kategorieë: Gesondheid

Wenke vir partytjietyd

Ek wens my maag is plat en nie so seer en opgeblaas nie

Jou goeie fee antwoord … Die winter gooi ’n mens se eetpatroon maklik (en héérlik!) omver: jy drink warmsjokolade, Milo, Horlicks; jy gryp in die verbygaan broodrolletjies en koekies pleks van laevet-proteïene en groente; en saans smul jy voort. Vanselfsprekend gaan jou maag kla.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Jou wens sal waar word as … jy die dag begin met ’n groot glas vars water en ’n lae GI-ontbyt sodat jy lank versadig bly. Gesonde kitsopsies is ’n semelryke pap soos All-Bran met piesang en laevet-jogurt en ’n paar amandels; of ’n sny rogbrood met tamatie en maaskaas of eier; of ekstragrowwe beskuit met ’n “slaai” van kaas, ’n paar amandels en ’n appel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

As jy weens hardlywigheid teer is, kry vir jou probiotiese jogurts soos WellB en Howaru wat jou dermflora herstel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Vermy so ver jy kan die volgende:

• wit stysel wat vloeistof soos ’n spons opsuig en die suiker, olie en gis daarin langer kans gee om gas in die dunderm te vorm
• sout en soutsnoepgoed soos skyfies wat olierig is en ’n teer maag meer irriteer
• gaskoeldrank, wyn en bier met sulfiet as preserveermiddel. Drink liewer tot tien glase doodgewone water
• die ertjiespruite en rou uie in slaai; ook broccoli, kool en koolslaai en grondbone

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ek wens ek lyk vanaand asof ek elke dag ’n halfuur draf

Jou goeie fee antwoord … jy kan in 24 uur op 48 sessies inhaal, maar dan gaan jy vir seker dood neerslaan en nooit by die partytjie uitkom nie!

Jou wens sal waar word as … jy tog ’n halfuur lank gaan draf. Daar is niks wat gouer ’n mooier blos op jou wange sit as ’n bietjie oefening wat jou asem laat jaag nie.

Die ander goeie fee-kunsie is die Alexander-postuurtegniek. Dit laat jou langer – en dus skraler – lyk. Verbeel jou daar loop ’n loodlyn van jou kop deur jou stuitjie tot by die bal van jou voete. Trek jou maag in en rek jou rug lank uit. Jou skouers sal vanself sak, wat jou nek slanker en langer sal laat lyk.

Ek wens ek kan die nag deur dans sonder dat my voete blase kry

Jou wens sal waar word as jy … die heerlike jelkussinkies in jou skoene dra wat selfs in sandale onsigbaar pas. Koop dit by Clicks en Dis-Chem. Dit help ook om jou voetsole te poeier om sweet (en voetreuke) te absorbeer.

As jy die slag uitsit, verfris jou voete ongemerk met die volgende oefeninge: krul jou tone op en onder toe, draai jou enkels kloksgewys en terug en buig jou voete op en af sodat jy jou kuitspiere inspan en ontspan.

Ek wens ek lyk heeltyd koel

Jou goeie fee antwoord … Vroue het meer sweetkliertjies as mans. Goeie feë weet dat ’n bietjie (vars) sweet mans manliker laat lyk en ruik – en vroue ongelukkig ook.

Wanneer kos vinnig verbrand, word meer hitte vrygestel. Dit beteken van die grootste sweet-“opwekkers” is drankies en ’n kaasbord – alkohol gemeng met ’n hoop suiker en vet.

Jou wens sal waar word as jy … by ligte en laevetprodukte hou: gegeurde water, vetvrye maaskaas of harde kaas (hoe harder die kaas, hoe minder vet is daarin, maaskaas uitgesonder), crudités en vrugteblokkies. Koffie en koek staan nie ver agter nie: kies ligter jelliebasisterte en ystee.

En nog ’n wenk: elke keer wanneer jy koel lug diep inasem, verloor jy verbasend baie hitte.

Ek wens my oë is helderwit en skitterblink

Jou wens sal waar word as jy … jou moeë oë meer knip. Jy is veronderstel om dit in elk geval elke twee sekondes te doen. Die son, droë lug en soutwater (soos die see) irriteer jou oë gou. Die Goeie Fee weet dat as jy jou oë knip, spoel jou natuurlike trane irritasies weg en keer droogheid.

Min goeie feë vertrou oogdruppels. Sodra die effek daarvan (ná ’n paar uur) uitgewerk is, is jou oë droër as tevore. Maak jou oë vogtig met die palmbakkietegniek. Dit werk so: vryf jou handpalms teen mekaar tot hulle warm is en plaas jou hande vir ’n minuut soos bakkies oor elke oog. Dit skep ’n strelende, klam, warm mikro-omgewing.

Ek wens ek sit nie 5 kilo’s in 5 dae aan nie

Jou wens sal waar word as jy … die geheime beginsel onthou: kilojoules in = kilojoules uit. Balanseer die ekstra snoepgoedjies met ekstra aktiwiteite. Hier’s ’n paar idees:

• Eet nagereg en was dan al die skottelgoed en die vloer. Almal gaan so dankbaar wees terwyl net jy weet hoeveel jy sélf by die werkie baat vind.
• Werk ’n Sondagmiddagete weg met drie halfuur-sessies vinnige oefening soos draf, of ses sessies stadige oefening soos stap of swem.
• Spring twintig minute tou vir ’n sny kaaskoek.

Ek wens ek kan wegkom met knoffel

Jou wens sal waar word as jy … die jongste vars-asem-taktiek probeer: kougom met xylitol. Dié suiker dood werklik mondbakterieë. Jy kan ook chlorofiltablette by jou apteek kry. En vanselfsprekend borsel jy jou tande en tong, vlos en drink baie water?

Ek wens my lippe bly soenbaar

Ek gun jou met graagte dié wens! Die beste nuwe lipstiffies bevat sonskerm – ’n moet in ons klimaat.

As jy een van die ongelukkiges is wat herpeskoorsblare kry, moet jy in die partytjiemaande en tye wanneer jy meer stres as gewoonlik verwag, voorkomend optree:

• Kry ’n lisien-aanvuller by jou apteek wat die virus help onderdruk. Drink elke dag die volle aanbevole dosis.
• Eet ook meer kos met lisien wat die virus help onderdruk, soos melk, soja en aartappels.
• Sluit kos ryk aan arginien uit, soos alle jellies (die meeste yskasterte en jellielekkers ook), neute, ertjies, bone en sjokolade.
• Kyk mooi na jouself: slaap genoeg, en bly uit die son en wind – dit sal jou vel sommer ook plooie spaar.

As jy reeds ’n koorsblaar het, drink ’n pynpil vir die koors en seer en kry by die apteek ’n antivirale middel. En hou moed: tyd genees alle wonde.

Ek wens my hoofpyn verdwyn

Hoofpyn is die gevolg van oorstimulasie – te veel geraas, stres, lig, kos waarop jy reageer, alkohol, ooraktiwiteit, dehidrasie, en so aan.

Jou wens sal waar word as jy … ’n bietjie meer persoonlike ruimte vir jou skep: ’n tydjie om stil te raak; ’n rustige, koel plek; mooi, strelende klanke; ’n koppie egte kamilletee; ’n lekker boek; ’n rustige wandeling in die natuur; of ’n lekker kop-en-nek-massering.

Maar as jy eers hoofpyn het, is dit te laat vir voorkomende stappe soos dié. Drink ’n hoofpynpil voor die pyn te erg word, of probeer die jongste kruiemiddels met siphonochilus-kompleks.

Ek wens ek kan saam eet sonder sooibrand

Goeie feë predik altyd matigheid, maar nou ja …

Jou wens sal waar word as jy …

• Selfs op jou luiste dae oefening doen. Dit help om jou aptyt te beheer en voorkom dat jy eet tot jy oorvol is.
• As jy klaar te veel geëet het, sluit die ete af met ’n happie harde kaas. Dit bevat rennien, ’n ensiem wat vertering aanhelp.
• Gemmertee pleks van sterk koffie is ook ’n geskikte manier om ’n groot ete af te rond.
• As jy klaar sooibrand het, moet jy teensuurmiddels by die apteek gaan haal. Kruiemiddels met sydissel, liquorice, vinkel en kamille ondersteun die lewer.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 day Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 day Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 day Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.