Saamgestel deur Elna Rossouw.
Breinlabirint deur François Bloemhof

François Bloemhof (Foto: Verskaf)
Aan die begin van BREINLABIRINT (LAPA, R200) gee FRANÇOIS BLOEMHOF ‘n paar reëls vir die lees van die boek: Wanneer jy by ‘n swart bladsy kom; stop!; probeer raai wat volgende gebeur; jy mag eers ‘n dag verder lees – net een episode op ‘n slag; jy moet sewe dae vat om klaar te maak … Dié verhaal draai om Louw Erasmus wat een oggend deurmekaar wakker word. Hoewel alles normaal lyk in hul huis in Bangmanskloof, voel hy dat iets verkeerd is. Daar is gapings in sy geheue, en sy lewe voel soos ’n vervolgverhaal met ontbrekende hoofstukke. Hy voel amper soos ’n gevangene in die huis, hy’t ’n merk om sy nek, en hoe hy dit gekry het, is net die eerste van vele skokke …
Ouderdom: 15+ jaar
Web van leuens deur Marion Erskine

Marion Erskine (Foto: Migal van As)
MARION ERSKINE se WEB VAN LEUENS (Human & Rousseau, R255) speel af in Goudfontein, ‘n klein myndorpie. Almal weet iets van mekaar … maar niemand ken die volle waarheid nie. Wanneer drie matrikulante – die ambisieuse hoofmeisie Lerato, die skool se rugbykaptein Marno, en die loskop rebel Clayton – gelyktydig anonieme dreigboodskappe ontvang, begin ʼn gevaarlike speletjie van manipulasie en leuens. Maar hulle is nie die enigstes met iets om weg te steek nie. Lohann, die dorp se goue seun, het ʼn houvas op almal. Hy ken hulle donkerste geheime. Maar hoe het hy uitgevind? En wie is so desperaat om hul geheim te beskerm dat moord die enigste opsie word?
Ouderdom: 14+ jaar
Sny hulle in die sterre uit deur Fanie Viljoen

Fanie Viljoen (Foto: Anneska van der Spoel)
Dit is ‘n gewone skooldag. Ankia en Gustav is malverlief. Lebo moet ‘n toets skryf waarvoor hy nie gereed is nie …dan gaan daar ‘n rilling deur die aarde. In FANIE VILJOEN se SNY HULLE IN DIE STERRE UIT (Tafelberg, R240) skud´n aardbewing ´n Vrystaatse myndorp, die skoolgebou stort ineen, en leerders en onderwysers word onder die puin vasgekeer. Terwyl hulle suurstof en hulle hoop al minder word, beleef die leser die angswekkende situasie saam met hulle. Die vasgekeerdes ervaar engtevrees, angs vir die naderende dood, opflikkerings van verbete hoop en selfs humor, in die wag op ‘n reddingspan.
Ouderdom: 14+ jaar
Lees ook: 95-jarige word bekroon vir haar eerste hoofrol in Thelma




