Die een koue front na die ander bring in Julie ’n vlaag van vuurwarm drama na Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel. Daar is rugstekery, misverstande, onsekerheid en gebroke harte.
Ondanks die donker onweerswolke wat oor die woonbuurt saamgepak het, verskyn daar tog ook ’n reënboog met ’n pot goud vol versoening en hoop vir die toekoms op die horison.
Hier is vyf spanningsvolle storielyne wat jy beslis nie wil misloop nie!
-
Bridgette vs Zoë
Bridgette (Denise Newman) is keelvol vir Zoë (Lauren Joseph) se speletjies en stel haar voor ’n keuse: Gee óf die aandele terug óf gee pad. Wade (Dean Smith) bring egter vir Zoë tot nuwe insigte, maar sy vertrou steeds nie die nuwe alliansie tussen Bridgette en Nazeem (Irvine van der Merwe) nie . . .
-
Samsodien-drama
Rhafiek (Irshaad Ally) probeer om vir Kaashifa (Jawaahier Petersen) terug te wen, maar sy gee hom ’n koue skouer. Wanneer hy besluit om oop kaarte oor sy gevoelens met haar te speel, is sy woedend en maak dit duidelik dat daar geen hoop vir ’n versoening is nie.
In ’n poging om aan te beweeg, besluit hy om te begin “date”. Kaashifa besef die enigste manier waarop sy finaal die verlede agter haar kan sit, is om met Dullah Johannesburg toe te trek.
-
Die liefde blom vir Reggie en Angie
Angie (Char Carrie) en Reggie (Ettiene Gertse) se liefde vat behoorlik vlam, maar sy begin hom daarvan verdink dat hy iets wegsteek. Toe die waarheid eindelik uitkom, besef hulle meer as ooit dat hulle bymekaar hoort.
Hy begin ook na sy biologiese pa soek. ’n Ongelooflike geleentheid bring hom by ’n kruispad oor sy toekoms bring en Angie word voor ’n onmoontlike keuse geplaas.
- Is Justin ’n frank smaak vir Frankie?
Frankie (Mienke Ehlers) verloor haar blyplek en dit dwing haar om by Kate (Annelisa Weiland) in te trek. Justin (Eden Classens) probeer kliphard om Frankie se hart te wen en nes dit toe lyk of daar geen hoop vir hom is nie, vind dié twee mekaar. Hy begin droom van ’n eie liefdesnessie vir hulle, maar Frankie is huiwerig om so vinnig saam met hom in te trek.
- Kate roep die kerk vaarwel
Na te veel werk en te min waardering, bedank Kate uit die gemeente. Haar ontmoeting met ’n geheimsinnige vreemdeling begin ’n nuwe spirituele pad – dalk met bonatuurlike hulp . . .
Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Suidooster: Bridgette en Nazeem se versoening het Denise Newman ook verbaas