Episode agt van Op my eish! het gewys hoe vinnig dinge kan verander wanneer konneksies begin verdiep – en hoe moeilik dit raak wanneer iemand moet groet.
Die episode het afgeskop met ’n avontuurlustige 4×4-afspraak. Ruan het Bejanke, Minette en Saartjie genooi om saam met hom die pad aan te durf. Met Ruan agter die stuur het elke dame kans gekry vir individuele gesprekke.
Saartjie was eerste aan die beurt, en hul gesprek het vinnig persoonlik geraak toe Ruan meer oor sy familie gedeel het. Tot sy verrassing het Saartjie onthul dat sy ook een van ’n tweeling is. Ruan was duidelik opgewonde oor die ooreenkoms en het dit as iets besonders ervaar.
Minette was volgende, en Ruan het haar meer oor haar loopbaan uitgevra. Met Bejanke het die gesprek na hul kinders gedraai – en albei se oë het gestraal toe hulle oor hul spruite praat.
Later het die groep by ’n tafel onder ’n boom aangesluit vir middagete. Die dames het onder groot gelag op servette neergeskryf wat hulle rooi en groen vlae in ’n verhouding is. Ruan moes toe raai watter vlae by watter vrou pas. Die dames het ook hul menings gedeel oor wat hulle meen Ruan se groen en rooi vlae is. Dit was ’n lighartige maar eerlike en insiggewende speletjie.
Ná die ete het die romanse behoorlik vlam gevat.
Ruan het Minette vir ’n alleenafspraak gevra. Dit het soos ’n toneel uit ’n liefdesfliek gevoel, en die gesprek tussen hulle het bevestig dat daar iets besonders tussen hulle aan die ontwikkel is.
“Daar is definitief van my kant af ’n konneksie, en dis snaaks, want ons het nog baie min gepraat,” het Ruan vir haar gesê.
Later het die twee op ’n kombers gaan lê en saam na die maan gekyk – en daar het Minette haar eerste soen gekry. Ruan het daarna erken: “Ons het in die oomblik gelewe en vir een keer in my lewe dink ek, het ek gewens tyd staan stil.”
Die volgende oggend het JP by ontbyt probeer uitvis oor wat tussen Minette en Ruan gebeur het. Sy het min verklap, maar haar glimlag het baie gesê.
Intussen het Ruan vir Chantelle eenkant toe gevra vir ’n moeilike privaat gesprek voordat die volgende groepafspraak sou begin. Hy het vir haar gesê dat hy sterker konneksies met ander dames ervaar en dat hy haar helaas huis toe moet stuur.
Terwyl Charlene, Hermi, Cindy-Lee en Jenine op ’n stylvolle bootvaart saam met Ruan vertrek het – vol speletjies, musiek en dans – het Chantelle haar reis stil en met grasie afgesluit.

Sy beskryf haar tyd in Op my eish! as ’n ongelooflike ervaring: “Ek het baie van myself geleer en op soveel vlakke gegroei. Al het ek nie liefde gevind nie, het ek myself beter leer ken en op ’n manier kan mens sê ek het myself gevind.”
Dit was nie vir haar maklik om die eerste wild card van die reeks te wees nie: “Toe ek as ’n wild card instap, was dit natuurlik ’n bietjie ongemaklik aan die begin, maar die dames was baie vriendelik en het my welkom laat voel. Chemistry is ’n snaakse ding – jy kliek nie met almal nie,” het sy gesê.
Sy het vrede gemaak met Ruan se besluit: “Eerlik gesê, ek was oukei. Dit was duidelik dat daar sterker konneksies was, en ek respekteer dit. Daar is geen kwade gevoelens nie. Natuurlik hoop ’n mens altyd vir nog tyd, maar ek was nie gebreek daardeur nie. My hart was rustig.”

Op die bootvaart het die romanse weer opgevlam toe Ruan Hermi vir ’n alleenafspraak genooi het. Hul gesprek oor familie en die feit dat hulle beide deel van ’n tweeling is, het ’n natuurlike band geskep. Dinge het wel ’n bietjie gespanne geraak toe Hermi haar oë tydens ’n gesprek gerol het – iets wat Ruan onmiddellik aangespreek het.
“Ruan het my dadelik oor die vingers getik en vir my gesê hy hou nie daarvan as ek my oë rol en wegkyk en nie vir hom sê wat ek dink nie. Maar toe ek dit vir hom mooi verduidelik het, het hy verstaan waar ek vandaan kom,” het Hermi gesê.
Ná eerlike kommunikasie het die twee die misverstand uitsorteer – en die aand afgesluit met ’n soen. Dit was vir Hermi se eerste Op my eish!-soen.

Episode agt het dus vir twee romantiese mylpale gesorg, terwyl nog ’n deelnemer haar reis met waardigheid afgesluit het.
Op my eish! word elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: ‘Hou die TV aan’: Liam Bosman oor sy donker rol én ’n nuwe kusdrama




