atmosfeer wat op stel geskep word. Dit is rustig, vriendelik en baie liefdevol. Ek was nooit angstig of senuweeagtig om ’n toneel te skiet nie want daar was nooit enige druk op my geplaas nie en niemand het my ooit laat voel asof ek nie goed genoeg is nie.

Hoe het jou skoolwerk gebalanseer terwyl jy in Suidooster verskyn het?
Terwyl ek Suidooster geskiet het, was ek ook besig om te leer en om toetse te skryf. Ek het meeste van die tyd my tonele in die middae geskiet sodat ek ’n vol dag van skool kon bywoon. Ek moes hard fokus wanneer ek geleer het en ek het deurgedruk al was ek uitgeput en moeg. Die mense by Suidooster het gelukkig baie begrip gehad vir die feit dat ek nog in die skool is en tussendeur moet leer. Hulle het altyd verstaan as ek moeg was.
Het jy enige roetines wat jou gefokus en kalm hou?
Ja, ek het roetines om in my karakter te kom en om gefokus te bly, veral wanneer dit ’n emosionele toneel is wat geskiet moet word. Ek maak seker ek verstaan my karakter se emosionele reis deur die toneel en ek maak my oë toe, raak rustig en klim dan in my karakter se skoene.
Wie inspireer jou in die Suid-Afrikaanse film- of TV-bedryf?
Die mense wat my die meeste inspireer en waarna ek geweldig baie opkyk, is Mila Guy, Bianca Flanders, Stian Bam, Cintaine Schutte, Annelisa Weiland, Theodore Jantjies, Eldon van der Merwe, Hennie van Greunen en Pedro Kruger.

Sonder om iets te verklap – wat is een prettige of spesiale oomblik van jou tyd op die Suidooster-stel wat jy nooit sal vergeet nie?
Vir my was dit ’n baie spesiale oomblik toe ek ’n video gemaak het vir my ma (Mila Guy) en Aiden (Theodore Jantjies) om vir hulle te sê hoe lief en dankbaar ek is vir hulle.
Het jy ’n boodskap vir enige ander kind van jou ouderdom wat dalk ook daarvan droom om ’n TV-ster te word?
My boodskap aan enige kind van my ouderdom wat droom daarvan om ’n TV-ster te word is: Dink baie, baie mooi daaroor en wees 100% seker dit is wat jy vir ’n lewe wil doen. Dit is lang ure se werk en dit vat baie van jou energie, maar as jy doodseker is dat ’n stel of die verhoog jou tuiste is en dat dit is waar jy hoort, go for it!
Dit is nie altyd maklik nie, maar as dit jou passie is en iets is wat jou gelukkig maak, dan moet jy dit doen.
Lees ook: Margaret uit Hollywood: George Clooney is die laaste rolprentster


