Die uitnodigings is uitgestuur, die blomme is bestel en julle besluit nog oor die seremoniemeester, maar het julle al oor jul finansies gesels? Deidré Valentine, ‘n finansiële beplanner by Woodland Wealth, sê deeglike voorbereiding en gesprekke oor geld is ‘n moet.

Sy noem die belangrikste vyf geldkwessies waaroor paartjies moet praat voor hulle die knoop deurhaak:
Begroting
Ons is geneig om hierdie aspek van finansiële beplanning af te skeep omdat ons voel dis nie so belangrik nie. Dit is belangrik om vooraf te weet wat jou maat se gewoontes ten opsigte van spaar en spandeer is. Dit is ook belangrik om te praat oor die verskille in inkomste en wat elkeen se bydraes tot die gesamentlike maandelikse begroting gaan wees.
Deursigtigheid en voorhuwelikse kontrakte
Dit is belangrik dat jy en jou maat vooraf eerlik is met mekaar oor jul finansiële situasies. Dit is dus belangrik om te weet of daar enige risiko’s vir jou gaan wees. Dis hoekom ‘n voorhuwelikse kontrak noodsaaklik is. Die huweliksregime van die kontrak gaan bepaal of jy beskerm gaan wees teen krediteure wat aan jou gade se deur vir uitstaande skuld kan klop. As jy buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling getroud is, sal jou gade alleenlik vir alle skuld wat hy gedurende en voor die huwelik aangegaan het verantwoordelik wees. As jy egter binne gemeenskap van goedere getroud is, vorm alle bates en laste (voor en tydens die huwelik) van jou en jou gade deel van die gesamentlike boedel.
Gesinsbeplanning en elkeen se rol
Gesinsbeplanning het noemenswaardige finansiële impakte. As julle besluit dat julle kinders wil hê en ook hoeveel, gaan julle bykomende uitgawes in jul begroting moet inreken hiervoor. Dit het ook meer langtermynimpakte. As julle voel dat jy as ma meer tyd aan die kinders moet bestee en minder tyd aan werk, sal julle in ag moet neem dat jou salaris dalk nie dieselfde gaan wees nie. Ons sien gereeld dat vroue bakhand moet staan wanneer die verhouding beëindig word omdat hulle nie genoeg bates oor die jare opgebou het nie. Dis hoekom die voorhuwelikse kontrak belangrik is – dis belangrik vir albei partye om te weet wat gaan gebeur sou julle skei. As jy byvoorbeeld buite gemeenskap van goedere sonder die aanwas getroud is, gaan die hof nie ‘n herverdeling van bates oorweeg nie, al het jy as ma op ander (nie-finansiële) maniere tot die huishouding bygedra.
Finansiële beplanning en doelwitte
Voordat julle saam huis opsit, is dit wys om die volgende vrae te bespreek:
- Wat is jul topprioriteite in die lewe?
- Wat is jul langtermyn-loopbaan- doelwitte en -vooruitsigte?
- Op watter ouderdom wil julle aftree en wat is jul idee van ‘n gemaklike aftrede?
- Hoe gaan julle jul aftree-inkomstes befonds? Deur genoegsame bates in albei entiteite se naam op te bou, kan dit belastingvoordelig wees om albei partye se belastingbasisse post-aftrede te gebruik, in plaas van net een entiteit.
- Watter groot uitgawes gaan julle oor die volgende paar jaar moet aangaan? Hierdie sluit die aankoop van eiendom, gereelde vakansies en vervanging van voertuie in.
Testamente
Jul testament is een van die belangrikste aspekte van jul boedelbeplanning. Die boedel hang van die duidelikheid, akkuraatheid en geldigheid van jou testament af. Ander komponente van jou boedel (soos trusts en bemakings) kan ongeldig verklaar word as jou testament nie reg opgestel is nie. ‘n Geldige testament sal bepaal hoe jou bates onder jou erfgename verdeel moet word. As jy nie ‘n testament in plek het nie, gaan jou bates volgens die Intestate Erfreg van 1987 verdeel word, wat moontlik kan lei tot ‘n verdeling wat nie volgens jou bedoeling was nie. Verder laat dit jou toe om ‘n betroubare eksekuteur aan te stel wat billike fooie vra en jou boedel op ‘n eerlike en doeltreffende manier afhandel.
