In die tweede episode van die vyfde seisoen van Wie word ’n miljoenêr het Nick Grobler, ’n chemiese ingenieur van Johannesburg, die meeste geld tot dusver in sy sak gesteek toe hy met R50 000 huis toe gegaan het.
Rian van Heerden is weer slaggereed om die deelnemers met moeilike vrae te bestook in die wêreld se grootste vasvraprogram op kykNET. Dis beslis makliker om in die gerief van jou eie huis die antwoorde uit te basuin, maar met die kameras en kollig op jou gefokus, kan die senuwees soms lol . . .
Die grootste vraag natuurlik is of iemand vanaand daardie R1-miljoen gaan wen.
Die eerste vinnigste vingers
Om die deelnemers se kennis én vingerspoed op die proef te stel, moet hulle sportbyeenkomste in chronologiese orde binne ’n kalenderjaar rangskik. Die korrekte orde is: Kaapstad-fietstoer, Twee Oseane-ultramarathon, Comrades-marathon en dan die Durban July-perderen.

Renée Swanepoel (Foto: Verskaf/kykNET)
Net een deelnemer is in die kol, en dis Renée Swanepoel (64), ’n pensioenaris van Murraysburg, wat met 9.422 sekondes agter haar naam na die warm stoel koers inslaan. Manlief John is in die gehoor om haar te ondersteun.
Sy draf die eerste vyf vrae in ’n ommesientjie kaf en kan R10 000 in die sak steek. Haar volgende vangnet stel sy op vraag 9 vir R30 000.
Maar voor hulle verder gaan, wil Rian weet waar op deeske aarde Murraysburg geleë is. Renée sê dis in die Wes-Kaap, sowat 42 km van die N1 af, presies halfpad tussen Graaff-Reinet en Victoria-Wes en “dis die dorp met die heel beste mense in die wêreld”.
Met haar volgende vraag oor watter bestanddeel nie deel maak van die tradisionele Engelse nagereg Eton Mess nie, besluit sy om die gehoor se hulp in te roep. 84% van die gehoor is oortuig dat skuimpies nie deel is van die nagereg nie. Tog is Renée nie oortuig nie.
Vir die eerste keer in die reeks word Rian as hulplyn ingespan.
“So, ek het ’n restaurant . . . maar ons poedings is beperk,” terg Rian. Hy stem saam met die gehoor en Renée besluit om dit as haar finale antwoord aan te bied.
Maar genugtig – hulle is almal verkeerd! Dis toe al die tyd sponskoek. En daarmee moet Renée die warm stoel ontruim met ’n heerlike R10 000-meevallertjie.
Die tweede vinnigste vingers
Sou jy die Afrika-lande van noord na suid kon rangskik? Al vyf deelnemers is korrek, maar dis Janus Bezuidenhout, ’n boorling van Bethlehem, wat die orde binne 5.248 sekondes korrek rangskik het: Tunisië, Rwanda, Mosambiek en dan Lesotho. Andrea was vuurwarm op sy hakke met 5.372 sekondes . . .

Janus Bezuidenhout (Foto: Verskaf/kykNET)
Janus (37) is ’n meganiese ingenieur en Rian wil baie gou by hom weet of hy enige vrae oor poedings aan hom gaan stel.
“Nee, nee, nee,” kom dit vinnig van Janus. Sy vrou, Leandi, ondersteun hom vanaand vanuit die gehoor.
Kort voor lank kan Janus ook R10 000 in sy sak steek, ’n mylpaal wat hy vooraf voor gewens het.
Net soos Renée besluit hy ook om konserwatief te speel en sy vangnet op vraag 9 vir R30 000 te stel.
Om vas te stel watter Suid-Afrikaanse eiland ’n Unesco-wêrelderfenisgebied is, besluit Janus om die gehoor as hulplyn in te span. Hy kan nie tussen Marion-eiland en Robbeneiland besluit nie. 82% van die gehoor stem vir Robbeneiland. Gelukkig is hulle hierdie keer in die kol en Janus skuif op na R15 000.
By die agste vraag haak hy egter vas. Watter kossoort se bynaam is “Russiese penisillien” omdat dit as antiseptiese middel op die slagveld tydens die Wêreldoorloë gebruik is? Hy versoek die 50/50-hulplyn en laventel en knoffel bly oor.
Janus besluit om sy “Bel ’n pêl”-hulplyn in te span. Dis sy derde en laaste hulplyn en hy gaan vir sy tannie Christa vra om uit te help. Sonder huiwering kom die antwoord: Knoffel.
Rian vertel die Russe het knoffel glo net so direk op wonde gebruik as ontsmettingsmiddel en ook vir verkoues en om koors te breek. Dan merk hy skalks op dat dit ook bekend staan as “groente-viagra” maar hy weet nie waar hulle dit aangewend het nie . . .
Maar die “P” in die woord ChatGPT knikker hom uit en sonder enige verdere hulplyne besluit Janus om die aftog te blaas met R25 000 in die sak. Terloops, die korrekte antwoord was “Pre-trained” (Chat Generative Pre-trained Transformer).
Die derde vinnigste vingers
Sjoe, wat ’n vraag. Deelnemers moet vlugrampe in die korrekte orde rangskik. Wie onthou die Hindenburg-blimp? Dan is dit die Suid-Afrikaanse Lugdiens se rampvlug, die Helderberg, gevolg deur die 11 September-terreuraanvalle op New York se Twin Towers en meer onlangs die Maleisiese vlug MH370 wat van die radar af verdwyn het.

Renier Benson (Foto: Verskaf/kykNET)
Drie van die oorblywende vier spelers is in die kol, maar dis Renier Benson wat binne 6.102 sekondes die voortou geneem het. Renier (30) is ’n onderwyser van Germiston en sy kêrel van die afgelope twee jaar, Marko, ondersteun hom vanaand. Hy antwoord een na die ander vraag sonder enige twyfel korrek en hy haal kort voor lank die R10 000-vangnet.
“Ek gaan die res van die skape volg en ook die net op R30 000 (vraag 9) stel,” besluit Renier.
So tussen die vrae deur noem Rian aan die gehoor dat Renier en Marko tydens die vorige seisoen in die gehoor was.
“En toe dink julle ‘hoe wonderlik, hierdie aanbieder . . . ons moet hom face to face ontmoet’,” vertel Rian tot groot vermaak van almal.
Renier sê hy kyk beide die Engelse en Afrikaanse reekse van Wie word ’n miljoenêr en hy was vasberade om ’n deelnemer te word nadat hulle in die gehoor was. Dis vir hom soos ’n droom wat waar geword het.
Sy vangnet-vraag betrap hom onkant. Wie van Bob Dylan, Elton John, Bruce Springsteen en Rod Stewart het nog nooit in Suid-Afrika opgetree nie?
“As ’n man met radio-ervaring . . .” mik hy na Rian as sy eerste hulplyn.
Rian neig na Bruce Springsteen, maar is hy reg? Renier besluit om liefs ook sy 50/50-hulplyn in te span. Bob Dylan en Elton John bly oor. Gaan hy sy finale hulplyn inspan? Beslis – en dit gaan die gehoor wees.
77% van die gehoor stem vir Bob Dylan. Renier besluit om na hulle te luister – en met sy laaste hulplyn beland hy op sy vangnet van R30 000. Die volgende vraag oor die 10de hoogste piek in die wêreld stuit hom egter net daar. Annapurna is in Nepal en nie Indië soos wat hy geraai het nie.
Benewens die R30 000, is daar darem ook die kans op ’n foto saam met Rian wat vir Renier baie gelukkig stem.
Wie word ’n miljoenêr? word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: De Klerk Oelofse maak sy sepie-debuut in Suidooster

