Deur Zerelda Esterhuizen.
‘Ek sal nie sê ek het die wêreld se beste voorbeeld van liefde tussen ouers gehad nie; inteendeel, ek kan nie veel liefde tussen hulle onthou nie,” vertel Mariëtte (42).
“Ek weet net daar was altyd spanning en konflik, en dat dit vir my ’n groot verligting was toe hulle geskei is. Hul huwelik het beslis my eie beïnvloed, want ek verpes konflik en skram daarvan weg. Vroeër jare as ek en my man gestry het, het dit ook nie veel gevat vir my om te sê kom ons skei nie. Nou weet ek daar was nooit rede vir egskeiding nie, ek het net die maklikste uitweg sonder konflik gesoek.”
Of ons dit wil weet of nie, die huis waarin ons grootword, het ’n impak op ons. Ten goede of slegte. Ons vroegste lesse oor die liefde en verhoudings kom uit ons grootwordhuis en verskeie studies het al bevind dat die gehalte van ons ouers se verhoudings ’n diepgaande invloed kan hê op hoe ons as volwassenes liefde, intimiteit en huwelike benader.
Kliniese neurosielkundige dr Henk Swanepoel stem saam. “Ouers se verhouding het ’n betekenisvolle effek op hul kinders se verhoudings. Dit vorm persepsies van byvoorbeeld liefde, vertroue asook verwagtinge rakende kommunikasie en konflikhantering. Positiewe verhoudings lei tot selfvertroue, maar om blootgestel te word aan ouerlike konflik, skep onsekerheid. Die spesifieke impak word bepaal deur te kyk of die persoon positiewe gedrag kan modelleer, of word die negatiewe gedrag onbewustelik herhaal.”

Lucinda Valentine is die uitvoerende hoof en hoofterapeut by die The Tiny Room Counselling & Therapy en sy vertel dat ons ouers se benadering tot liefde en verhoudings ons eie “verhoudingsbloudruk” vorm.
“Ons neem van geboorte tot ongeveer sewe jaar feitlik als in oor hoe verhoudings werk: hoe konflik opgelos (of vermy) word, hoe toegeneentheid getoon word, hoe behoeftes gekommunikeer word, en hoe veiligheid gevestig word. Hierdie vroeë waarnemings word ons onbewuste bedryfstelsel vir die liefde. As jy gesien het hoe jou ma haar eie behoeftes moes onderdruk om die vrede te bewaar, kan jy dalk dieselfde in jou verhouding doen of jy kan daarteen rebelleer. As jou pa liefde gewys het deur te voorsien, maar selde fisieke toegeneentheid gewys het, kan jy dalk sukkel om emosionele intimiteit as ’n geldige vorm van sorg te herken.”
Lees die volledige artikel in ons Februarie-uitgawe. Dis nou op die rakke en propvol interessante inhoud!

Hier’s nog redes waarom jy ons jongste uitgawe in die hande moet kry.
Lees ook: Dokumentêre reeks: 13 goed wat jy dalk nie van Frank Opperman geweet het nie
