Met die Kaapse winter in volle swang, lyk dit asof die een storm na die ander in Junie in Ruiterbosch, die fiktiewe woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel, gaan losbars.
Kykers gaan veral dié ses storielyne boeiend vind:
- Siya (Gantane Kusch) lek nog sy wonde nadat Bianca (Simone Biscombe) dit duidelik gemaak het dat haar hart by Riaan (Daniel Coetzee) lê. Maar het sy met haar hart of verstand gedink? Dit blyk Bianca is steeds in ’n tweestryd en sy besef dat sy niemand meer aan ’n lyntjie kan hou nie. Sy maak die finale keuse oor aan wie haar hart behoort.
- Gary (Craig Adriaanse) en Aiden (Theodore Jantjies) se Nambiese avontuur het verrassende gevolge, veral as “oom Hans”, by wie hulle die plaas geërf het, by hulle begin spook. Daar is ’n geraamte in sy kas, wat die Booysen-broers behoorlik skrik op die lyf jaag . . .
- Staan JPD eintlik vir “jok, planne en drama”? Dinge raak vinnig krapperig by JPD met Zoë (Lauren Joseph) en Bridgette (Denise Newman) se gekonkel oor die aandele om vir Nazeem (Irvine van der Merwe) uit te oorlê. Nie net saai dit onmin tussen Bridgette en Lee-Ann (Portia Joel) nie, maar Wade (Dean Smith) is gewalg wanneer hy van Zoë se aandeel in hul bose plan uitvind. Dit voel vir hom soos déjà vu wanneer hy haar konfronteer en die Leviete voorlees . . . soos die dae toe Tim (Marco Spaumer) nog in die prentjie was.
- Bridgette en Nazeem se sondes haal hulle in en beide moet die gevolge van hul dade in die gesig staar. Om dit te kan doen moet broer en suster die strydbyl probeer begrawe. Die vraag op almal se lippe is natuurlik of dit ooit moontlik is?
- ’n Nuwe gesig, iemand wat familiebande in Ruiterbosch het, se voete word onder hom uitgeslaan wanneer hy vir Angie (Char Carrie) ontmoet. Ongelukkig het hy nie ’n idee hoe om haar hart te wen nie, maar Justin (Eden Classens) en Gary (Craig Adriaanse) is mos ervare casanovas en meer as bereid om hul liefdeswenke met hom te deel.
- Daar is Samsodien-drama op die Kaapse horizon, want Kaashifa (Jawaahier Petersen) keer terug . . .
Lees ook: Suidooster: Wink daar dalk ware liefde vir Bianca ná 10 mans oor 10 jaar?
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: La Dolce Vita roep: Stanley Tucci oor sy nuwe Nat Geo-reisreeks