Die gewilde kykNET-reeks In die sop kry ’n vars nuwe aanslag met Gastehuisrevolusie – en dié keer is dit nie restaurante wat gered moet word nie, maar wel sukkelende gastehuise regoor Suid-Afrika.
Van klein dorpies tot bekende bestemmings bring dié reeks hoop, inspirasie en praktiese raad aan eienaars wat werklik “in die sop” is.

Hier is vyf redes waarom dié seisoen kykers vasgenael voor die kassie gaan hou:
-
’n Nuwe fokus: Van restaurante na gastehuise
Waar vorige seisoene op restaurante gefokus het, skuif die kollig nou na gastehuise – en dit bring ’n hele nuwe stel uitdagings daarmee saam. Anders as restaurante bied gastehuise hul besoekers ’n volledige ervaring: van ontvangsareas tot slaapkamers waar die gaste moet ontspan. Hierdie kompleksiteit maak elke projek meer persoonlik en emosioneel, en dit vereis slim oplossings binne ’n beperkte tyd met ewe beperkte begrotings.
-
’n Ervare span met flair
Aan die stuur van die reeks is Janie du Plessis, ’n geliefde TV-persoonlikheid wat terugkeer na die skerm. Sy word bygestaan deur ’n sterk span ontwerpkenners, insluitend Misi Overturf – ’n bekende gunsteling uit In die sop: Restaurantrevolusie– wat weer haar kreatiewe stempel afdruk. Saam met Misi bring Griki Lubbe en Willus Bosch hul unieke styl en praktiese benadering na elke projek, terwyl ander spesialiste saam inspring met besigheids- en bemarkingsadvies.

-
Regte stories, regte uitdagings
Die reeks neem kykers na plekke soos Melkbosstrand, Worcester, Bethulie, Bloemfontein, Piketberg en Saldanha – waar elke gastehuis sy eie unieke storie en struikelblokke het – van finansiële druk en lae besettingsyfers tot persoonlike tragedies en beperkte hulpbronne. Hierdie eienaars veg nie net vir hul besighede nie, maar ook vir hul toekoms.
-
Meer as net ’n “makeover”
Hoewel die visuele transformasies van elk van hierdie gastehuise indrukwekkend is, gaan dit oor veel meer as net nuwe dekor. Die span fokus ook op bemarking, kliënte-ervaring en strategiese posisionering. Baie eienaars het min ervaring met digitale platforms of effektiewe bemarking, en dit is juis hier waar die grootste verskil gemaak word – om hulle toe te rus met vaardighede wat lank ná die kameras weg is, steeds waarde tot hul besigheid voeg.
-
Hoop en menslikheid staan sentraal
Wat hierdie reeks werklik onderskei, is die emosionele impak daarvan. Binne net ’n paar dae sien kykers hoe mense se lewens verander, nie net hul besighede nie. Die proses bring nuwe energie, hoop en selfvertroue terug na eienaars wat moed verloor het. Dit is ’n herinnering dat, met die regte ondersteuning en leiding, selfs die moeilikste situasies na iets positief omgedraai kan word.
In die sop: Gastehuisrevolusie begin op 23 April om 20:00 op kykNET en beloof om nie net inspirerend te wees nie, maar ook ’n viering van deursettingsvermoë, kreatiwiteit en die krag van gemeenskap.

