Vir die afgelope 12 weke was kykers vasgenael aan Vaal Riviera, Showmax se jongste realiteitsreeks wat vier gesinne van die Vaaldriehoek volg. Week na week het die Arangies, die Snymans, die Deysels en die Swarts vir drama, komedie en ware familie-oomblikke op die kassie gesorg.
Vaal Riviera is deur POP24 vervaardig, dieselfde span wat met The Mommy Club: Van Die Hoofstad ’n rekord opgestel het vir die Afrikaanse program met die meeste kykers op Showmax, en het ook vinnig ’n gunsteling op die stromingsdiens geword.

Nou keer die vier sterk, trotse Afrikaanse families terug om rekenskap van hul reis te gee, en aktrsie Cindy Swanepoel is die een wat die gesprek gaan lei. Sy is veral bekend vir haar rolle in Binnelanders en die Internasionale Emmy-genomineerde Koek, en vertel dat die reünie “vol verrassings, eerlike konfrontasies en onverwagte emosie” gaan wees.
Voor die Vaal Riviera-reünie Dinsdag, 11 November op Showmax te sien is, het sy meer vertel oor haar rol as aanbieder en wat kykers kan verwag wanneer die drama langs die Vaalrivier weer ontvlam.

Hoekom het jy ingestem om die reünie aan te bied?
Ek wou die reünie aanbied omdat ek regtig van realiteitsprogramme hou. Dis ook vir my ‘n nuwe uitdaging, en ek geniet dit altyd om iets anders te doen wat my uit my gemaksone druk. Ek het geëer gevoel toe ek gevra is om dit te doen.
Hoe het jy voorberei vir die reünie?
Sodra die geleentheid my kant toe gekom het, het ek al 12 episodes dadelik gekyk. Ek het notas gemaak oor dinge wat ek dink die algemene publiek ook sou wou weet. Jy moet objektief na alles kyk, sonder om opinies oor mense te vorm. Hulle is steeds regte mense wat hul lewens leef, so dit was vir my belangrik om nie kant te kies nie. Ek het op verskillende gesinsdinamika gefokus – die kinders, die mans, die vroue – en alles so regverdig as moontlik bekyk. Ek het ook ‘n vergadering met die regisseur en vervaardiger gehad om die program te bespreek en toe alles saamgevat in ‘n klein draaiboek om my op die dag te lei.
Wat is van die onderwerpe wat jy wou aanpak?
Sjoe, daar is soveel onderwerpe om aan te pak. Ons kyk na families, verskillende ouerskapstyle, en hoe vroue met mekaar omgaan, soms in konflik, soms ondersteunend. Dan is daar die mans, wat dikwels meer ontspanne is, maar hanteer hulle werklik die probleme, of vermy hul dit eerder? Daar is soveel dinamika tussen mans en vroue waarin ek graag wou delf.
Was daar enige gesprekke of situasies waaroor jy bekommerd was?
Ja, ek was beslis bekommerd oor sommige verhoudings en vriendskappe. Dinge het nie aan die einde goed gegaan nie, so ek was onseker oor hoe hulle dit sou hanteer. Sou hulle dit uitpraat of daaroor stry? Jy kon die spanning in die lug voel. Daar is ook onderwerpe oor die mans, een van hulle was byna nooit daar nie, en almal wil weet waar hy was en hoekom sy alles op haar eie moes doen. Dan is daar die vraag: wie is die ‘skurk’ in hierdie storie? Daar is ook elemente van ontrouheid en ek is gereed om dit alles aan te raak.
Voel jy dat die program weerspieël wat in Afrikaanse gemeenskappe gebeur?
Ja, die program weerspieël beslis wat in Afrikaanse gemeenskappe gebeur. Afrikaanse mense is nogal tradisioneel, en al doen ons almal dinge op verskillende maniere, identifiseer ons steeds sterk met mekaar.

Hoekom moet mense inskakel?
Mense moet die reünie kyk, want dit gaan baie vermaaklik wees. Elke vraag sal gevra en beantwoord word, en kykers gaan uiteindelik konteks kry vir alles wat gebeur het. Dis ‘n bevredigende en gepaste afsluiting vir ‘n wonderlike seisoen.
Lees ook: Room van Afrikaanse musiek by vanjaar se Aitsa-musiektoekennings vereer
