rooi rose is trots om ’n ware kosliefhebber en kreatiewe ghoeroe by ons span te verwelkom. Marlo Kitshoff-Carstens is ons nuwe kosredakteur. Met dekades se ervaring en ’n hand vol topverkoper-resepteboeke agter haar naam, is sy gereed om jou weer opgewonde oor die vraag “wat eet ons vanaand?” te maak.
Marlo was Vrouekeur se kosredakteur sedert die tydskrif se heel eerste uitgawe in 1999. “Ek was nog bloedjonk en eintlik baie onervare,” vertel sy. “Maar met tyd leer jy mos baie dinge.”
Dit het die grondslag gegee vir wat later ’n indrukwekkende loopbaan sou word. “Ek het daar maandeliks tussen 27 en 34 resepte ontwikkel – en baie ondervinding van resepontwikkeling tot kosstilering opgedoen. Ná my tyd daar het ek ook as vryskut vir LAPA Uitgewers gewerk en elke jaar aan Clover se kookboek gewerk.”
Maar dis die band met haar lesers wat haar die meeste bybly: “Dit was baie lekker om met die lesers te kommunikeer. Jy stap ’n pad saam met hulle. Dit was altyd spesiaal as hulle my bel en resepte uitdeel.”

As ma van drie verstaan Marlo die uitdagings van ’n besige huishouding – en haar resepte weerspieël dit. “Ek wil hê selfs vroue wat sku is vir kosmaak, moet lus kry om iets aan te pak. Dis vir my belangrik dat my resepte inspireer, maar nie intimideer nie.” Haar styl is prakties én speels – en dit kom nie net in haar kos voor nie. “Ek is mal oor pienk. Mal oor partytjies, partytjiekoeke vir kinders en troukoeke,” sê sy.
Haar kreatiwiteit strek egter ver buite die kombuis.
“Ek is altyd besig met iets,” sê sy. “Van prentjies verf tot mure verf. Ek en my man, FC doen graag huisrenovasieprojekte saam met die kinders – van badkamerteëls oordoen, tot verf en skuur. Houtwerk en DIY saam met die seuns, en meisiegoed saam met Marlonè.
“Ek is mal oor koek en tee by ’n teetuin van tyd tot tyd, en bitter lief vir die see en familietye daar.” En natuurlik, diere: “Diere is my alles – dis hoekom ek so mal is daaroor om van die huis af te werk. Die honde en katte is altyd by my.”
Karlien Meiring het meer by Marlo uitgevind oor wat sy vir rooi rose se lesers gaan opdis.
Wat kan rooi rose se lesers van jou as nuwe kosredakteur verwag?
Maklike, heerlike en bekostigbare resepte.
Jy is self ’n ma van drie – watter raad het jy vir ma’s wat voedsame kos op die tafel wil sit, selfs op die besigste dae?
Kook meer op die dae wat jy nie te besig is nie, en hou dit in die vrieskas vir die dae wat alles skeefloop.
Probeer groente op enige manier in veral maalvleis inwerk sodat jou kinders dit nie sien nie. Kap dit waarvan hulle nie hou nie, soos seldery, wortels en sampioene, so fyn as moontlik en gooi dit in die kos om dit te versteek.
Hoe wil jy hê moet lesers voel wanneer hulle een van jou resepte maak?
Tevrede en trots! My resepte gebruik gewone bestanddele en ek hou instruksies so maklik as moontlik. Ek wil nie hê kosmaak moet soos net nog ’n werk voel nie.
Daar is niks lekkerder as ek sien mense eet en geniet die kos nie. Dit maak my vreeslik gelukkig.
As jy net een gereg vir die res van jou lewe moes eet wat sal dit wees?
Daar is te veel! Ek kan nie net een ding kies nie. My gunstelinge is pasta, bredies, boerekos, pizza en biltongsop of quiche.
Wie of wat inspireer jou in die kombuis?
Jamie Oliver, Siba Mtongana, Reuben Riffel en Bertus Basson.
In Augustus se rooi rose, met die vrolike en veelsydige Reandi Grey op die voorblad, kan jy Marlo se resepte met avo kry en sien watter soetgoed sy met neute optower.

Lees ook: Lelani van Die brug: “Ek het gegee, geglo, gebou – toe vat ek wat ek werd is.”
