Min families in Suidooster het al soveel storms beleef én oorleef soos die Samsodiens. Deur die jare het hul storielyne kykers laat lag, huil en soms verbysterd gelaat – met temas wat wissel van verlies en verslawing tot geloof, trauma en geestesgesondheid.

Nou is hierdie geliefde sepie-familie in ’n nuwe krisis gedompel met Rhafiek (Irshaad Ally) se gesondheidprobleme wat hom in ’n koma in die hospitaal laat beland het. Dit lyk of sy lewe aan ’n draadjie hang.
Maar die Samsodiens kén van seerkry. Hier is van die grootste ander uitdagings wat hulle al in die gesig gestaar het.
Die motorongeluk wat alles verander het
In een van die sepie se grootste skokwendinge was Mymoena (Jill Levenberg) en Jerome (Danny Ross) saam in ’n ernstige motorongeluk toe hulle na Bianca (Simone Biscombe) gejaag het omdat sy in kraam was. Sy was destyds in ’n verhouding met Jerome betrokke. Terwyl Mymoena kritiek beseer en vir ’n tyd lank in ’n koma was, het Jerome aanvanklik gelyk of hy ongedeerd daarvan afgekom het. Maar in ’n tragiese wending het hy egter later inmekaargesak en is hy breindood verklaar – dit was te wyte aan onopgemerkte inwendige beserings. Die dood van Jerome het ’n golf van hartseer deur Ruiterbosch gestuur en bly een van die skokkendste oomblikke van die reeks.

Bianca se dwelmstryd
Bianca se afdwaling toe sy dwelms begin misbruik het, was een van die pynlikste storielyne om te aanskou. Haar toksiese verhouding met Lloyd (Reuben Engel) het haar ’n gedaanteverwisseling laat ondergaan. Nie net het dit haar eie lewe ontspoor nie, maar haar verhouding met haar familie het ernstige skade opgedoen.

AB en Farah se poligamie-storielyn
AB (Cedwyn Joel) se verhouding met Farah (Lee-Ann van Rooi) was een van die mees omstrede en emosioneel gelaaide storielyne in Suidooster. Dit het nie net spanning binne die Samsodien-familie veroorsaak nie, maar ook groter vrae oor geloof, tradisie en lojaliteit na vore gebring.

Rhafiek en Carmen se verlies van hul baba
Die dood van Rhafiek en Carmen (Desiré Gardner) se baba, Mikhail, was een van die hartverskeurendste oomblikke in die sepie. Die trauma het hul huwelik uiteindelik vernietig en Carmen het Ruiterbosch verlaat omdat die herinneringe vir haar te pynlik geword het.

Kaashifa se borskankerstryd
Kaashifa (Jawaahier Petersen) se borskankerdiagnose, kort nadat sy aan Rhafiek verloof geraak het, het ’n vreugdevolle tyd in ’n emosionele en uitdagende periode verander. Ná ’n mastektomie en rekonstruksieoperasies het sy boonop haar reuk- en smaaksintuie verloor – ’n onverklaarbare newe-effek wat haar emosioneel verder ontwrig het.

AB se onwettige nieroorplanting en die gevolge
AB se gesondheidstryd het ’n donker wending geneem toe hy ’n nieroorplanting moes ondergaan – net om later te ontdek dat die orgaan op die swartmark verkry is. Die operasie, wat deur suster Esther Graaff (Marion Holm) in opdrag van Nazeem (Irvine van der Merwe) gereël is, het ’n web van verraad en misdaad ontbloot. AB het uiteindelik sy eie broer, sowel as suster Graaff, by die polisie aangegee. Dit het ’n kettingreaksie van gebeure ontketen – insluitend Dirk (Evan Hengst) se ontvoering van Bianca as deel van ’n wraakplan teen die Samsodiens.

Die skielike dood van AB
AB se dood het soos ’n tsoenami deur Ruiterbosch gespoel toe hy op Bianca en Dirk se troudag doodgeskiet is. As die familie se anker het sy afsterwe ’n enorme leemte gelaat, en elke familielid moes hul eie pad deur rou en onsekerheid vind.

Mymoena se dobbelverslawing
Mymoena se stryd met dobbelverslawing het haar byna alles gekos wat vir haar belangrik was. Haar geheime en toenemende desperaatheid het gelei tot finansiële en emosionele chaos, met haar kinders wat haar al hoe moeiliker kon vertrou.

Kaashifa se postpartum-psigose
Na die geboorte van Kaashifa en Rhafiek se eersteling, Abdulah, word sy met postpartum-psigose gekonfronteer – ’n intense en ontstellende geestesgesondheidstryd wat groot spanning in haar verhouding met die familie veroorsaak het. In ’n ontstellende kinkel het sy amper vir Abdulah leed aangedoen, en dit het tot die verbrokkeling van haar huwelik gelei. (Sy en Rhafiek het later herenig.) Die storielyn het ’n belangrike lig gewerp op ’n onderwerp waaroor baie vroue steeds in stilte ly, en het die realiteit van geestesgesondheid ná geboorte eerlik uitgebeeld.

Rhafiek se skok diagnose
Kykers moes die afgelope weke toekyk hoe Rhafiek ’n ernstige gehoorprobleem ontwikkel. Wat aanvanklik na ’n onverklaarbare toestand gelyk het, is later as nie-aansteeklike tuberkulose gediagnoseer – ’n skok wat hom en sy geliefdes stom gelaat het. Die siekte het nie net sy persoonlike lewe ontwrig nie, maar ook sy professionele toekoms onder druk geplaas. Dit het selfs spanning tussen die Samsodiens en die Jacobs-familie veroorsaak.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DSTv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DSTv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream.
Lees ook: Wanneer Ma wil skei en Ouma intrek: Skreeusnaakse chaos wag in Mevrou Fourie & Kie
