kategorieë: Leef gesondGesondheid

Wat jy moet weet oor vaksines wanneer jy swanger is

Wat jy moet weet oor vaksines wanneer jy swanger is deur Salomé Delport

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Swanger? Durf jy vaksineer?

Wanneer jy swanger is, loop jy jou kort-kort teen vreespraatjies vas. (“Wat! Eet jy feta? Weet jy dan nie … ”)

Naderhand weet jy nie wat verdien jou aandag en wat is sommer opjaagstories wat mense agter elke Google-bos uitskop nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Tog sê ginekoloog Elrike van der Merwe sy wens elke swanger ma weet van die volgende risiko’s.

“Ons droom almal – ek net soveel soos my pasiënte – van ’n perfekte swangerskap wat uitloop op ’n dierbare bondeltjie met al tien toontjies en wat dadelik salig in sy diepvervulde mamma se arms wegsnoes.

“Maar die werklikheid is dat virusinfeksies heeltemal te dikwels ’n stok in die wiel kom steek. Dit maak my hartseer, want met net ’n paar veiligheidsmaatreëls kon ons die skade wat siektes soos rubella aanrig meestal vermy het.”

Hier is die siektes wat sy wil hê jy moet vermy.

Lees ook: 4 goeie redes hoekom jy jou kind teen masels moet vaksineer

1. Influensa

Vir wie is dit gevaarlik?

Vir jou en jou baba. Julle kan altwee sterf.

In elke griepepidemie tot nou toe is 5-6% van die mense wat sterf swanger vroue, terwyl net 1% vroue op enige oomblik swanger is.

Dit is niks in vergelyking met jou baba se risiko nie: tot een uit elke twee sterf.

Een uit elke twee van die babas van vroue wat nou longontsteking ontwikkel sterf. Selfs al kom jy relatief maklik deur jou griep verloor een uit elke vier swanger vroue haar baba.

Die risiko vir jou baba duur tot met sy geboorte – lank ná jou griep.

’n Britse opname wys dat daar vyf keer meer sterftes onder babas kort voor en ná geboorte is as onder ma’s wat nie griep gehad het nie – 39 per 1 000 babas, teenoor 7 per 1 000 babas van ma’s wat nie griep gehad het nie.

Wat is jou kanse?

As jy swanger is, is jy vatbaarder vir griep as ander mense. Dit sal ook afhang van hoeveel jy met die publiek werk en/of hoeveel naby kontak jy met mense met griep het.

Wat kan jy doen?

Kry jou griepinspuiting. Jip, terwyl jy swanger is. Al voel dit heeltemal verkeerd.

Volgens die Vaccine Adverse Event Reporting System is dit beter vir jou en jou baba as om die kans op sterfte te waag.

Alle komplikasies ná vaksinering moet by hierdie internasionale waghond aangemeld word, juis sodat ons kan seker maak dat vaksiene veilig is.

Hul verslae van 1990 tot 2009, waartydens 11 miljoen vroue gevaksineer is, wys dat vaksinering nie uitloop op meer komplikasies vir swanger vroue of hul babas nie.

Lees ook: Die 5 vaksines wat jy as volwassene moet kry

Wat jy moet weet oor vaksines wanneer jy swanger is

2. Rubella (Duitse masels)

Vir wie is dit gevaarlik?

Vir jou baba. Vir jou is dit ’n ligte siekte met ’n bietjie koors en ’n ligte uitslag, maar nie vir jou ongebore baba nie. Die virus beskadig sy brein.

Moeder Natuur gryp dikwels in en sorg vir ’n spontane miskraam. Maar nie altyd nie. In ons land word elke jaar 600-700 babas met kongenitale rubellasindroom gebore.

Van hulle is 90% doof en/of blind en/of het breinskade en/of hartskade. Hulle sal dus hulle hele lewe lank versorg moet word.

Wanneer is dit die ergste?

In die eerste tien weke – voor jy weet jy is swanger. Byna elke baba (9 uit 10) sal rubellaskade hê.

Hoe later in jou swangerskap, hoe kleiner is jou baba se kans op skade.

Net een uit elke drie ma’s wat rubella tussen 10 en 18 weke opdoen, het ’n baba met rubellaskade.

As jy rubella ná 18 weke kry, sal jou baba waarskynlik normaal by geboorte wees maar dit lyk asof hierdie babas agterstande het wat eers later na vore kom, soos ligte breinskade wat jy eers op skool opmerk. Kinderdiabetes is twee keer meer algemeen onder hulle as ander kinders.

Wat kan jy doen?

  • As jy Duitse masels as ’n kind gehad het, is jy en jou baba veilig.
  • En sê nou jy weet nie? Gelukkig kan jy voorsorg tref vóór jy met ’n gesin begin. As jy weer vir jou jaarlikse ondersoek gaan, vra jou ginekoloog om te toets of jy immuun is teen rubella. As jy nie is nie, kry die vaksien.
  • Onthou jy kan nie die rubellavaksien kry as jy reeds swanger is nie.

Wat is die kans?

Jou kanse is klein om rubella op te doen … maar ’n bietjie groter as jy bevoorreg grootgeword het.

Die rede? Sedert die jare negentig is dit die in-ding om nie jou kinders te laat vaksineer nie, nadat die navorser Andrew Wakefield beweer het hy het bewys dat die rubellavaksien outisme veroorsaak.

Die meer welgestelde en beter ingeligte ouers het toe nie hul kinders laat vaksineer nie, terwyl die res van die bevolking op staatsklinieke aangewese is en dus gevaksineer is. Wakefield het sy bedrog erken, maar nou is oud-‘anti-vaccers’ se swanger dogters blootgestel.

Maar jy kan ook andersom na die syfers kyk: 90-95% van ons is bestand; net sowat duisend swanger vroue onder dié wat nie bestand is nie, sal rubella aansteek; Máár as jy een van hulle is, is jou baba se kanse op skade ’n ysingwekkende 30-90%.

Wat jy moet weet oor vaksines wanneer jy swanger is

3. Masels

Vir wie is dit gevaarlik?

Vir jóú. Een uit elke agt swanger vroue wat masels opdoen, sterf. Jy kan ook breinskade oorhou, al is jy ’n volwasse vrou.

Gelukkig is jou ongebore baba veilig. Hy kan weens jou masels ’n bietjie minder by geboorte weeg en/of vroeër gebore word.

Wat is jou kanse?

Groter as wat jy sou dink.

Die Zika-virus, wat nie ’n kat se kans het om in Suid-Afrika toe te slaan nie, steel al die hoofopskrifte, terwyl ons nie ’n oog knip as ons lees dat 18 000 Suid-Afrikaners in 2010 masels opgedoen het nie.

Al is daar tans min maselgevalle (net 63 in 2014 en 49 in 2015, volgens ons Nasionale Instituut vir Aansteeklike Siektes) wys dit jou daar is ’n aktiewe poel van die virus in ons land, en ’n wye epidemie kan dus weer uitbreek.

Wat kan jy doen?

Dit is nooit te laat om jou te laat inent nie. Soos met rubella, moet jy net nie wag tot jy swanger is nie.

Lees ook: Heroorweeg jy steeds die vaksien teen masels?

4. Waterpokkies

Vir wie is dit gevaarlik?
Jy kan sterf. Jou baba het ’n klein kans op gestremdheid.

Jou kans op ernstige longontsteking as komplikasie is baie groot. Tot 43 uit 100 swanger vroue met waterpokkies sterf aan longontsteking.

Die risiko’s vir jou ongebore baba is kleiner. Vier tot twintig uit elke duisend van die babas van siek, swanger vroue het breinskade en abnormaliteite van die arms en bene.

Wat is jou kanse?

’n Baie ou ondersoek (1985) het gewys  dat 85% van SA se jongmense tussen  20 en 29 as kinders waterpokkies gehad het. Oor die algemeen is die meeste van ons veilig.

Wat kan jy doen?

As jy weet jy het nooit as kind waterpokkies gehad nie en jy werk met kinders of bejaardes, kry die vaksien. En kry dit lank voor jy jou gesin beplan, want nes met die vaksiene teen masels en Duitse masels kan jy nie wag tot jy swanger is nie.

Lees ook: Wat jy moet weet oor waterpokkies en gordelroos

Wat jy moet weet oor vaksines wanneer jy swanger is

CMV, die onbekende risiko

Wat is dit?

Dit verwys na die sitomegalovirus. Tot die helfte van mense in veral die ontwikkelde lande dra hierdie minder bekende, glo onskadelike virus. Tensy jy swanger is.

Wat ons weet

Dit is die algemeenste virusinfeksie onder babas met geboorteafwykings.

  • Tien uit elke honderd babas met CMV het probleme soos doofheid. Vyf uit elke tien ontwikkel aanvanklik normaal maar gaan as kleuters verstandelik agteruit.
  • Vroue wat met kleintjies werk en veral doeke omruil, het meer dikwels CMV-babas as ander vroue.

Wat kan jy doen?

Byna niks. Daar is geen vaksien of medikasie daarteen nie.

Al opsies is:

  • Moenie mense soen nie, want die virus floreer veral in die speekselkliere.
  • Wees uiters higiënies as jy met kinders werk: was jou hande elke keer ná jy ’n doek geruil het, ’n kind se neus afgevee het, of aan hul bottels, fopspene of speelgoed geraak het.
  • As jy ’n koors kry en jou kliere is geswel, laat toets vir CMV.

Lees ook: Alles wat jy van die gordelroos-vaksien moet weet

Wat jy moet weet oor vaksines wanneer jy swanger is

Hoekom die ‘anti-vaccers’ jou nie moet ontstel nie

1 Kyk waar die grootste risiko lê

Al is daar ’n baie klein risiko aan vaksiene, is die risiko op skade as jy nie gevaksineer is nie baie, baie groter, soos die syfers in die artikel wys.

2 Wat is die ergste scenario?

Ons het al vergeet watter prys kinders voor vaksiene betaal het, soos verlamming weens polio en erge breinskade, doofheid en hartskade weens masels en rubella. Vra jou af of dit so wonderlik is om jou kind aan hierdie wrede, vernietigende risiko’s bloot te stel.

3 Die gevolge van die jare negentig

Ons begin nou eers die skade sien van die kinders wat in die jare negentig nie gevaksineer is nie omdat hul ouers anti-vaccers was. So het 125 kinders in 2015 masels opgedoen ná hulle by Disney World in Kalifornië was. Net een van hulle was volledig gevaksineer. En dink hieroor: die ongevaksineerdes van die neentigs is dié wat nou met gesinne begin

4 Vaksinering wis siektes uit

Waar gestremdheid weens rubella tevore algemeen was, is dit nou skaars.

Ná nog ’n geslag of twee van vaksinering kan ons hierdie siekte uitwis.

5 Ons reis almal graag

Dit beteken ons is almal aan elke epidemie op aarde blootgestel. Al is masels skaars in jóú gemeenskap kan jou kinders vorentoe in ’n wêrelddeel beland waar dit nié skaars is nie.

Lees ook: Wat jy moet weet oor MPV en die HPV-vaksien

Wat jy moet weet oor vaksines wanneer jy swanger is

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.