Die voormalige Protea-netbalspeler en deesdae TV-aanbieder, Vanes-Mari du Toit, was gisteraand Lee-Ann van Rooi se gas op Waar daar ’n wil is, en sy het opnuut gewys waarom sy so gewild as sportvrou én glanspersoonlikheid is.
Die gesprek het begin by Vanes-Mari se lengte – sy staan 1,82 meter in haar sokkies – en hoe haar sporttalent haar laat besef het dit is tot haar voordeel. Wanneer dit by klere kom, het sy gesê, is dit egter nie altyd maklik nie. Dit is veral skoene wat ’n uitdaging is, aangesien sy ’n nommer 9 of 10 dra.
Die 36-jarige Vanes-Mari het met ’n vonkel in haar oog vertel van die nuwe liefde in haar lewe. Sy het ná haar egskeiding – sy was met die rugbyafrigter Matt Proudfoot getroud – gedink liefde is haar nie beskore nie en het selfs die nodige stappe begin neem om ’n enkelma te word. “Jammer vir almal vir wie ek gesê het love at first sight bestaan nie, want dit doen,” het sy gelag toe sy vir Lee-Ann oor haar en haar kêrel se ontmoeting vertel het.

Vanes-Mari se sporttalent is vroeg reeds raakgesien, en sy is al as graad 8-leerling in Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria gevra om vir die eerste netbalspan te speel. Vanes-Mari het as 20-jarige haar nasionale kleure in netbal gekry en het agt jaar vir die Proteas gespeel.
Dit was toe sy in 2018 aan die realiteitsreeks Dancing with the Stars deelgeneem het dat sy deur Karen Meiring, destyds kanaalhoof van kykNET, gevra is om ’n oudisie vir Kwêla te doen. Sedertdien is sy ’n bekende gesig op TV met verskeie programme op haar kerfstok.
Lee-Ann het haar uitgevra oor haar pad met depressie, en ook daaroor was Vanes-Mari openhartig. “Depressie was nog altyd ’n lewendige ding vir my, maar ek het geleer hoe om dit weg te steek – die maskers wat ons opsit,” het sy gesê.
Haar geloof het haar keer op keer gehelp om weer op te staan en die lewe in die oë te kyk. Sy het ook besef om te struikel is deel van die lewe. “Ek raak opgewonde oor die lesse wat ek gaan leer. Dis ’n terrible tyd, en ek voel nie great nie, maar hoe gaan ek hier uitkom?”
Die gaste op die program was Elize Kotze, Vanes-Mari se afrigter by die Proteas, asook haar pa, Frahnshua, en drie broers, Francois (bekend as FC), Jochanan (bekend as Joggie) en Shmu-El (bekend as SE). Hulle het almal net lof vir Vanes-Mari, en dit is SE wat dalk haar lewensuitkyk die beste beskryf: Sy meet mense aan hoe hulle kelners en petroljoggies behandel, want sy behandel graag almal as haar gelyke.

Lee-Ann se volgende gas is die ekonoom Dawie Roodt, wat bekend is vir sy direktheid en sy skerp sin vir humor.
Waar daar ’n wil is word Dinsdae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
