kategorieë: Gesondheid

Wanneer is nog een glasie wyn te veel?

Ek het nog altyd baie gedrink

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Ek drink al baie van my studentedae af,” vertel Madelein*, nou 58. Ek en my kamermaat het selfs een keer my dikwielfiets verkoop om geld vir bier te kry! Ek is op 17 uit die huis om te gaan swot en was nie aan die matelose vryheid gewoond nie. My pa het ’n drankprobleem gehad en die familiegeskiedenis was daar.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Ek het nooit in die week gedrink nie. Net naweke. Maar dan het ek goed ingehaal. Ek onthou hoe ons Saterdagoggende voor die Devonshire-hotel in Braamfontein sit en wag het vir die deure om elfuur oop te maak. En wanneer ek gedrink het, het ek ook gerook. Die een het die ander gesneller. Dus het ek net naweke gerook, maar dan het ek daardie Camels krom gesuig. Hoe meer ek gerook het, hoe meer het ek gedrink.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“In my twintigerjare het ek bier gedrink, in my dertigs brandewyn en Coke en later whisky en soda. Ek het baie emosionele en geestelike probleme gehad; dinge waarmee ek maar nie vrede kon maak nie. Drank was my ontvlugting.

“Ek was ook mal oor die opwinding wat drank my gebied het. Ek was die grapjas en het almal vermaak met my spitsvondigheid, gedans en gesing. Ek het van die aandag gehou en nie beheer verloor sodat ek ’n verleentheid was nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“En ek kon baie drink. Ek kon enige man onder die tafel in drink sonder dat ek slinger, my tong sleep of ek naar word. Die volgende dag het ek natuurlik vir my oordaad betaal.

“In my veertigerjare het ek in die week begin drink, maar net saans. Nooit by die werk nie. Ek het in die mediabedryf gewerk en my skofwerkery het dit makliker gemaak om die babelas weg te steek, want ek het tot laataand gewerk en dan weer ’n dag af gehad waarin ek kon herstel.

“Ek het ná werk omtrent huis toe gejaag om te drink. Drank word jou beste pel. Jy het niemand anders nodig nie. In die somer het ek op my stoep gesit, jazz of swaar klassieke musiek geluister en gerook en gedrink. Die drank het my baie emosioneel gemaak en ek het soms die hele aand omgehuil.

“Ek het twee tot drie bottels whisky per week uitgedrink en stapels sigarette gerook. ’n Groot deel van my salaris het hierin verdwyn. Dit het my ook oordadig laat eet en ’n ander weelde was die pak kolwyntjies wat ek daagliks gekoop het.

“So twee jaar gelede het die keerpunt gekom. My gestel was gedurig af en ek het chroniese brongitis van die rook gehad en met skeelhoofpyne gesukkel. My ma het baie siek geword en ek was in ’n verhouding wat skeefgeloop het. By die werk was ek baie vergeetagtig. Ek het besef ek kan nie langer in ontkenning leef nie.

“Ek was te skaam om rehabilitasie te oorweeg en het eerder my huisdogter gaan spreek. Ná x-strale van my borskas het sy baie mooi met my gepraat en my gewys wat die rook en drank aan my lewer en longe gedoen het.

“Ek het myself gehaat vir wat ek geword het en het besluit om geloof my anker te maak. In my geval is dit gebed wat my gered het. Dit was ’n wilsbesluit om op te hou rook en drink en ek moet gedurig daarteen baklei. Tog voel ek nie meer dat ek drank nodig het nie.

“Ek voel nou lig en helder en ’n ander mens. Ek voel emosie, maar nie onnodige emosie nie. Voorheen was die kombinasie van antidepressante en drank fataal en het dit my in ’n afwaartse spiraal getrek. Ek het gedrink om die leegheid in my lewe te oorkom, maar drank het dit leër gemaak en my van my vriende en familie vervreem.

Ná jare is dit vir my weer lekker by die werk en ek voel in beheer. Tog moet ek gedurig bedag daarop wees. Jare se gewoontes trap diep spore … ”

My man kan nie op-hou as hy begin nie

“As jy twintig is en dronk word op partytjies is dit dalk snaaks. In jou vyftigerjare is dit bloot pateties.”

So gesels Lizanne* (52) oor haar man, Dewald*. Hy is ’n susksesvolle sakeman in ’n baie mededingende beroep. Hulle drink dikwels drankies ná werk en soveel keer het dinge al handuit geruk.

“Ek kan jou nie sê hoeveel keer ek tot laatnag gesit en naels kou het en wag dat hy huis toe kom nie. Dit was voor die dae van selfone en ek het nooit geweet of hy in ’n ongeluk was, of saam met sy drinkebroers sit en fuif nie.

“Sy gedrink het deur die jare vir soveel onmin in ons huwelik gesorg. Hy voel sy probleem is nie groot genoeg dat hy hulp nodig het nie, en dat rehabilitasie hom as ’n alkoholis sal uitsonder.

“Dis nie dat hy ’n alkoholis is wat enige tyd van die dag móét drink, of by elke geleentheid alkohol moet gebruik nie. Tog het hy ’n ongesonde verhouding met drank en weet nie wanneer om op te hou nie.

“Ongelukkig kan hy ook nie sy drank hanteer nie. Vriende maak grappe omdat hy sleeptong praat en dit het al by werksgesellighede gebeur dat van sy kollegas, wat ek beswaarlik ken, vir my kom sê hulle is so jammer oor my man se gedrag. Ek kon sterf van verleentheid. Van ons vriende kan net soveel drink, maar lyk nie dronk nie.

“Hoe later, hoe kwater. Wat my veral ontstel, is dat hy later baie beledigend word, my uitsonder en my die vreeslikste goed toesnou. Agterna kan hy niks onthou nie, en besef nie hoe seergemaak ek voel nie. Hy het al soveel spesiale geleenthede vir my bederf.

“Ek het dit altyd vir die kinders probeer wegsteek, maar noudat hulle volwasse is, verstaan hulle vir die eerste keer hoe ek voel. Hy het met sy drinkery ook al spesiale aande vir hulle bederf, of afsprake nie nagekom nie.

“Ek skram nou weg van alle sosiale geleenthede, want die blote gedagte daaraan maak my angstig. As ons iewers heen gaan, of selfs mense oornooi, is ek heelaand so gespan-ne dat ek nie goeie geselskap is nie, en almal dink ek oorreageer as ek sê hy moet stadig. Hy kan nie stadig drink nie. Hy sluk ’n glas wyn in ’n paar groot teue weg. Soos koeldrank.

“Boonop het ons vriende wat ’n drinkery aanmoedig. Sy glas is nog half, dan sal die vriend sê: ‘Toe jong, drink klaar dat ek kan vol maak.’ Ek dink nou al vooraf verskonings uit as ek vermoed hulle gaan ons nooi.

“Dit bring mee dat ek nooit iets drink nie, want ek weet ek is elke keer die een wat huis toe moet bestuur.

“Maar wat my veral bekommer van sy drinkery ná werk, is dat hy onder die invloed huis toe bestuur. Hy het ’n jaar gelede ’n ander voertuig gestamp toe hy nie betyds by ’n verkeerslig stilgehou het nie, en die ongeluk het ons meer as R100 000 gekos. Ons kon nie van die versekering eis vir die herstel van die motors nie, want omstanders het gesê hulle kon sien hy is nie nugter nie.

“Ek het hom nou oorreed om lid te word van ’n ‘terugry-skema’ waar iemand jou ná ’n partytjie in jou eie voertuig huis toe neem.

“Ongelukkig is daar ’n sterk familiegeskiedenis van drankverslawing. Twee van sy sibbe het dieselfde probleem en ek het nou breekpunt bereik. Sonder die drankprobleem is hy ’n wonderlike metgesel en het ons baie pret saam, maar dit het nou ’n punt bereik waar ek weet as hy nie instem om heeltemal op te hou drink nie, ons huwelik verby is.”

My bejaarde ouers drink te veel

“Ek voel skaam om dit te sê, maar sedert my ouers afgetree het, drink hulle te veel,” vertel Karien (47). “So lank as wat ek kan onthou, het my ouers ’n kroeg in die huis gehad en saans drankies gedrink. Dit was alles gesofistikeerd en hulle sou nooit meer as twee drankies drink nie. Naweke het hulle oor middagete ook iets gedrink, maar dit was nooit oordadig nie. Hulle het altyd een stel drinkreëls vir die week en een vir die naweek gehad.

“Noudat albei afgetree het – hulle is in hul vroeë sewentigerjare – is dit asof hulle permanent op vakansie is. Nou drink hulle ook saam met middagete en oor naweke rek die middagdrankies aand toe. Die probleem is dat hulle minder aktief is en ook minder eet. Dus voel dit vir my of die alkohol ’n groter uitwerking het.

“Ek kry die indruk dat Sondag die ‘drinkdag’ is en dat daar dan geen reëls geld nie. Ons het ’n reëling dat ek Sondagmiddag so vyfuur bel, maar ek ys nou al vir die oproepe, want ná heeldag se drankies praat my ma sleeptong en kan die volgende dag nie onthou waaroor ons gepraat het nie. Alkohol maak hulle ook baie liggeraak en bewaar jou siel as jy in ’n argument betrokke raak. Ek kan niks bevraagteken nie, of ek is in die moeilikheid.

“Hulle is gelukkig baie verantwoordelik en bly Sondae by die huis as hulle gedrink het. Die probleem is as hulle nie by die huis is nie en dieselfde drinkgewoontes volg.

“Hulle het oor Kersfees by my broer en sy gesin met twee jong kinders gekuier en dit was vir my broer ’n verleentheid toe my pa slinger, ’n stoel omstamp en op die vloer val. Die twee kinders het gekraai van die lag en my broer was verleë voor sy vriende.

“As hulle by ons kuier, veral vakansietye, is ek en my man bedag op die drinkery. Ons maak net een bottel wyn oop vir ons vier oor middagete sodat ons laatmiddag steeds drankies kan drink en weer met ete ’n glas wyn. Anders ruk dit handuit omdat dit elke dag se ding is.

“Ek lees dikwels dat alkohol die sneller vir verskeie kankers is en dit pla my baie. My ouers is op heelwat chroniese medikasie en ek is nie altyd so seker hoe versoenbaar die twee is nie. Aan die een kant voel ek soos ’n preutse pretbederwer om gedurig daarop te hamer, maar ek is bekommerd oor hul gesondheid en dis ook ’n verleentheid.”

Lees ook: Net een glasie wyn per aand? Dit kan slegter vir jou wees as wat jy dink …

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

16 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 weeks Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.