In die eerste episode van die vyfde seisoen van Wie word ’n miljoenêr kon niemand dit regkry om die R1 miljoen-prysgeld los te slaan nie.

Natuurlik is dit die man wat nou al sinomien is met die wêreld se grootste vasvraprogram op kykNET, Rian van Heerden, wat weer die aanbieder is. Hy haal vir Benjamin Franklin, die stigtersvader van Amerika, aan wat gesê het: “An investment in knowledge pays the best interest” en sê dis net so toepaslik op Wie word ’n miljoenêr.
Die eerste vinnigste vingers
Wie van die ses deelnemers gaan vier van Suid-Afrika se hoofstede die vinnigste van wes na oos rangskik? Dis Kaapstad, dan Kimberley, gevolg deur Bloemfontein en Mbombela die verste oos.
Vier van die deelnemers is in die kol, maar dis Nick Grobler wat binne 6.352 sekondes net-net vir Pierre du Plessis klop wat dit binne 6.440 sekondes korrek rangskik het.
Nick (37) is ’n chemiese ingenieur van Johannesburg. Sy lewensmaat van die afgelope 12 jaar, Thea, is in die gehoor om hom te ondersteun. Hy haal die eerste vangnet van R10 000 sonder sukkel en stel sy volgende vangnetvraag op vraag 10 vir R50 000.

So tussendeur vis Rian uit oor Nick se spesiale partytjie-truuk en vra dat hy dit met die gehoor moet deel.
Ja, erken Nick, toe hy vir Wie word ’n miljoenêr ingeskryf het, kon hy die punt van sy neus met sy tong geraak het. Maar daar’s sedertdien ’n bietjie werk aan sy voortand gedoen en hy kry dit nie nou so maklik reg nie.
Met ’n wuiwende “Hallo, Ma, ek’s op TV” druk hy deur en slaag daarin dat sy tong aan sy neuspunt raak, tot groot vermaak van Rian en die gehoor.
Wees eerlik, het jy dit ook so pas probeer?
Die laaste vraag voordat hy sy R50 000-vangnet haal, laat hom sy eerste hulplyn inroep. Hy kies “Bel ’n pêl” met die hoop dat sy pa, Martin Grobler, gaan weet watter stad die gasheerstad vir die Olimpiese Somerspele in 2032 sal wees. Martin raai dat dit Doha moet wees. Maar Nick is onseker en hy vra vir die 50/50-hulplyn. Die korrekte antwoord is Brisbane!
Dis ’n baie verligte man wat weet hy het nou R50 000 in die sak. Daarom waag hy ’n raaiskoot rondom dit wat Napoleon Bonaparte in 1803 aan die VSA verkoop het. Kan jy glo? Dit was Louisiana – en daarmee skuif hy op na R70 000.
Hy span sy laaste hulplyn, die gehoor, in vir hulp met die vraag oor watter akteur die rol van John McClane aangebied moes word in Die Hard omdat hy in die voorvolg-rolprent The Detective gespeel het. 48% stem vir Mel Gibson en 26% stem vir Roger Moore.
Nick besluit om die gehoor se antwoord te aanvaar – dit vir R125 000. Maar dis ’n fout. Genugtig, wie sou kon glo dat dit eintlik Frank Sinatra was! Hy het natuurlik die rol van die hand gewys . . .
Die tweede vinnigste vingers
Getalle moet van hoog na laag rangskik word. Die korrekte orde is 10 000, 200, 42 en 12 – maar die antwoord word bemoeilik omdat dit in woorde en nie syfers verskyn nie. Weer eens is net vier van die deelnemers in die kol, maar die warm stoel gaan deur Pierre du Plessis ingeneem word nadat hy die antwoord binne 6.732 sekondes reg gehad het.
Pierre (65) is ’n batebestuurder van Pretoria en sy broer Willis ondersteun hom vanuit die gehoor. Hy haal die eerste vangnet gemaklik en besluit op vraag 13 vir R250 000. Hy’s hier om te waag, erken hy.

Terwyl Pierre vinnig deur die vrae draf, wil Rian by hom weet hoekom hy so haastig is. “Net so vinnig soos dit. Het jy ’n afspraak na die tyd?” wil hy weet. “Ek moet daai geld gaan belê voor die rand verswak,” kom dit laggend van Pierre.
’n Interessante brokkie nuus duik op. Pierre en ’n vennoot het ’n besigheidsreddingplan opgestel en so vir LM Radio uit ’n benarde posisie gered. “Ons het nou die baba gevang en ons moet hom nou laat werk,” sê hy en bevestig dat hulle twee nou LM Radio besit.
Pierre besluit om sy eerste hulplyn te gebruik. Hy gaan die gehoor vra watter Suid-Afrikaanse seiljagvaarder in 2023 die eerste vrou was wat die Golden Globe-alleenvaart om die wêreld gewen het. Ongelukkig is die meerderheid van die gehoor verkeerd – en dis tyd vir Pierre om die warm sitplek te verlaat. Hy het darem R10 000 om te belê . . .
Die derde vinnigste vingers
Hoe gou kan jy die sterretekens in alfabetiese volgorde rangskik? Skerpioen, Steenbok, Tweeling en dan Waterdraer is die korrekte orde.
Drie deelnemers is in die kol, maar dis Helené Nel wat dit binne 5.462 sekondes reg rangskik. Helené (27) is ’n geoktrooieerde rekenmeester van Kimberley. Manlief Gerrit is daar om haar te ondersteun.

Sy haak vas toe sy gevra word waar die Skedelkus is en besluit om een van haar hulplyne in te span. Sy wil vir die gehoor om hulp vra. 81% van die gehoor kies Namibië en Helené aanvaar hulle antwoord. Dis korrek.
Maar kort voor lank beland sy op die R10 000-vangnet en sy stel haar volgende vangnet op vraag 9 vir R30 000. “Nie baie waaghalsig vanaand nie,” kom dit skertsend van Rian.
Sy span haar “Bel ’n pêl”-hulplyn in toe sy onseker is oor watter deel van die liggaam deur karpale tonnelsindroom aangetas word. Brian Beyers is die pêl – en hy’s ’n dokter. Nadat hy haar vir ’n rukkie in spanning laat wag, stel hy die pols voor. Dis wel die polsgewrig en sy skuif aan na die volgende vraag vir R25 000.
Helené span haar laaste hulplyn, die 50/50-opsie, in vir die antwoord op wat tydens Usain Bolt se wêreldrekord tydens die 2008 Olimpiese Spele gebeur het. Sy moet kies tussen ’n los skoenveter of ’n pet wat afgewaai het. Sy kies die los skoenveter – en dis die regte antwoord.
Sy kon nie die vraag rondom Michael Jackson beantwoord nie, en kies om eerder die R25 000 te vat en uit die spel te tree. Die vraag het gehandel oor Michael wat tydens die skiet van ’n Pepsi-advertensie ernstige brandwonde aan sy kopvel opgedoen het.
Wie word ’n miljoenêr? word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

