Deur Elna Rossouw. Foto’s: Theana Breugen, oorspronklik geneem vir die ATKV/ FAK.
Hier’s een van ons gunsteling-onderhoude met Susan, sy word vandag 68 jaar oud.
Ons besluit om op die laaste Woensdag in Augustus by haar huis in Linden te ontmoet … min wetende dat dit juis daardie aand bloumaan is. Toe ek voor Susan Coetzer se huis met die turkoois mure in ’n boomryke straat in Johannesburg stilhou, dink ek vanaand se ander naam vir supermaan pas nogal by die muurverf.
Susan laat die swart ysterhek oopgly en ek ontdek haar wêreld van bontgeverfde mure en ’n binnehof vol potplante. Die oop deure nooi jou binnetoe, vorentoe tot op die groot kuierstoep met sy ekstralang tafel, witgeverfde houtstoele en rottangmeubels wat in ’n gemaklike kuierplek gerangskik is. Die water in die swembad onder die stoep lê stil en bo die tafel (“daar het al 70 vroue op die stoep gekuier”) hang stringe amulette en ligvangers.
Susan maak koffie in ’n sypelkan en oor twee sterk koppies koffie speel haar lewe − in volkleur − voor my af.

Sy is in Kaapstad as een van drie kinders gebore. Haar broer is al jare lank oorsee waar hy ’n sielkundige is en haar suster − hier op eie bodem − “is die musikale een”.
“My ma was ’n wonderlike, kreatiewe mens. Een wat jy nie in ’n boksie sou kon plaas nie. Sy was haar eie mens. Nie ’n afskrif van ander nie. My pa was pittig met woorde. Ek het van kleins af vir die grootmense konsert gehou. Nooit kon droom dit sou my lewe word nie.”
Susan se ouers het geskei toe sy hoërskool toe is en ná hulle letterlik van kus tot kus getrek het, het haar lewe dramaties verander. “Ek het gesukkel om aan te pas en ’n swak selfbeeld ontwikkel. Ek was uitstekend in atletiek en kon seker ’n Springbok-atleet geword het, maar het te veel gewig aangesit. Skryf het my stille vriendin geword.”

Vandag het Susan ’n lang lys inspirerende boeke agter haar naam. Boeke met titels soos Oros vir die siel, Tjoklits vir die siel, Custard vir die siel, All-bran vir die siel, Smarties vir die siel. Boeke waarin sy op haar humoristiese manier (“ek weet eintlik nie hoekom mense dink ek is snaaks nie”) pitkos uit haar eie lewe deel. ’n Talent wat sy glo sy kon ontwikkel omdat Joan Kruger, ’n vorige redakteur van rooi rose, haar ’n kans gegee het.
“Ná my en Frank (Opperman) se egskeiding, het ek ’n doelbewuste besluit geneem om daar te wees vir ons vierjarige seun, Frankie. Ek het as joernalis begin werk en moes meer geld verdien om te oorleef. Ek het agter ’n toe deur gesit en huil toe Joan instap en vra hoekom ek nie ’n rubriek oor die lewe en liefde van ’n eenlopende vrou skryf nie. Haar soektog na Mr Right. So is Uit die dagboek van Lisa de Waal* gebore en die res is soos hulle sê geskiedenis.”
Ek het Susan leer ken as die jong aktrise in Diepe grond, ’n toneelstuk deur Reza de Wet en onder die regie van die ontslape Lucille Gillwald waarvoor sy in die laat tagtigerjare “op een aand as beste nuweling én beste akteur” bekroon is.
“Dit was móéilike tye. Ek het drama op Stellenbosch geswot, ’n HOD gedoen en besef skoolhou is nie vir my nie. Ek het my beurs teruggewerk en Johannesburg toe sonder enige kontakte getrek.” Die oudisies vir Diepe grond was ’n vuurdoop.
“Lucille het my vir die derde keer ingeroep … sy het getwyfel of ek ‘angry enough’ vir die uitdagings van die rol sou kon wees. Sy het gedink ek is te veel van ’n Polyanna met lang lokke en pienk strikkies. Lucille het my uitgedaag om groot woede te demonstreer… en toe ek skilderye van die mure afruk, tafels en stoele begin omgooi, het sy geskree: ‘Enough, enough! You’ve got the part’.”
“Dit was nie ’n maklike rol om te vertolk nie. Die stuk wat in die ou Suid-Afrika afgespeel het, was polities gelaai en ons is op sekere dorpe verban. Maar ek sal Lucille altyd dankbaar wees dat sy die underdog ’n kans gegee het. In my geglo het. Ek glo vandag nog: Almal moet ’n eerste kans kry.”
Later het Susan TV-kykers weer laat regop sit met hoofrolle in Laat vrugte, Meester, en die “bose” Daisy de Melker met regisseurs soos Koos Roets en Annie Basson.
Sy het die rol van Griet vertolk in die verhoogstuk wat op Marita van der Vyver se roman Griet skryf ’n sprokie gegrond is, was Robyn de Swart in Sewende Laan, het ’n draai in die hospitaalgange van Binnelanders gemaak, en het pas ’n paar episodes vir Hartklop geskiet. Dit is slegs ’n paar van die bekender rolle op haar kerfstok. Sy het ook ’n paar verhoogstukke soos Die duiwel is ’n ding wat spring en Partners geskryf.

Vandag reis Susan as motiveringspreker die land vol, iets wat spontaan uit haar boeke ontwikkel het. Haar dagboek is propvol. “Ek probeer soveel as moontlik uitnodigings as wat ek kan akkommodeer. Ek is jammer wanneer ek iemand moet wegwys. Ek glo ons het almal ’n geskenkpakkie van die Skepper ontvang. Jy moet net diep in die sakkie kyk, dalk ’n bietjie delf, om by al jou spesiale talente uit te kom.
“Op my eie lewensreis het ek my eie lesse geleer en ek het besef ek moet op iets groters as mense staatmaak. Ek glo ’n mens kan nie die teenwoordigheid van God in jou lewe ontken nie. In elk geval nie ek nie. Ek besef ook ek kan nie mense verander nie, ek kan hulle dalk net beïnvloed om almal om hulle met respek en integriteit te behandel. Om liewer ’n wyse uil as ’n blinde mol te wees. Om die teenwoordigheid van die Skepper in jou lewe te erken.”
Ons gesprek draai terug na die absolute verskrikking van die Covid-pandemie. Susan vertel hoe sy met dankbaarheid besef het sy en haar naastes is gesond. Lééf. Ja, sy het haar inkomste verloor, maar sy kon ’n plan maak om haar werkskamer en ’n deel van haar huis te verhuur om die paaiemente te betaal.
“Ek het ook geleer met hoe min jy tevrede kan wees.” Sy het haarself gedwing om “elke dag lipstiek vir my computer aan te sit” en aan Blinde mol of wyse uil? te werk.
“Ek het geweldig baie navorsing gedoen om integriteit te definieer en ’n lysie met die goue bestanddele van integriteit op te stel. Dit was vir my ’n verrykende ervaring.”
Susan skryf nie net boeke met ’n geestelike inslag nie. Sy het haar net wyer gegooi en het al ’n hele paar romans geskryf.
Ons tyd raak min en die koffiekoppies koud.

Hoe sou sy haarself beskryf? Hoe sou sy haar talente as aktrise, joernalis, skrywer, motiveringspreker saamvat?
“Ek’s ’n kreatiewe innoveerder. Ek hou daarvan om mense te ondersteun. Of jy nou ’n ma, skoonma of ouma is, is die ondersteunende rol − in my oë − die belangrikste rol. Ek sal ook graag onthou wil word as iemand wat met my skryfwerk lesers op ’n dieper reis geneem het. Om deur ’n lens vol lig te kyk en in dankbaarheid te leef.”
Susan loop saam met my motor toe. Sy vertel van die piekniekmandjie wat sy vanaand gaan pak om saam met ’n paar vriendinne vir die opkoms van die bloumaan te wag; ’n volmaan wat vanaand soveel helderder gaan skyn.
Ek verstaan nou hoekom Susan so gewild is. Sy leef in lig en dankbaarheid. Sy het lankal haar innerlike vrede gevind.
Hierdie artikel het oorspronklik in ons Desember-uitgawe van 2023 verskyn.
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se September-uitgawe móét lees!
